Skip to main content
US-musiekgraduatus mik na New York

US-musiekgraduatus mik na New York

Nicolette Dirk
15 Julie 2021

​’n Musiekmeester van die Universiteit Stellenbosch (US), Christopher Njapha, is ’n sprekende voorbeeld daarvan dat harde werk vrugte afwerp. Njapha, wat in 2020 Sy BMus-graad aan die US behaal het onder leiding van Babette Roosenschoon van die US se Musiekdepartement, is aanvaar om by die Manhattan Skool of Music (MSM) in New York te gaan studeer.  

Die feit dat die Suid-Afrikaanse jazz-legende, Hugh Masekela, ook klassieke trompet by die MSM gestudeer het, dien as verdere inspirasie vir Njapha om by hierdie gesaghebbende skool te gaan studeer. “Dit laat my so goed voel om te weet dat Hugh Masekela – iemand wat soos ek lyk – musiek by hierdie tipe instellings beoefen het. Hy was ’n baanbreker vir so baie Suid-Afrikaanse musikante, want hy het aan ons bewys dat dit moontlik is om ’n naam vir jouself te maak,” sê Njapha. Njapha sê hy was reeds gedurende sy kinderjare altyd “’n bietjie meer as die ander” lief vir musiek, maar dit was toe hy die tjello begin speel het dat hy sy passie om ’n musiekinstrument te bespeel, ontdek het. Ironies genoeg het hy die tjello eers “redelik laat in sy lewe” begin bespeel, in vergelyking met die viool en die klavier. Njapha was 17 en in matriek – ’n jaar voordat hy by die US begin studeer het – toe hy eers die tjello begin bespeel het. Vóór dit het hy viool en klavier gespeel, was hy lid van sy kerkkoor in sy tuisdorp in Durban en was hy selfs lid van die KwaZulu-Natalse jeugorkes. “Toe ek eers die tjello begin speel, het alles begin reg loop vir my. Wanneer jy die regte paadjie vir jouself kies, begin dinge baie vinnig gebeur,” sê hy.Hy het as kind na die Israeliese tjellis, Mischa Maiksky op afgelaaide Youtube-videos gekyk en dit was hier waar hy ’n werklike waardering van die klank van die tjello ontwikkel het. “Wanneer ek gekyk het hoe Maisky hierdie Bach-tjellosuite No. 1 in G-majeur speel, was ek in vervoering. Ek sou net daar sit en die klank inneem – betower en verkwik deur hierdie instrument wat my tuis laat voel het,” vertel hy.Die geleentheid om aan die MSM te gaan studeer, is vir Njapha die hoogtepunt van jare lange harde werk. “Om die tjello te bespeel, was ’n intense en gefokusde reis wat baie harde werk geverg het. Nou wil ek vir myself ’n lewe in musiek in Manhattan gaan skep en as inspirasie vir Suid-Afrikaanse kinders dien wat ook daarvan droom musikante te word. Jong kunstenaars het rolmodelle nodig om vir hulle te wys wat dit beteken om ’n uitvoerende kunstenaar van hoogstaande gehalte te wees en indien hulle na uitnemendheid strewe, kan hulle hul drome verwesenlik,” sê Njapha. Ondanks die feit dat hy as student by die MSM aanvaar is, benodig Njapha $46 000 (ongeveer R657 152) om sy kostes te dek om in September in die Groot Appel te gaan woon. Indien jy Njapha wil help om sy droom te finansier, gaan na: https://www.airfunding.net/pr…