
Discovery-toekennings bevoordeel mediese vennootskap
Die vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en die Dr Harry Surtie-hospitaal (DHSH) in die Noord-Kaap gaan aansienlik baat vind by vanjaar se Discovery Stigting-toekennings aan etlike ontvangers met bande met die FGGW.
Die Discovery-stigting is in 2006 gestig om in mediese spesialisopleiding te belê en om spesialiste in die openbare gesondheidsektor te help behou. Die waarde van die toekennings het vanjaar R24,5 miljoen bedra.
DHSH, in Upington, lewer ʼn diens aan ʼn area wat groter as talle klein lande is en huisves een van die FGGW se landelike kliniese skole, waar sommige finalejaar-studente oor die gesondheidsberoepe-spektrum heen opgelei word.
Volgens prof Ian Couper, Direkteur van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid en professor in Landelike Gesondheid in die FGGW se Departement Globale Gesondheid, behels die vennootskap met die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid en DHSH “samewerking met dieselfde visie, naamlik beter gesondheid vir inwoners van die Noord-Kaap.
“Een komponent is die opleiding van finalejaar-studente in Upington, gegrond op goeie bewyse dat die opleiding van studente in ʼn bepaalde konteks die waarskynlikheid vergroot dat hulle in so ʼn omgewing sal werk wanneer hulle gekwalifiseer het. Ons hoop om hierdie opleiding in die toekoms na nagraadse studente uit te brei. Die Fakulteit wil egter ook die ontwikkeling van kliniese dienste deur uitreiking deur spesialiste ondersteun," sê Couper.
Landelike Institusionele Toekenning
Dr Brad Wentzel, ʼn pediatriese spesialis by DHSH en een van die dokters by die landelike kliniese skool, het een van vyf Discovery Foundation- Landelike Institusionele Toekennings ontvang. Dit het ten doel om meer mediese kundigheid na areas met min hulpbronne te bring. Volgens Wentzel is groot afstande nie die streek se enigste probleem nie: In die verlede is gesukkel om die dienste van spesialiste te werf en te behou, wat die vlak van sorg aan pasiënte belemmer het.
Wentzel het die toekenning ontvang vir ʼn projek wat hy begin het om gesondheidsorgwerkers in verafgeleë streke van die Noord-Kaap toegang tot spesialiste se raad en steun deur tegnologie te bied, waardeur gesondheidsorg van gehalte aan pasiënte in dorpe so ver soos Springbok en Calvinia gebied kan word.
Daar is minder as 3 spesialiste per 100 000 mense in die Noord-Kaap, vergeleke met 33 per 100 000 mense in die Wes-Kaap. Wentzel meen tegnologie sal dienslewering, onderwys en leer in openbare gesondheidsorg versterk.
“Ons sal gesondheidsorgwerkers met diagnoses en prosedures kan help deur gebruik te maak van hoёgehalte-videokameras, satellietverbindings, MTN- en Vodacom-netwerkdekking, of wat ons ook al beskikbaar het. As dit eers opgestel is, sal afstand nie meer ʼn hindernis vir die verskaffing van kundige sorg wees nie," verduidelik hy.
Ofskoon daar geen plaasvervanger vir ʼn kliniese ondersoek is nie, sal tegnologie gesondheidsorgwerkers met mekaar verbind en broodnodige toegang tot hulp en inligting verskaf.
“Ons hoop personeel sal die hospitaal meer aantreklik vind, dat werwing en die behoud van personeel sal verbeter, dat die gehalte van sorg deur die ontwikkeling van ʼn meer akademiese omgewing sal verbeter, asook dat studente dit sal oorweeg om na Upington en ander Noord-Kaapse dorpe terug te keer as hulle begin werk.
“Die Discovery-toekenning sal steun aan DHSH-klinici deur spesialiste van die Tygerberg-hospitaal en ander FGGW-departemente fasiliteer en die hospitaal help om ʼn opwindende werkomgewing met ʼn leerkultuur en bewysgebaseerde sorg te word.
“Plaaslike dokters sal opgelei word en spesialiste of senior klinici kan na omringende hospitale uitreik, waardeur sorg in die hele streek sal verbeter."
Uitgelese besoekerstoekennings
Bogenoemde ideaal sal bevorder word danksy die Discovery-stigting se Uitgelese Besoekerstoekennings aan twee spesialiste, drs Errol Visser en Jonathan Pons. Hierdie toekennings het ten doel om instellings se kapasiteit te vergroot en institusionele vennootskappe in landelike gebiede te rugsteun deur ondersteuning aan spesialiste om jong dokters in hospitale met min hulpbronne op te lei en te mentor.
Volgens Couper is een van die FGGW se doelwitte die ontwikkeling van kliniese dienste deur uitreiking deur spesialiste te ondersteun. “Ons is derhalwe verheug oor die twee toekennings, met die steun van Ukwanda as die toekenningsbestuurder, wat in die behoeftes van ons Upington-kollegas sal voldoen en wat die ontwikkeling van ʼn oftalmologiese chirurgie-diens en die verbetering van noodsorg sal ondersteun."
Pons bied tans die enigste oftalmologiese diens in die hele Eswatini aan. Die toekenning sal hom in staat stel om DHSH gereeld te besoek om oftalmologiese sorg te verbeter, die agterstand aan te pak van pasiënte wat vir lewensveranderende chirurgie wag, asook opleiding en steun aan plaaslike personeel te bied.
DHSH maak gebruik van ʼn oftalmologies-opgeleide verpleegkundige om pasiënte te assesseer en konsulteer met die Oftalmologie-departement by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley, 400 km van Upington. Daar is byvoorbeeld tans sowat 500 pasiënte wat desperaat katarakchirurgie nodig het.
Die Discovery-stigting se toekenning sal Pons in staat stel om DHSH twee-maandeliks vir drie dae op ʼn keer te besoek om pasiënte in die oogkliniek te sien en opleiding en steun aan verpleegpersoneel te bied; agterstallige operasies uit te voer; en operasies vir toekomstige besoeke te assesseer en beplan. Dit sal onder meer beter sorg vir plaaslike en verwysde pasiënte meebring en die vaardighede van die verpleegkundiges in die oogkliniek verbeter.
Die toekenning vir Visser, ʼn konsultant-noodgeneeskundespesialis en Ukwanda-lektor, sal hom in staat stel om die noodgevalle-departement te herstruktureer en sorg deur middel van die opleiding en ontwikkeling van personeel te verbeter.
DHSH se noodgevallesentrum verskaf sorg aan Upington, waar daar geen distrikshospitale is nie en ontvang verwysings van 4 gesondheidsentrums en 20 klinieke. Dit is ook die ontvangssentrum vir noodsorg vir die hele westelike deel van die Noord-Kaap. Dit beskik oor ʼn noodeenheid met 12 beddens en het ʼn maandelikse omset van tot 2 500 pasiënte.
Die hospitaal beskik nie oor ʼn noodgeneeskundespesialis nie en talle klagtes is al van lede van die publiek ontvang. Visser, ʼn ervare noodgeneeskunde-spesialis wat betrokke was by die vestiging van ʼn hele paar noodgeneeskundesentrums in private en openbare hospitale, is in 2019 deur die FGGW gefinansier om DHSH te besoek om die situasie te assesseer. Hy het ʼn lang lys aanbevelings gedoen, onder meer voortgesette ondersteuning van die proses deur hom of ʼn ander noodgeneesheer.
Die Discovery-toekenning sal sulke besoeke en die fasilitering van die nodige veranderinge moontlik maak, waarvan die opleiding van personeel en steun vir die herstrukturering van die funksionering van die departement die sleutel is. Dit sal Visser onder meer in staat stel om DHSH twee-maandeliks vir drie dae op ʼn keer te besoek om pasiënte saam met die bestaande mediese personeel te konsulteer en opleiding te bied; gevallelêers te hersien en dit te bespreek met die mediese personeel wat betrokke was; geakkrediteerde seminare vir DHSH-personeel aan te bied, en gereelde ondersteuning deur elektroniese interaksie met die plaaslike span te bied.
Dit sal die noodgeneeskundedienste en die funksionering van die noodsentrum verbeter, die sentrum se mortaliteitskoers sal daal en die kennis en vaardighede van dokters en verpleegkundiges sal verbeter.
Chirurgiese dienste
DHSH sal ook baat by die Uitgelese Besoekerstoekenning aan prof Kathryn Chu, Direkteur van die FGGW se Sentrum vir Globale Chirurgie.
Sy het in reaksie op haar toekenning gesê “die US streef daarna om ʼn leier in kliniese uitnemendheid te wees en hopelik verbeter ons mense se lewens deur betrokke te wees by ʼn vennootskap soos die een met DHSH".
Sy het DHSH se Chirurgiedepartement in 2019 besoek om FGGW-studente te onderrig wat hul landelike opleiding daar ondergaan. Sy het destyds besef die chirurg, dr Willem Smith, werk eintlik alleen. Saam het hulle gapings in die gesondheidsorgstelsel geïdentifiseer, wat chirurgiese dienste vir pasiënte in die enorme diensgebied van DHSH sou verbeter as dit op die regte manier aangepak word.
Die Discovery-toekenning sal Chu in staat stel om DHSH gereeld te besoek. Volgens haar is dit moeilik om spesialiste te kry om in landelike gebiede te werk. Pasiënte ly daaronder omdat behandeling dikwels vertraag word of bloot te laat is weens swak kommunikasie, vervoerkoste, gebrekkige familie-ondersteuning en lang waglyste.
“My navorsingsbelangstelling is om gelyke toegang tot chirurgiese sorg in Afrika te verbeter deur die chirurgiese stelsel te versterk. Ek hoop my bydraes sal toegang tot en die gehalte van chirurgiese sorg in die Noord-Kaap verbeter.
“Ek hoop om volhoubare veranderinge aan die chirurgiese stelsel aan te bring. Dit sluit in die verbetering van kliniese sorg deur protokolle en verwysingstelsels by te werk en die chirurgiese kapasiteit van distrikshospitale te versterk, wat beter toegang tot sorg sal meebring. Ek hoop om kommunikasie van al die chirurgiese platforms by al die hospitale in die gesondheidsdistrik te versterk om sodoende hindernisse vir chirurgiese sorg vir Noord-Kaapse pasiënte te verminder.
“Bestaande personeel kan baie van die nodige prosedures uitvoer. Met behulp van tegnologie soos videokonferensies kan spesialishulp beskikbaar gestel word, al is dit van ʼn afstand."
Chu benadruk dat die versterking van die chirurgiese stelsel en die identifisering en vermindering van hindernisse vir chirurgiese sorg sleutelkomponente van universele gesondheidsdekking is.
Akademiese Genootskap-toekenning
Dr Johann de Wet, ʼn dermatoloog en lektor by die FGGW se Afdeling Dermatologie, is een van ses ontvangers van hierdie toekenning, wat ten doel het om navorsing-gefokuste opleiding in akademiese geneeskunde in Suid-Afrika te verbeter deur klinici-wetenskaplikes te ontwikkel.
Die toekenning sal help om sy spelbrekende navorsing oor die chirurgiese behandeling van melanoma in situ – kankerselle in die boonste laag van die vel – te help finansier. Daarmee hoop hy om ʼn nuwe mikroskopiese chirurgie vir die behandeling van velkanker aan meer Suid-Afrikaners te bied.
Hy het by die Tygerberg- Akademiese Hospitaal in dermatologie gespesialiseer en het sy MMed-graad in dermatologie cum laude aan die US verwerf.
De Wet se area van spesifieke belangstelling is Mohs- mikrografiese chirurgie. Met hierdie prosedure word individuele lae van kankerweefsel verwyder en een-vir-een onder ʼn mikroskoop ondersoek, totdat al die kankerweefsel verwyder is.
“Die wonderlike ding van hierdie vorm van velkankerchirurgie is dat genesingskoerse van bykans 100% met die minimum weefselverwydering behaal word," sê hy. “Dit is boonop kostedoeltreffend en het die beste die kosmetiese uitkomste wat die behandeling van velkanker betref."
Internasionale riglyne oor velkankerbehandeling beveel Mohs- mikrografiese chirurgie aan as ʼn eerstelinie-behandeling en die goudstandaard vir plaaslik aggressiewe tumors, vir tumors waar dit nodig is om weefsel te spaar, soos op die gesig, asook vir pasiënte met die hoogste risiko vir kankerverspreiding.
“My navorsingsdoelwitte is om die behandeling van velkankers met hierdie medies gevorderde chirurgiese tegniek te verbeter en te help om hierdie behandeling stewig in Suid-Afrika te vestig," verduidelik De Wet.
Subspesialis-toekennings
Dr Sihle Nhlabathi, ʼn psigiater wat by die Stikland-hospitaal in geriatriese psigiatrie subspesialiseer en by die FGGW klas gee, was een van sewe dokters wat hierdie toekenning ontvang het. Sy doen navorsing oor doeltreffende maniere om korrekte en behulpsame inligting by versorgers van bejaarde mense te kry. Die toekenning sal haar help om die impak van digitale inligting in hierdie veld te meet.
Die subspesialis-toekennings het ten doel om mediese vaardighede te verbeter deur subspesialis-opleiding en akademiese geneeskunde in Suid-Afrika ʼn hupstoot te gee.
Nhlabathi onthou hoe sy haar ouma tydens haar grootwordjare probeer vermy het omdat sy aggressief was en maklik irriteerbaar was. “Dit is eers noudat ek geriatriese psigiatrie bestudeer dat ek besef my ouma se gedrag was die gevolg van ernstige geestesprobleme wat deur baie bejaardes ervaar word," verduidelik sy.
Hierdie probleem gaan nie verdwyn nie, want talle bejaarde pasiënte leef nou langer en toestande wat met ouderdom geassosieer word, soos demensie, word meer algemeen.
“Groot maatskaplike druk word in ons gemeenskap uitgeoefen om bejaarde familielede by die huis te versorg, maar dit stel sy eie uitdagings aan die versorgers én die pasiënte," sê sy. “Verreweg die meeste versorgers beskik oor baie min inligting oor hoe om die bejaardes in hul sorg te versorg, veral as hulle tekens van demensie toon."
Nhlabathi is baie bekommerd oor versorgers se welsyn. Ondersteuning vir hulle baat uiteindelik die bejaardes wat hulle versorg. “Talle versorgers ly aan ʼn kombinasie van versorgingslas en depressie."
ʼn Webwerf wat as deel van haar sub-spesialisasie ontwikkel sal word, sal mediese en regsinligting bied, asook inligting oor spesifieke diensverskaffers en verwysings om hulp vir versorgers te bekom. Daar sal ook potgooie wees met inligting oor demensie.
Die einddoel is om ʼn diens te skep wat aan bejaarde pasiënte en hul versorgers gebied kan word. Digitale kommunikasie sal mense help om selfs in landelike gebiede toegang tot hierdie diens te bekom.
Dr Sibusiso Nhlapo, nog ʼn ontvanger van ʼn Subspesialis-toekenning, wil ʼn verskil maak aan die lewe van landelike vroue met hoёrisiko-swangerskappe wat deur mediese toestande en fetale afwykings gekompliseer word. Hy het ʼn MMed-graad in verloskunde en ginekologie aan die US behaal.
Swangerskap-risikofaktore sluit in om jonger as 17 of ouer as 35 te wees, asook vroue met MIV, hoё bloeddruk, diabetes of hart-, long- en nierprobleme.
Nhlapo is bekommerd oor die probleme wat vroue in landelike gebiede met hoërisikoswangerskap ervaar om toegang tot spesialisdienste in die stedelike sentrums te kry wat etlike ure ver is. “Dit is hartverskeurend as ʼn hoërisikoswangerskap ʼn swak uitkoms het weens ʼn gebrek aan toegang tot fetale mediese dienste. Hierdie dienste red lewens," sê hy.
Die Discovery-toekenning sal Nhlapo in staat stel om ʼn moederskap- fetale geneeskundediens in Mpumalanga te vestig.
“Dit sal ook mentorskap- en onderriggeleenthede bied aan die dokters wat gesondheidsorg aan moeders bied en sal mediese studente baat wat van nabygeleë mediese skole vir praktiese opleiding in die provinsie gestuur word."
Ander toekennings
Dr Kartik Naidoo, een van die FGGW se MMed-studente, het ʼn Landelike Individuele Toekenning ontvang. Sy navorsingsdoelwit is “om onbeplande swangerskappe in Mosselbaai te verstaan deur navorsing oor die gesinsbeplanningservarings van verpleegkundiges en kliënte by plaaslike klinieke".
Prof Hoffie Conradie, voormalige Direkteur van Ukwanda, het ʼn Uitgelese Besoekers-toekenning ontvang “om werksessies vir gesondheidsorgwerkers in landelike gebiede van die Oos-Kaap aan te bied wat fokus op selfbewussyn, bepeinsing en die ontwikkeling van meganismes om uitbranding te voorkom".
Tuisgekweekte antwoorde vir mediese uitdagings
Die Discovery-stigting is in 2006 gestig om in mediese spesialis-opleiding te belê en om spesialiste in die openbare gesondheidsektor te help behou.
Sedert sy totstandbrenging het die Stigting meer as R261 miljoen in toekennings belê om 473 mediese spesialiste en instellings te ondersteun. Hierdie jaar se toekennings het R16,6 miljoen vir 28 individuele ontvangers se genootskappe ingesluit, asook R11,1 miljoen vir 14 instellings om akademiese, spesialis- en landelike geneeskunde op gebiede van kritiese nood te bevorder.
Volgens die Voorsitter, Dr Vincent Maphai, glo die Discovery-stigting Suid-Afrika se dokters is in ʼn unieke posisie om van die moeilikste gesondheids- en kliniese uitdagings op te los wat die land in die gesig staar. “Deur aan ons gesondheidsorgberoepslui die geleentheid te gun om te leer en te groei, kan ons tuisgekweekte antwoorde vir van die wêreld se uitdagendste gesondheidsprobleme fasiliteer."
Bykomende bron: www.discovery.co.za
Foto-erkenning: PIXABAY