Afrika se demokratiese koers onder die soeklig by SASCA-seminaar
Die voormalige minister van finansies, mnr Trevor Manuel, was Woensdag (18 September 2019) die hoofspreker by die opening van die sewende Stellenbosse jaarlikse konferensie oor konstitusionalisme (SASCA) by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS).
Manuel het die toon aangegee vir vanjaar se SASCA-seminaar, waarvan die tema Konstitusionalisme en die ekonomie in Afrika is.
Die drie-dag konferensie bring uitgelese regsnavorsers, regters en regslui van Afrika, asook internasionale regsgeleerdes wat navorsing gedoen en ook al artikels oor die verskeie kwessies rondom konstitusionalisme gepubliseer het, op Stellenbosch byeen. Die konferensie duur van Woensdag, 18 tot Vrydag, 20 September.
Manuel het in sy openingsrede beklemtoon hoe belangrik dit is om die grondwet met die verloop van tyd te hersien sodat die wet werklik in sy doel kan slaag om die lewens van alle Suid-Afrikaners te verbeter. “Jy kan 'n grondwet hê, maar die groot uitdaging is om die grondwet uit te leef. Die aanvaarding van 'n grondwet kan nie die eindpunt wees nie. Dit moet die begin van 'n indringende en georganiseerde projek wees om samelewings in die belang van burgers te transformeer," het Manuel gesê.
Deelnemers aan SASCA sal ook die rol wat die grondwet speel om kritieke ekonomiese uitdagings in Afrika te hanteer, ondersoek. Volgens Manuel moet daar 'n stelsel in plek wees wat die grondwet kan gebruik om die sukses, rykdom en verantwoordelikheid van leiers te meet ten einde die ekonomie uit te bou en te verbeter.
“Die verbetering van die lewensgehalte van alle landsburgers is nie 'n eenmalige gebeurtenis nie. Dit is 'n aanhoudende kwessie. Indien jy kontinuïteit in optrede wil hê, moet jy in staat wees om daardie optrede te meet. Dit is waarom die grondwet 'n wesenlike rol kan speel om leiers, hetsy gekose of ongekose, te kontroleer om te verseker dat hulle aan die standaarde en waardes wat deur die grondwet bepaal word, voldoen," het Manuel gesê.
Ander bekende sprekers wat by die konferensie sal optree, sluit die voormalige adjunkminister van finansies, mnr Mcebisi Jonas, in, wat 'n paneelbespreking oor Staatskaping: Die private sektor, die grondwet en konstitusionalisme sal lei. Dit vind Vrydag, 20 September van 11:00 tot 13:00 plaas.
Volgens prof Edward Kirumira, Direkteur van STIAS, is die hoofdoel van die konferensie om idees uit te ruil en demokrasie en konstitusionalisme op die vasteland van Afrika te help bevorder. “Die algemene oogmerk van die seminaar is om te bepaal wat gedoen moet word om die vasteland se huidige demokratiese koers te verander. Dit is toekomsgerigte denke, eerder as 'n agterafbeskouing. STIAS is 'n kreatiewe ruimte vir denke en ek is bly dat hierdie seminaar ons dwing om krities oor die tematiese kwessies te dink. Ek hoop dat die uitkoms van die seminaar ons sal help om vorentoe te beweeg in Afrika," het Kirumira gesê.
Vir meer inligting oor die SASCA-seminaar, gaan na http://stias.ac.za/.