Skip to main content
Nuwe "Share a room" ResEd werksessie verskuif grense

Nuwe "Share a room" ResEd werksessie verskuif grense

Charl Linde
06 Februarie 2020

​Die Sentrum vir Studentegemeenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), in vennootskap met die Transformasiekantoor, bied sedert die begin van die Verwelkomingsweek 'n aantal ResEd-werkswinkels aan. As deel van die ResEd-program woon elke eerstejaarstudent wat met studie aan die US begin, werkswinkels by wat om die temas sosiokulturele bewustheid, leierskap en intergroepvaardighede gestruktureer is.Die werkswinkels help studente om hul weg in 'n nuwe sosiale omgewing te vind, wat waarskynlik geheel anders as hul hoërskool‑ en huislewe lyk. Die uiteindelike doel is om studente aan nuwe denk‑ en waarnemingswyses bekend te stel – spesifiek om hulle te help om deur die oë van ander te kyk, diegene wat op elke manier van hulle verskil – wat ras, geslag, seksualiteit of ekonomiese omstandighede betref. Die sessies, wat sosiokulturele bewustheid aanpak, sluit die werkswinkels getiteld “Wees bewus van wat regverdig is"/“Be aware of what's fair" en “Woordeboek van verskil"/“Dictionary of difference" in. Hierdie sessies bou 'n bewustheid van sosiale ongelykheid en maak studente vertroud met die terminologie van sosiale insluiting. 'n Totaal nuwe sessie getiteld “Deel 'n kamer"/“Share a room" is ontwikkel, wat die geleenthede en uitdagings van die deel van intieme ruimtes op universiteit, veral as huis- of kamermaats, uitwys. Hierdie sessie fokus op die vreugde en probleme daarvan om anders te wees en die belang daarvan om grense af te breek en van die eerste dag af met mekaar in gesprek te tree.Nuut vir 2020 is die klem op rolprentvertonings, waaronder 'n mengsel van gewilde rolprentteaterbekendstellings en dokumentêre rolprente soos The People vs PatriarchyRoll Red Roll en Hidden Figures. Laasgenoemde is 'n rolprent oor drie swart vroulike wiskundiges wat 'n belangrike rol in die Amerikaanse ruimteprogram gespeel het, maar diskriminasie op grond van hul ras en geslag by die werk ervaar het. Roll Red Roll fokus op 'n seksuele aanranding tydens 'n hoërskoolvoetbalparty en die nadraai daarvan. Die rolprent beklemtoon die medepligtigheidskultuur en die rol wat groepsdruk, ontkenning, sportmachismo en die sosiale media in die tragedie gespeel het. The People vs Patriarchy is 'n plaaslike produksie en betrek mense uit verskillende agtergronde aan die hand van wat hulle meen patriargie is en hoe dit aangepak kan word. Hierdie dokumentêre rolprent ondersoek ook die uitdaagkultuur en die #menaretrash-verskynsel.Me Babalwa Gusha van die Transformasiekantoor sê in haar kommentaar oor die ResEd‑werkswinkels van 2020 dat die instelling van die rolprentvertonings 'n belangrike inisiatief is, wat studente 'n geleentheid bied om die inligting te absorbeer en aan die interne “dinkwerk" deel te hê, wat dikwels nie in groepswerkswinkels moontlik is nie. Haar ervaring tydens die sessies is dat heelwat Suid-Afrikaanse leerders steeds 'n produk van hul ouers is; sy glo dat meer werk op skoolvlak gedoen moet word om leerders krities te laat nadink oor die land, sy mense, en hul eie plek in ons multikulturele samelewing. Volgens mnr Yeki Mosomothane (Multikulturele Opvoeder en Koördineerder: Sentrum vir Studentegemeenskappe) het ongeveer 4 000 nuwe studente van PSO's en koshuise vanjaar aan die ResEd-sessies deelgeneem.