Skip to main content
Simposium verken uitwerking van COVID-19 op sosiale impak

Simposium verken uitwerking van COVID-19 op sosiale impak

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
04 September 2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling vir Sosiale Impak het pas sy jaarlikse Sosiale Impak-simposium aanlyn aangebied en het personeel en studente genooi om saam met hulle te kyk na die uitwerking wat COVID-19 op sosiale impak plaaslik en in die res van die wêreld gehad het.

Die US se Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie en die programdirekteur by die simposium, dr Leslie van Rooi, het sommige van die belangrikste sosiale impakprojekte waarby die US deur die loop van die pandemie betrokke was, uitgelig.

“Hoewel die pandemie ons voor baie uitdagings, ongekende ervarings, 'n gevoel van verlies en pyn te staan gebring het, is ek veral beïndruk met die werk wat die afgelope paar maande binne en deur ons Universiteit in direkte vennootskap en samewerking met talle ander vennote gedoen is," het Van Rooi gesê.

Een van die US se groot sosiale impak-samewerkingsprojekte was die StellenboschUnite-hulpaksiegroep wat met die aanvang van die COVID-19-pandemie tot stand gekom het om mense te help wat deur die situasie geraak is. Die ander StellenboschUnite-vennote is die Stellenbosch Munisipaliteit, Visit Stellenbosch (toerisme-organisasie), SCAN (Stellenbosch Civil Advocacy Network wat die nie-winsgewende organisasies verteenwoordig) en die Groter Stellenbosch Ontwikkelingstrust (administrateurs).

Tot dusver het Stellenbosch meer as R1,6 miljoen se finansiële skenkings van die US, individue en sakeondernemings ontvang wat gehelp het om deur middel van voedselpakkies kos aan sowat 16 000 mense verskaf.

Ernestine Meyer-Adams, Direkteur: Afdeling vir Sosiale Impak (ASI) wat die deelnemers by die simposium verwelkom het, het ook beklemtoon hoe die pandemie Suid-Afrikaners en instellings soos die US hul waardes en prioriteite opnuut in oënskou laat neem het.

Sy het gesê die ASI sal vorentoe “groter sosiale impak"-inisiatiewe moet onderneem en die pandemie kan ook as 'n oorgang gebruik word om kwessies oor sosiale geregtigheid in plaaslike gemeenskappe aan te spreek.

“Hoewel die Universiteit Stellenbosch geleidelik besig is om die foute van die verlede reg te stel, lê daar nog 'n lang pad voor. Sosiale impak sal ook binne hierdie konteks hervorm moet word namate die instelling van 'n sterk tradisie van gemeenskapsinteraksie daarna beweeg om sosiale geregtigheid deur sy werk op die gebied van sosiale impak te laat geskied," het Meyer-Adams gesê.

Die simposium het uit vier sessies bestaan waar sprekers die lesse en insigte wat hulle deur hul COVID-19-ervarings geleer het, met die gehoor kon deel. Onder die sprekers was dr Nico Elema, wat oor die bydrae van Afrika-samewerking tot sosiale impak tydens die COVID-19-pandemie gepraat het. Prof Lana van Niekerk se aanbieding het gehandel oor “Werk tydens COVID-19: Rehabilitasie-klinici se persoonlike en professionele besinning". Dr Marianne Mckay se onderwerp was “Die uitdaging van verandering: Aanlyn-opleiding van vennoot-kollege se studente in wynmaak" en dr Pierre Viviers het meer vertel oor die uitwerking wat die COVID-19-pandemie op die gesondheid en welstand van 'n kampus-gemeenskap gehad het.

Die sprekers het almal soortgelyke probleme as gevolg van die pandemie ondervind, en het die belangrike rol van sosiale impak-inisiatiewe in gemeenskappe wat die grootste nood het, beklemtoon. Viviers het die US geloof vir sy “vinnige besluitneming" by die aanvang van die pandemie en het gesê die suksesvolle werk van die US se Kampusgesondheidsdiens sou nie moontlik gewees het sonder die spanpoging van sy personeel nie. 

Van Niekerk het in haar aanbieding die belangrikheid van die gebruik van rehabilitasie-klinikusse – veral gedurende 'n wêreldwye pandemie – beklemtoon. Haar navorsing het getoon dat baie klinikusse uitgesluit gevoel het tydens die COVID-19-pandemie, wat sedertdien daartoe gelei het dat ander kwessies rakende sosiale impak veral in kwesbare gemeenskappe kop uit gesteek het.

Volgens Elema is bestaan sosiale impak uit multidimensionele aspekte en is “samewerking en innovasie" belangrik om te help om kwessies aan te spreek.

Deur die jare het die US stewige vennootskappe met ander universiteite in Afrika gebou en Elema glo die US kan nog meer doen om gemeenskappe en vennoot-universiteite op die vasteland te help.

Om by die US se sosiale impakprojekte betrokke te raak of vir meer inligting, klik hier. ​