
'n Dag in die lewe van: Njabulo Maphumulo
Vir Njabulo Maphumulo is studentesteun en -ontwikkeling “nie net 'n werk nie, maar 'n roeping". As die TygerMaties-klusterkoördineerder op Tygerbergkampus, is Maphumulo verantwoordelik vir residensiële opvoeding in studentegemeenskappe.
In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hul rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Maphumulo het ons meer vertel van die werk wat hy by die Universiteit doen.
Wat is jou rol by die US?
As klusterkoördineerder, is dit my rol om studente buite die klaskamer te ondersteun. Dít behels skakeling met studente en hulle leiers, die ontwerp van ko-kurrikulêre programme, beleidsimplementering, en veral ook die skep van 'n bevorderlike ruimte vir ontwikkeling.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?
Terwyl studente hulle voete in die tersiêre akademiese lewe vind, kom hulle voor verskeie uitdagings te staan. My tipiese dag gaan daaroor om na oplossings vir hierdie uitdagings te soek. Ek het ook nie gewone werksure nie, want studentesteun en -ontwikkeling is nie net 'n werk nie, maar 'n roeping. Ek het 'n oopdeurbeleid, so studente kan my in enige stadium om bystand nader.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?
Voordat ek by die US begin werk het, het ek in verskeie beheer-, bestuur- en leierskapstrukture gedien. Danksy my passie vir leierskapsontwikkeling het ek verskeie leiersposte in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap en die internasionale gemeenskap beklee. My rol as voormalige studenteleier en -aktivis het ook 'n belangrike rol in my ontwikkeling gespeel.
Ek het 'n hele paar kwalifikasies aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal. Dít sluit in 'n Hoër Sertifikaat in Ekonomiese Ontwikkeling (cum laude), 'n Gevorderde Diploma in Publieke Administrasie, sowel as 'n baccalaureus-, honneurs- en magistergraad in Publieke Administrasie. Ek het op Publieke Administrasie as vakgebied besluit as gevolg van my belangstelling in openbare beleid. Ek spesialiseer in studentefinansiering teen die agtergrond van die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente (NSFAS).
Ek het my in Julie 2019 by die US aangesluit. Terwyl ek in die verwelkomingstydperk op kampus rondgestap en met studente en personeel gesels het, ek het die gevoel gekry dat Maties die plek is om te wees.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Die US bied my die geleentheid om met studente te werk en tot 'n holistiese en transformerende studente-ervaring by te dra. Wat ek die meeste geniet, is om met studente en personeel te gesels om meer te leer oor die kwessies wat hulle raak, en om hulle aan te spoor om oplossings te kry om saam na 'n gemeenskaplike visie te streef.
Ek het nog nooit in my loopbaan 'n instelling teëgekom wat so deursigtig is soos die US, en waar daar verskeie strukture is om kwessies te bespreek en te ondersoek nie. As gevolg daarvan het ek my rol uit die staanspoor geniet.
Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?
Die studente hou my gemotiveerd. Wanneer ek ook al voel die hoëronderwysomgewing word nou baie uitdagend, dink ek aan die studente wat aan die US kom studeer om hulleself toe te rus om 'n positiewe bydrae tot die samelewing te lewer.
My passie vir studente-ontwikkeling is 'n verdere motiveerder. Ek kon daarin slaag om 'n hele paar benaderings te ontwikkel om te sorg dat ons studente deur hierdie moeilike tyd ondersteun word.
Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag/iets opwindend waarvan min mense weet?
Min mense weet dat ek baie avontuurlustig is en aktiwiteite geniet wat die adrenalien laat pomp, soos om te gaan stap en aan marathons deel te neem.