Skip to main content
'n Dag in die lewe van: Adwoa Opoku-Nyarko

'n Dag in die lewe van: Adwoa Opoku-Nyarko

Elbie Els
20 Mei 2021

​Adwoa Opoku-Nyarko glo in die transformerende krag van die onderwys en is dankbaar om vir 'n opvoedkundige instelling te kan werk. Sy bestuur die korporatiewe handelsmerk en openbare betrekkinge by die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB).

In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Opoku-Nyarko het ons meer oor haar verantwoordelikhede by die US vertel.

Wat is jou rol by die US?

My rol sluit in om veldtogte te implementeer wat sorgvuldig ontwerp is om ons teikengehore te bereik. Om dít behoorlik te doen verg heelwat dinkwerk en inspanning. Ek moet 'n aansienlike deel van my tyd daaraan wy om geïntegreerde en doeltreffende handelsmerkveldtogte uit te dink en te beplan.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

'n Tipiese dag by die werk sluit verskeie virtuele vergaderings met kollegas in om met mekaar in verbinding te bly en te sorg dat ons op koers is met wat ons wil bereik. Ek maak ook gereeld kontak met belanghebbendes oor 'n breër front om te sorg dat ons, uit 'n handelsmerkoogpunt, alle fasette van die Bestuurskool weergee op 'n manier wat die instelling se holistiese mandaat weerspieël. Geleenthede is 'n kernkomponent van ons veldtogte, en ek bestee nogal baie tyd daaraan om seker te maak dat dit suksesvol verloop. En natuurlik moet ek elke dag tyd opsysit om e-pos te lees en te stuur!

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei? 

Ek is al geruime tyd deel van die US-familie en het ál my studievlakke by Stellenbosch voltooi. Ek is passievol oor die US-handelsmerk en het my bemarkingsloopbaan by USB Bestuursontwikkeling begin, waar ek altesaam vyf jaar op die gebied van handelsmerkbestuur en kliënte-ervaring gewerk het. Ek het vanjaar met my huidige rol by die USB begin.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek geniet die verskeidenheid wat my rol bied – elke dag is uniek. Ek is ook mal daaroor dat ek vir 'n handelsmerk werk wat ek respekteer en in glo. Ek is 'n groot voorstander van die transformerende krag van die onderwys en is so dankbaar dat ek vir 'n instelling kan werk wat tot die saak van opvoeding verbind is.

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

Wat my motiveer, is dat daar altyd geleenthede is om te vernuwe en te ontwikkel – dít het ek verlede jaar geleer. Wanneer ook al ek nou voor 'n krisis te staan kom, gaan sit ek nie in sak en as nie, want ek weet die antwoord lê heel dikwels daarin om aan te hou beweeg eerder as om te stop. Om gereeld met geliefdes in aanraking te kom gee my ook nuwe krag.

Vertel ons iets oor jouself wat min mense sal verwag/iets opwindend wat min mense van jou weet?

Ek geniet doen-dit-self-projekte – soms werk dit perfek uit … ander kere moet ek die kenners se hulp inroep om my te red!​