
Eerste inname van USB-leierskapontwikkelingsprogram ontvang hul kwalifikasies
Die eerste kohort studente wat die Universiteit van Stellenbosch Sakeskool (USB) se nagraadse diploma in leierskapsontwikkeling (NPO-stroom) suksesvol voltooi het, se kwalifikasies is vandeesweek tydens 'n aanlyn gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan hulle verleen.
Die jaar lange program is 'n eerste in Suid-Afrika. Die groep van 12 studente het in Januarie 2020 met die kursus begin.
Die programhoof, prof Arnold Smit, sê die nagraadse diploma in leierskapsontwikkeling fokus op die versterking van leierskapskapasiteit in die maatskaplike sektor.
“Studente baat op die gebied van persoonlike veerkragtigheid, vindingrykheid en vertroue. Hulle leer hoe om organisatoriese kapasiteit uit te bou en openbare en maatskaplike impak te skep. Hul vermoë om maatskaplike opbrengs op belegging vir hul befondsers te skep, verbeter en hulle baat ook by eweknie-leer saam met studente in soortgelyke organisasies," sê Smit.
Hy sê die program is geskik vir raadslede, leiers en bestuurders van organisasies in die maatskaplike sektor. Mense wat by stigtings en in korporatiewe maatskaplike beleggingsafdelings werk wat die ontwikkeling van nie-winsgewende organisasies ondersteun, baat ook deur die program te volg.
Volgens Smit sal mense wat van loopbaan wil verander en na 'n leierskapsrol in die maatskaplike sektor strewe, ook vind die program bied 'n bemagtigende inleiding tot die aard en uitdagings van nie-winsgewende organisasies.
Een van die kandidate, Isabel Wolf-Gillespie, stigter van Earth Awareness, 'n omgewingsopvoedkundige, lewensvaardigheid- en natuurgebaseerde organisasie vir jeug wat langs natuurlewegebiede woon, sê deelname aan die program het haar lewe verander.
“Ek is buite my gemaksone uitgedaag sodat ek soms baie diep moes delf. Die kohort self was nie net 'n groep hoogsvaardige professionele mense wat bereid was om hul vaardighede en kundigheid te deel nie, maar ook 'n onderskragende ondersteuningsgroep wat my gehelp het om die program te voltooi. Die feit dat ons die eerste groep was wat die program gevolg het, het ons soos baanbrekers laat voel.
“Verder het die program ook vir ons die geleentheid as leiers in die nie-winsgewende sektor geskep om regtig bande met mekaar te vorm en om te bepaal hoe ons mekaar kan dien en kan saamwerk sodat ons organisasies invloedryker sal wees."
Luleka Domo, wat onlangs tot die amp van hoof-operasionele beampte in die geloofsgebaseerde organisasie The Message Trust bevorder is, sê die kursus het haar siening van leierskap verander.
“Ek moes alles uitvee wat ek van leierskap geweet het en van voor af begin. Ek het geleer om self weer die pen op te neem en om my leierskapsverhaal te herskryf. Ek het geleer dat my leierskap ten alle tye eg moet wees; 'n leier wat getrou is aan haarself en ander; 'n leier wat selfversekerd, hoopvol, optimisties, eties, deursigtig en toekomsgerig is.
“Ek glo nou het ek iets beter om aan die wêreld en diegene rondom my te bied. Ek wil 'n positiewe invloed wees. Ek wil hê diegene wat met my omgaan, moet gekoester voel en nuwe lewe kry in my geselskap. Ek wil my stem gebruik om op te bou en nie om af te breek nie. Ek wil my leierskap gebruik om ander te motiveer, aan te moedig en te inspireer om te droom en om hierdie wêreld 'n beter plek vir ons almal te maak."
Sy sê die kursus het haar met die nodige vaardighede toegerus om haar nuwe amp met vertroue op te neem en om 'n invloedryke leier vir verandering te wees.
“Baie dankie vir hierdie ervaring. Dit was moeilik omdat ons die COVID-19-pandemie te bowe moes kom wat 'n verskuiwing in ons lewens veroorsaak het, maar dit was die moeite werd!"
- Vir meer inligting oor die USB se nagraadse diploma in Leierskapsontwikkeling, besoek: https://www.usb.ac.za/course/postgraduate-diploma-in-leadership-development-for-npos/