Dr Marietjie Lutz volhard met passie en doelgerigtheid
Hierdie Vrouemaand vier ons akademiese personeellede aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat denke vorm en uitnemendheid deur hulle onderrig inspireer. Hierdie merkwaardige opvoeders bring passie, vernuwing en toewyding na die lesinglokaal en help studente om te floreer en sukses te behaal. Hulle stories weerspieël die impak van vroue in die hart van die US se akademiese gemeenskap. Dr Marietjie Lutz, wat die afgelope 20 jaar chemie aan die US doseer, is bekend daarvoor dat sy meer as haar plig doen deur haar liefde vir fietsry in ʼn goeie doel te stort – fondsinsameling vir studente wat finansiële uitdagings ervaar. Die US het haar met ʼn Onderrig-Leer-Assessering-toekenning vereer asook 'n ROCTAS-toekenning (wat vir Recognition of Contributions Towards Academic Success staan). Lutz is bekend as ʼn briljante dosent wat energie, empatie en passie na die klaskamer bring. Of sy nou help om ʼn nuwe volhoubare chemiemodule te ontwikkel of 600 km fiets ry om geld vir beurse in te samel, inspireer sy ander mense altyd om hulle perke uit te daag en te glo in wat moontlik is.
Kan jy ons ʼn bietjie meer oor jou agtergrond vertel – waar het jou akademiese reis begin en wat het jou passie vir onderwys laat vlamvat?Die heel eerste keer toe ek in dieselfde eerstejaar- chemie-lesingsaal gesit het waar ek nou doseer, het ek geweet ek wou ʼn dosent word. Dit het soos ʼn droom gevoel! Ek het destyds geen idee gehad hoe ek daardie droom sou verwesenlik nie. My beurs van die Onderwysdepartement het vereis dat ek op skoolvlak moes onderrig vir die getal jare wat ek finansiering ontvang het. Maar ek het elke geleentheid aangegryp wat ek kon vind en in ʼn stadium selfs die balle van drie verskillende navorsingsassistentposte in die lug gehou. As daar nie ʼn geleentheid was nie, het ek een geskep.Ek het my eerste doseerervaring gehad terwyl ek nog met my PhD besig was. Ek het aangebied om in te staan vir ʼn dosent wat met kraamverlof sou gaan, selfs voordat reëlings getref is. Ek was so desperaat om te doseer dat ek selfs my dienste gratis aangebied het! Daardie deeltydse kontrak in 2005 was die begin van my akademiese reis en ek het nog nooit teruggekyk nie. Soos Confucius gesê het: 'Kies ʼn werk waarvan jy hou en jy sal nooit ʼn dag in jou lewe hoef te werk nie.' Dit is so ʼn voorreg om dit elke dag te beleef terwyl ek vanjaar 20 jaar van onderrig aan die US vier.
Het enige onderwysers, mentors of rolmodelle ʼn blywende indruk op jou as leerder of opvoeder gemaak?Ja, verskeie – maar prof Johan de Villiers het uitgestaan. Hy het wiskunde onderrig asof hy ʼn koor dirigeer en die inhoud het soos bladmusiek ontvou. Sy entoesiasme was aansteeklik en hy het myns insiens ʼn gawe gehad om selfs derdejaar-wiskunde maklik te laat lyk. Hy was ook ʼn rolmodel wat balans betref: ʼn gerespekteerde akademikus wat vreugde in musiek gevind het en die bekende Libertas-koor gelei het. Danksy sy inspirasie het ek my liefde vir wiskunde in die klaskamer ingedra gedurende die drie wonderlike jare wat ek hierdie vak by Paul Roos Gimnasium onderrig het.
Is daar ʼn spesifieke aspek van jou kursus of vakgebied wat jy veral graag onderrig?Ek is mal daaroor om enige chemiekonsepte met ʼn sterk wiskundekomponent te onderrig – dit is uitdagend, maar baie lonend. Ek is ook veral opgewonde oor ons nuwe toegepaste chemiemodule vir derdejaars, Groen en Volhoubare Chemie, wat ons vanjaar bekendgestel het. Dit is ʼn kragtige manier om kritiese burgerskap te koester en studente toe te rus om hulle kennis verantwoordelik in die konteks van ons brose omgewing toe te pas. Maar vir my gaan onderrig nie net oor inhoud nie. Dit gaan oor die vermensliking van pedagogie, om werklik met studente te skakel en hulle holisties te ondersteun.
Wat is die grootste beloning van ʼn dosent aan die US?Om te weet dat ek tot iemand anders se toekoms bydra. Ek voel soos ʼn aandeelhouer in die sukses van elke student wat in my lesingsaal sit of my kantoor binnestap. Wanneer voorgraadse of nagraadse studente die gradeplegtigheidsverhoog betree, is dit net die begin van wat voorlê en ek voel geëerd om deel van daardie reis te kon wees.Wat inspireer my die meeste? Hulle. Van ʼn dagsê op die kampus of in die Neelsie terwyl ek ʼn koppie koffie koop tot 'Kan ek ʼn foto vir my koshuis neem?', is dit hierdie menslike oomblikke wat my motiveer. En uiteindelik kan ek nie verwag dat studente hulle bes sal doen as ek nie dieselfde doen nie.
Watter raad het jy vir jonger vroue wat vandag die onderwysberoep betree?Voor ons gesin se eerste Wheels of Opportunity-fondsinsameling verlede jaar was ek senuweeagtig dat ons R60 000-doelwit te ambisieus was. Tydens ʼn regstreekse onderhoud op Matie FM (my eerste radio-optrede, wat ver buite my gemaksone geval het) het ek hierdie onsekerheid erken en die aanbieder het eenvoudig gevra: “Waarom dink jy dis te hoog?" Daardie oomblik het iets in my verander.Nadat ons 600 km in ses dae op fietse afgelê het, het die veldtog ongelooflike momentum opgebou en die aandag van die media getrek. Dit het alles ʼn hoogtepunt bereik met ʼn onverwagte skenking van R10 000 van ʼn vreemdeling wat my direk ná ʼn radio-onderhoud op SAfm gebel het en ons totaal op meer as R76 000 te staan gebring het. Hierdie jaar het ons die R100 000-merk verbygesteek! My raad is: Moet jouself nooit beperk deur vooraf te besluit wat jou perke is nie. Laat jou ambisie toe om verder as jou gemaksone te strek – dis waar die towerkrag inskop.
FOTO: Stefan Els