Skip to main content
Aanlynonderrig skep leergeleenthede, sê SPL dosent

Aanlynonderrig skep leergeleenthede, sê SPL dosent

Daniel Bugan
14 Augustus 2020

​Dit was die beste én terselfdertyd die slegste tye. Só beskryf dr Ruenda Loots, 'n dosent in die Skool vir Publieke Leierskap (SPL), die skuif na aanlynonderrig wat deur die Coronavirus-pandemie (COVID-19) genoodsaak is.

Loots is die koördineerder van die voorgraadse diplomaprogram in Volhoubare Ontwikkeling, wat in samewerking met die Volhoubaarheidsinstituut by Lynedoch aangebied word. Sy meen die praktiese aard van die diplomaprogram bied eiesoortige uitdagings vir die oorskakeling na aanlynonderrig.

“Ons diplomaprogram is daarop ingestel om 'n entrepreneursingesteldheid by ons studente te kweek. Ons onderrig hulle gereeld oor wisselvalligheid, onsekerheid, kompleksiteit en dubbelsinnigheid in die wêreld. Die pandemie het ons genoop om die daad by die woord te voeg en vinnig aan te pas by die voortdurend veranderende omgewing.

“Ons program is relatief klein (drie jaargroepe met altesaam 79 studente) en ons het sterk verhoudings met ons studente ontwikkel. Dit het ons in staat gestel om die oorgang na die aanlynruimte saam aan te pak met inagneming van die gepaardgaande beperkings en frustrasies. Die pandemie het waardevolle leergeleenthede vir ons dosente en studente geskep.

“Die meeste studente in ons program het die oorgang redelik goed hanteer. Die studente het merkwaardige volharding en durf aan die dag gelê. Hulle gesels oor die angstigheid wat ons almal te midde van die chaos ervaar; tog pas hulle aan deur gebruik te  maak van die vaardighede wat hulle tydens die program ontwikkel het."

Sy beskryf die bronne wat sy gebruik om haar aanlynlesse aan te bied as “'n sak vol planne".

“Zoom is 'n besonder nuttige program vir die maak van kort video's. 'n Mens kan gelyktydig 'n opname van jou rekenaarskerm met skyfies of notas maak, asook 'n video van jouself. Ek hou nie daarvan om op film vasgelê te word nie, maar dit maak die aanlynruimte meer persoonlik. Die video's van Zoom-opnames is klein en gebruik min data.

“Ek gebruik ook gereeld die forumfunksie op SUNLearn om onderlinge portuurgroepleer aan te moedig. Dit help om studente in kleiner besprekingsgroepe in te deel. Dit lyk asof studente-deelname toeneem wanneer daar van hulle verwag word om hul idees met twee of drie maats te bespreek in plaas van met die hele klas."

Loots voeg by dat sy die eise wat 'n gesinslewe aan haar stel egter as 'n besondere uitdaging in hierdie tydperk ervaar.

“Die eerste vyf weke van die grendeltydperk was geweldig moeilik. Ons het nie die gewone ondersteuning tuis gehad waarop ons kon staatmaak nie en die voorbereiding vir noodafstandsonderrig was intensief. Die situasie het intussen gestabiliseer en ons handhaaf nou 'n stadiger, gesonder pas met ons werk- en gesinslewe. Die nuwe tempo is waarskynlik meer volhoubaar op die lange duur, ongeag of ons tuis of op kantoor werk."

Volgens Loots verg aanlynonderrig meer beplanning en noukeurige tydsbestuur.

“Aangesig-tot-aangesig kontaksessies verg veel minder voorbereidingstyd, aangesien vrae en gesprekke organies in die klas en gedurende pouses plaasvind," het sy verduidelik. “Maar gesprekke in die aanlynomgewing verg doelbewuste beplanning. Tegniese aspekte neem baie tyd in beslag, byvoorbeeld om aanlyn-aktiwiteite op te stel, aktiwiteite te hersien, lesings op te neem en om die inhoud op te laai."

Noudat sy eerstehandse ervaring van die voordele en uitdagings van aanlynonderrig het, is sy oortuig daarvan dat aanlynonderrig suksesvol deur die Fakulteit en SPL gebruik kan word, selfs ná COVID-19.

“Hibriede leer (kontak en aanlyn) bied opwindende vooruitsigte vir ons diplomaprogram. Dit gee ons die geleentheid om virtuele interaksie met internasionale gasdosente te hê en bied meer tyd vir ervaringsleer tydens kontaksessies, "sê Loots.

  • ​Hooffoto: Dr Ruenda Loots (middel) met prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en mnr Willem Jordaan, redakateur van Die Burger, by 'n funksie in 2019 waar dr Loots die topdosenttoekenning in die Skool vir Publieke Leierskap (SPL) ontvang het.
  • Diploma in Volhoubare Ontwikkeling-foto's: Tweedejaarstudente besig met die ontwerp van 'n permakultuurtuin, en 'n gemeenskapsontbyt wat deur studente aangebied is.
Sustainable Development Diploma1.jpg
               
Sustainable Development Diploma2.jpg