
Korporatiewe Kommunikasie kry nuwe naam
Saam met die aanstelling van 'n nuwe senior direkteur aan die begin van Augustus 2020 het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie 'n naamsverandering ondergaan en nog 'n funksionele eenheid bygekry.
Me Christelle Feyt is na 'n proses van direkte werwing as Senior Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking aangestel. Studentewerwing en Loopbaanvoorligting is ook by die afdeling ingesluit. Die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking sal studentewerwing vir alle studievlakke (voorgraads, nagraads en internasionaal) konsolideer saam met sy kommunikasie- en bemarkingsfunksie.
Die vergrote afdeling bly binne die verantwoordelikheidsentrum (VS) vir Strategie en Internasionalisering. Korporatiewe Kommunikasie is in April 2019 na dié VS oorgeplaas.
Voordat me Feyt haar in 2013 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit het, het sy 12 jaar ervaring in hoëronderwysbemarking aan die Nelson Mandela-universiteit opgedoen, waar sy die hoof van bemarking en studentewerwing was.
“Die Universiteit Stellenbosch word geag as een van die uitnemende universiteite in Suid-Afrika en word in die internasionale hoëronderwysarena erken vir uitsonderlike navorsingsuitsette," sê me Feyt. “Dit is egter waar dat die reputasie van die universiteit ook merkers dra van die tragiese politieke verlede van uitsluiting in hierdie land. Dit is daarom van uiterse belang dat die US nou en in die toekoms, op impak fokus wat werklik ʼn verskil gaan maak ten opsigte van regstelling en versoening, en dat ons sodanig ons reputasie en posisionering as ʼn eerstekeuse-universiteit (first choice university) rondom dit bou. Die doel van korporatiewe kommunikasie en bemarking is juis om die bewyse van uitlewing van ons nuwe visie en missie, wêreldwyd te verkondig."