Skip to main content
#MBHGHipHop intervensie bevorder bewustheid van TB

#MBHGHipHop intervensie bevorder bewustheid van TB

Susan Erasmus
17 April 2020
 

TB-navorsers het hulle onlangs tot kletsrym en hip-hop gewend om TB-bewustheid in die gemeenskap te bevorder.

​Die #MBHGHipHop TB intervensie, waarby navorsers en personeel van die Afdeling van Molekulêre Biologie en Mensgenetika en leerders van die Hoërskool Cedar Kuns-fokus Skool in Mitchells Plain betrokke was, was gemik op die bevordering van bewustheid oor TB, en om jongmense te inspireer om loopbane in die wetenskap te volg.

Die program, wat aangebied is deur bogenoemde afdeling, het betrokkenheid by en kennis van wetenskap bevorder deur middel van die gewilde mediums van kletsrym, hiphop en musiek.

"Die plasing van wetenskap binne 'n populêre-kultuurspasie het 'n geleentheid gebied aan jongmense om eienaarskap hiervan vir hulleself toe te eien – eerder as wat dit vreemd en ontoeganklik gebly het," volgens Dannielle Moore, Kommunikasie- en Bemarkingsbeampte by die Afdeling.

​​

​Hierdie vier-dag inisiatief het vroeër vanjaar plaasgevind is aangebied deur 13 navorsers van die Afdeling van Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die Universiteit van Stellenbosch. Hulle het almal vrywilliglik aan die program deelgeneem. Hierdie projek het die wetenskaplikes daartoe in staat gestel om met die leerders van die bogenoemde skool in gesprek te tree oor die onderwerp van tuberkulose, en hoe dit die gemeenskap affekteer. Hulle het ook gefokus op relevante navorsing in die gebied.

Hoërskool Cedar Kuns-fokus Skool bied vakke aan soos Dans, Musiek, Visuele Kunste, Drama en Ontwerp. Die spesifieke skool is gekies vir hierdie projek, aangesien een van die personeellede van die MBMH voorheen 'n leerder by hierdie skool was. 'n Ander beweegrede was die skool se ligging, wat dit moontlik gemaak het om hierdie projekte uit te brei na gebiede buite die Kaapse Wynlande en Tygerberg, waar hierdie soort projekte gewoonlik aangebied word.

Op die eerste dag van die program, is leerders in groepe  van ongeveer 10 verdeel en hulle het na verskillende stasies beweeg. By elkeen van hierdie stasis kon hulle meer uitvind omtrent spesifieke aspekte van TB, soos hoe dit versprei word, hoe dit verhoed kan word, tekens en simptome van die siekte, diagnose en behandeling, asook meer inligting omtrent die mites oor hierdie siekte. Leeerders het inligtingspakkies en strokiesprente ontvang, asook  verskeie items wat geskenk is deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

Elke groep het 'n spesifieke onderwerp gekry, en teen die einde van die eerste dag moes hulle vorendag kom met die koor van 'n liedjie wat hulle spesifieke boodskap sou oordra – en dit dan opneem in 'n klein ateljee wat vir die week opgerig is. Die tweede dag het bestaan uit 'n praatjie wat gelewer is deur mnr. Goodman Makanda van TB Proof. Hy is 'n #TBchampion en vegter vir TB wat meer vertel het omtrent sy ervaring met TB. Leerders moes tekeninge maak oor wat die praatjie vir hulle beteken het.

Leerders is ook maskers gegee, soos die maskers wat deur gesondheidswerkers en TB-pasiënte gebruik word, sodat hulle dit vir twee ure kon dra om hulle 'n idee te gee oor hoe dit voel.

Op die derde en vierde dag het die leerders die lirieke vir hulle liedjies opgeneem, en die tyd gebruik om danspassies en kort sketse aanmekaar te sit wat in hulle aanbiedings op die finale dag ingesluit kon word.

"Dit was nie 'n kompetisie nie, en die hoofdoel was om bewustheid te skep," het Moore gesê.

Musiek was die fokus van die laaste dag, en het die leerders toegelaat om eienaarskap te neem van wat hulle geleer en geskep het. Daar is tyd ingeruim in hierdie dag vir klank- en beligtingstoetse, kleedrepetisies en die opstel van die lokaal. Aangesien heirdie skool grotendeels kunsgesentreer is, was leerders in 'n milieu wat vir hulle bekend was, wat dit ook vir hulle makliker gemaak het om aanklank te vind by die materiaal, en hulle eie stempels daarop af te druk. Leerders het 'n uitvoering van hulle liedjies gegee aan geselekteerde klasse van die skool, asook aan genooide gemeenskapslede. Sodoende kon hulle die boodskap versprei wat hulle geleer het deur middel van die gewilde medium van musiek.

Teen die einde van hierdie program, het die leerders vyf oorskpronklike kletsrym- en hip-hop-liedjies geskryf en uitgevoer, wat die hoof-boodskappe oor wat hulle oor TB geleer het, oorgedra het aan die gemeenskap. Die inhoud van hierdie liedjies is gebaseer op hulle interaksie met die personeel en studente van die Afdeling van Molekulêre Biologie en Mensgenetika. Deur middel van hierdie leerproses het die leerders beweeg van 'n posisie waar hulle nie veel omtrent TB geweet het nie, na 'n posisie waar hulle bemagtigde voorstanders vir hierdie saak kon word.

Die befondsers van hierdie projek het die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Impak-fonds en die DWT/NNS Sentrum van Uitnementheid vir Biomediese Tuberkulosenavorsing ingesluit.