Skip to main content
​Skok en woede oor moord van US-werker

​Skok en woede oor moord van US-werker

Corporate Communication Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
18 September 2019

​“Ons is geskok en hartseer. Die feit dat hierdie moord gepleeg is te midde van die huidige fokus op geslagsgebaseerde geweld in ons land, maak ons woede nog erger,” het die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), prof Wim de Villiers, in reaksie op die nuus oor die moord op me Clarissa Lindoor gesê. Sy is Saterdagnag (14 September 2019) op ’n plaas buite Stellenbosch vermoor.

Me Lindoor van Cloetesville het by die Universiteit gewerk vir ’n maatskappy wat skoonmaakdienste by studentekoshuise op die Stellenbosch-kampus verskaf. Haar vriend is in verband met die voorval in hegtenis geneem en vir moord aangekla.

“Ons betuig ons diepe medelye met me Lindoor se familie en vriende. Haar dood moenie tevergeefs wees nie – dit moet ons aanspoor om die stryd teen geslagsgebaseerde geweld te verskerp,” het prof De Villiers gesê.

Die Universiteit was reeds in aanraking met me Lindoor se familie en sal ’n finansiële bydrae tot haar begrafniskoste maak.