
Wêreldtuberkulosedag: TB-navorsing steeds noodsaaklik in hierdie tyd van Covid-19
Woensdag (24 Maart) is Wêreldtuberkulosedag. In ʼn meningsartikel vir Health24, skryf prof André G Loxton (Molekulêre Biologie en Mensgenetika / Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad) dat voorgesette befondsing en samewerking tussen belanghebbendes noodsaaklik is om TB-navorsing ʼn hupstoot te gee.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
TB-navorsing steeds noodsaaklik in hierdie tyd van Covid-19
André G Loxton*
Dit is net meer as ʼn jaar gelede dat die planeet deur die Covid-19-pandemie getref is. As gevolg daarvan het die meeste regerings en owerhede beperkings op die bewegings van mense wêreldwyd geplaas. Die daaropvolgende gebeure het ook tot ʼn groot mate ʼn verskuiwing in die manier waarop ons oor gesondheidstelsels navorsing doen en dink, teweeg gebring. Oor die afgelope 12 maande was wetenskaplikes, met finansiering deur die aangewese owerhede van hoë-inkomste lande, in staat om die SARS-CoV2-virus na te vors en verskeie moontlike entstowwe te lewer. Groot hoeveelhede entstowwe (op hierdie stadium hoofsaaklik in die ontwikkelde lande) is aan gesondheidsorgwerkers in die voorste linie en aan diegene met onderliggende toestande beskikbaar gestel. Dit is inderdaad indrukwekkende prestasies in ʼn poging om die verspreiding van die virus wat die pandemie veroorsaak en meer as 120 miljoen mense besmet het (met 2,6 miljoen wat aan die siekte beswyk het), onder bedwang te probeer kry.
Hierdie reaksie – daar word soms na verwys as die Covidisering van gesondheids- en navorsingsaktiwiteite – was onteenseglik nodig om mense regoor die wêreld te beskerm.
Maar soos ons die volgende fase van ons lewens met die voortgesette Covid-19-pandemie betree, moet ons nie die ander pandemies waaraan mense daagliks sterf, uit die oog verloor nie. Neem, byvoorbeeld, tuberkulose (TB). Dit is reeds eeue lank met ons en ongeveer 1.5 miljoen mense wêreldwyd sterf elke jaar daaraan. In Suid-Afrika veroorsaak TB die dood van 58 000 mense per jaar.
Die siekte beïnvloed ook lae- en middelinkomste lande buite verhouding meer. Die Globale Tuberkuloseverslag 2020 toon dat Indië, China, Indonesië, die Filippyne, Pakistan, Suid-Afrika, Nigerië en Bangladesj die agt voorste lande is ten opsigte van die aantal gevalle in lande met minstens 100 000 gevalle en wat vir twee derdes van die wêreldwye voorkoms in 2019 verantwoordelik is. Hierdie syfers is hartseer as die globale TB-teikens, soos in die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD) vir 2030 uiteengesit is, in ag geneem word.
Die VOD 3: Teiken 3.3 verklaar dat ons moet probeer om die Vigs-, TB- en malaria-pandemie (en ander) teen 2030 tot ʼn einde te bring. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Stop-TB-strategie doen ʼn beroep dat die TB-voorkomskoers teen 2030 met 80% verlaag en die aantal TB-verwante sterftes met 90% verminder moet word. Ter ondersteuning van hierdie teikens het ʼn hoëvlakvergadering van die Verenigde Nasies in 2018 aanbeveel en onderneem dat finansiering voorsien en verhoog moet word. Daar is besluit op finansiering van minstens $13 biljoen per jaar vir universele toegang tot TB-voorkoming, -diagnose, -behandeling en -sorg. Daarby is minstens $2 biljoen vir die tydperk 2018 tot 2022 vir TB-navorsing bewillig.
Dit is heelwat minder as die finansiering wat vir die aanpak van die Covid-19-pandemie beskikbaar gestel is. Byvoorbeeld, teen April 2020 (maand vier van die pandemie) het net die Europese Kommissie alleen reeds €137,5 miljoen ($165 miljoen) beskikbaar gestel aan wetenskaplikes wat aan die pandemie werk, wat meer is as die gekombineerde besteding aan navorsing oor MIV/Vigs, TB en malaria in 2018.
Hierdie geld is nodig om die ontwikkeling van die hoofgebiede wat met die TB-pandemie verband hou, die nodige hupstoot te gee. Met verskeie nuwe middels wat in verskillende ontwikkelingstadiums is, is navorsing en innovasie nodig om die nuwe diagnostiese toetse deur te voer. Die aantal TB-inentings wat nog in die kliniese ontwikkelingsfase is, moet ook vermeerder word.
Al die maatreëls vereis egter, buiten ʼn beduidende invloei van finansiële steun, die politieke wil om die deurlopende TB-pandemie te bestry. Ons het nou die geleentheid om die verskillende TB-belanghebbendes te verenig en die pad vorentoe vir TB-navorsing en hoe dit met die programmatiese bestuur van TB sal oorvleuel of dit sal rig, uiteen te sit.
Die huidige pandemie het toegewyde optrede deur feitlik alle sektore van die samelewing vereis, en kliniese navorsing, waaronder navorsing oor TB, ontwrig. Maar ten spyte van al die uitdagings, bied die pandemie ʼn geleentheid vir ons om die lesse wat daaruit geleer is en die innoverende hulpbronne wat geskep is, te ondersoek, sodat ons hierdie nuwe kennis en hulpbronne kan gebruik om ons stryd teen TB te hernu; hetsy dit die verskerping van die opspoor van aktiewe gevalle, of die kwessies rondom TB-verwante geestesgesondheid is.
Wanneer hierdie pandemie uiteindelik tot ʼn einde kom, sal die volgende een begin. Ons sal dus moet aanhou om ons navorsingsaktiwiteite vir die komende plae te innoveer en aan te pas. Oor die kort termyn is individue met TB veral kwesbaar, weens die onderliggende longsiekte en nuwe struikelblokke in die pad van diagnose en sorg. In die toekoms sal dit wees omdat die pas van die bevordering van navorsing om die TB-epidemie te beëindig, afgeneem het. Dit is dus noodsaaklik dat diegene wat vir die bestuur en navorsing van TB verantwoordelik is, onderlinge samewerking moet handhaaf, sodat die prioriteite van plaaslike vennote ons optrede kan rig en die navorsingsagenda aandryf.
Op Wêreldtuberkulosedag (24 Maart) vier ons die vooruitgang wat ons in die stryd teen TB gemaak het. Kom ons sit ook ons pogings om die verskillende belanghebbendes te betrek, voort, en verskerp die stryd, sodat ons nie slegs vir ons ʼn wêreld sonder TB hoef voor te stel nie, maar kan besef dat ons dit in werklikheid kan bereik.
*Prof André G Loxton is ʼn professor in Immunologie en die leier van die #Loxtonlab in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is ook ʼn spesialiswetenskaplike by die Sentrum vir Tuberkulosenavorsing van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.