
US berei voor om tweede konsepweergawe in Julie 2021 uit te reik
2 Julie 2021
Die hersiening van die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalbeleid (2016) het teen einde Junie 2021 die halfpadmerk bereik met die voltooiing van die eerste omvattende konsultasierondte vir die eerste konsepweergawe van die hersiene beleid. Die US se voorbereidings vir die bekendstelling van die tweede konsepweergawe van die hersiene Taalbeleid (2016) in laat-Julie 2021 is goed op dreef.
Sedert die eerste konsepweergawe in Maart 2021 bekend gestel is, het eksterne belangstellendes, personeel en studente die geleentheid gehad om gedurende die openbare deelname insette te lewer. Daarna het interne konsultasie met verskillende groepe, komitees, fakulteitsrade en statutêre liggame gevolg, ook met die Institusionele Forum, Senaat en Raad.
AFRIKAANS AS INHEEMSE TAAL
By sy vergadering op 21 Junie 2021 het die Raad die volgende mosie met betrekking tot die Departement Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se klassifikasie van inheemse tale aanvaar: “Die US het met kommer kennis geneem van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se klassifikasie [van inheemse tale] in die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020). Die US steun die siening ten sterkste dat Afrikaans en die Khoi- en San-tale inheemse tale is. Die Raad versoek die US-bestuur om gepaste stappe te doen om met die DHOO in gesprek te tree om hierdie kwessie te hanteer."
In sy omvattende terugvoer op die DHOO se konsep Taalbeleid vir Hoër Onderwys (2017), het die Universiteit Stellenbosch die standpunt ondersteun dat Afrikaans 'n inheemse taal van Suid-Afrika is. Universiteite het nie die geleentheid gekry om op die finale weergawe van die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020) kommentaar te lewer nie. Die US het ook die saak onder die aandag van Universiteite Suid-Afrika (USAf) gebring aangesien dit nie bekend is of enige van die ander Suid-Afrikaanse universiteite al die geleentheid gehad het om die praktiese en koste-implikasies van die nuwe beleidsraamwerk te kon oorweeg nie.
KONTEKSDOKUMENT
Gedurende die eerste openbare deelname het 'n aantal deelnemers vir toegang gevra tot agtergrondinligting en statistiek wat die Taalbeleid-hersieningstaakspan gedurende die skryf van die eerste konsepweergawe oorweeg het. Die Konteksdokument vir die hersiening van die Taalbeleid (2016) verskaf 'n breë oorsig van die proses en tydslyn; die internasionale en nasionale konteks van die hoër onderwys, die US-konteks; die implementeringskoste van verskillende taalscenarios en die siening van die Rektoraat oor meertaligheid en die US se Taalbeleid (2016). Die konteksdokument bevat ook skakels na die relevante stawende dokumente.
TWEEDE KANS VIR KOMMENTAAR
Interne en eksterne belangegroepe word uitgenooi om gedurende die tweede openbare deelname van laat-Julie tot middel Augustus 2021 insette te lewer, gevolg deur verdere interne konsultasie. Vorderingsverslae, met geleentheid vir kommentaar, sal in September by die geskeduleerde vergaderings van die Institusionele Forum, Senaat en Raad ter tafel gelê word. Die derde en finale konsepweergawe van die hersiene Taalbeleid (2016) sal op 2 Desember 2021 vir goedkeuring by die raadsvergadering dien.