Skip to main content
Afrika-lande se vinnige reaksie op COVID-19 ‘help baie’

Afrika-lande se vinnige reaksie op COVID-19 ‘help baie’

Asiphe Nombewu /Corporate Communication
15 Junie 2020

​Afrika se reaksie op die COVID-19-pandemie is onlangs in 'n digitale dialoog bespreek wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid aangebied is.  

Die virtuele gesprek se doel was om Afrika se beleidsreaksies op die COVID-19-pandemie te ondersoek en om ooreenstemming met die oppergesag van die reg en maatskaplike geregtigheidsbevele te bepaal in 'n poging om die Afrika-droom te verwesenlik.

Die US se Regstrust in Maatskaplike Geregtigheid het saam met die Uraia Trust in Kenya gewerk om gestalte te gee aan hierdie dinktenk. Die Uraia Trust is 'n liefdadigheidstrust wat op die gebiede van burgerlike opvoeding en burgerlike betrokkenheid in Kenia werk.

Die gesprek, wat deur prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid aan die US, gefasiliteer is, het sprekers soos dr regter Alfred Mavedzenge, 'n kundige en akademikus op die gebied van konstitusionele reg en 'n regsadviseur by die Internasionale Kommissie, en dr Mshai Mwangola, 'n prestasiekundige wat die lens van kultuur vir haar werk as akademikus gebruik.

Mwangola het gesê Afrika het by van sy kritici verras wat voorspel het dat die vasteland die ergste getref sou word. Sy het gesê die pandemie het regerings in Afrika die geleentheid gegee om hul onderskeie lande se stelsels te toets.

Volgens Mwangola het regerings in Afrika gou gereageer en het hulle die bedreiging wat die pandemie inhou, ernstig opgeneem en het hulle nie aangeneem dat hulle dit sou kon hanteer nie.

Sy het gesê dat hoewel reaksies baie gehelp het, was die polisie in Kenia wat die inperkingsbevele moes toepas, vir tien mense se dood verantwoordelik. “'n Reaksie soos 'n inperking het ook beteken dat baie mense hul inkomstes verloor het en sommige kon weens hongerte gesterf het. Dit is hoekom dit vir regerings belangrik is om die uitwerking van sulke reaksies op die armes en gemarginaliseerdes te ondersoek; ons reaksies moet alle burgers in ag neem," het sy bygevoeg.

Mavedzenge het in sy toespraak gesê dit is belangrik vir regerings om reaksies in tye soos hierdie goed te deurdink. “Ons moet reg oor ons sfere met mekaar in aanraking wees en ons tot streeks- en kontinentale liggame wend. Ons moet ook verseker dat hierdie reaksies onder die aandag van die kwesbaarstes in ons lande gebring word," het hy gesê.

Al is baie gedoen om lewensverliese te voorkom, meen Mavedzenge verdere navorsing moet bepaal hoeveel mense tydens die streng inperkingsregulasies weens hongerte gesterf het. “Deursigtigheid en verantwoordbaarheid is die regsreël en besluite oor reaksies kan nie in die geheim geneem word nie. Dit is hoekom ons oor grense heen werk om te verseker dat ons regerings verantwoordelik hou," het hy gesê.

Madonsela het gesê die doel van die gesprek was om 'n verslag van die vasteland saam te stel wat aan die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, in sy hoedanigheid as die voorsitter van die Afrika-unie gestuur sal word.