
'n Dag in die lewe van: Jethro Georgiades
Jethro Georgiades geniet dit om met studente te werk, want hulle motiveer hom om aanpasbaar te bly en ontvanklik te wees vir nuwe werkswyses. Hy werk in die Sentrum vir Studentegemeenskappe as koördineerder van die Privaatstudenteorganisasie (PSO), 'n struktuur wat steun bied aan US-studente wat in privaat huisvesting woon.
In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Georgiades het ons vrae oor 'n dag in sy lewe by die US beantwoord.
Wat is jou rol by die US?
Ek koördineer vyf van die PSO-gemeenskappe en bring baie tyd saam met hierdie studente deur. Ons bestee ook heelwat tyd en energie daaraan om steun en geleenthede vir pendelstudente op én weg van ons verskillende kampusse uit te brei.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?
Om met studente te werk beteken dat jy heeltyd aanpasbaar moet bly en ontvanklik moet wees vir nuwe werkswyses. Ons werk met 'n wye verskeidenheid interne en eksterne belanghebbendes om pendelstudente groter toegang tot geleenthede te bied. Dít strek van beplanning vir meer infrastruktuur en fasiliteite soos nawe en studentesentrums, tot die versekering van beter mobiliteit op en om ons kampusse, soos parkeerterreine en pendeldienste. Ons bied studente selfs toegang tot ontwikkelingsgeleenthede om te sorg dat hulle die werkswêreld betree met die sagte vaardighede wat hulle nodig het om te floreer.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?
Ek het van 2010 tot 2014 aan die US studeer. In dié tyd het ek by studenteleierskap betrokke geraak. In my jaar as prim van my PSO het ek insig verkry in die institusionele werk verbonde aan studenteleierskap en gemeenskapsbou by die US. Daarna het ek vir twee jaar as programkoördineerder by die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling gewerk. Die PSO-kantoor is in 2016 in Studentesake se Sentrum vir Studentegemeenskappe geskep, en ek's toe aangestel.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek hou nie van eentonigheid en herhaling nie. Die aard van my werk en die ondersteuning van my lynbestuurder en direkteur stel my in staat om my persoonlikheid en idees na my werk te bring. Ons afdeling is 'n positiewe ruimte, waar kreatiwiteit aangemoedig en ondersteun word. Ek werk nou al vyf jaar by die US, maar ek ontmoet steeds kollegas van afdelings wat ek nooit geweet het bestaan nie. Dít beteken ons werk bly opwindend, want ek kry die geleentheid om met mense saam te werk wat ongelooflike goed op soveel verskillende terreine doen. Boonop werk ek met soveel diverse studente. Baie van die studente is sulke inspirerende mense wat ons gemotiveerd en op ons tone hou, en by wie ons baie leer. Hulle energie is aansteeklik en inspireer my wanneer dinge moeilik raak.
Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?
Juis omdat ek weet dat die pandemie baie mense se lewens ingrypend verander het, voel ek ongelooflik geseënd. My familie is nog tot dusver gesond, ek word goed ondersteun by die werk, en het selfs in dié tyd besef dat ons heelwat van ons werk na die virtuele ruimte kan verskuif. Ons het vir lank daaroor gepraat dat sekere aspekte van ons werk doeltreffender sal wees in 'n virtuele ruimte, maar het nooit so ver gekom om dit te doen nie. In samewerking met personeel en studente het ons egter in 2020 'n aantal inisiatiewe van stapel gestuur wat goed gewerk het en nou 'n belangrike deel is van hoe ons dinge doen. 'n Hibridiese model stel ons ook in staat om meer inklusief te wees waar tyd en afstand ons voorheen aan bande gelê het.
Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag/iets opwindend waarvan min mense weet?
Ek is in Siprus gebore en het 'n Sipriese pa en 'n Suid-Afrikaanse ma. Ek is gelukkig dat ek in my grootwordjare albei lande kon ervaar, maar woon sedert agtjarige ouderdom in Suid-Afrika. Ek is 'n volslae seeverslaafde en is gefassineer deur enigiets wat met die see te doen het. My stokperdjies is branderplankry, skubaduik, spieshengel, vryduik, en om sommer net op die strand te wees. Ek is ook die voorsitter van die Maties Onderwaterklub, wat 'n ongelooflike organisasie is. Dis nie net 'n vyfsterskubasentrum van die Professionele Vereniging vir Duikinstrukteurs (PADI) nie, maar bied ook geleenthede vir vryduik, spieshengel, en om aan programme vir seebewaring en -bewusmaking deel te neem.