Skip to main content
Tweeling nou derde generasie Maties

Tweeling nou derde generasie Maties

Media & Communication, Faculty of Science
09 Desember 2016

Die tweelingsusters Francis en Christine Prins volg in hul ma en oupa se voetspore toe hulle die derde geslag in die familie geword het om hul grade by die Universiteit Stellenbosch te verwerf.

Francis het vandeesweek haar honneursgraad in chemie tydens die US se laaste Desember gradeplegtigheid ontvang, terwyl Christine vroeër die week haar honneursgraad in opvoeding ontvang het. Beide is oud-leerders van Outeniqua Hoërskool in George.

Francis sê haar belangstelling in chemie en die farmaseutiese bedryf is aangewakker danksy haar ma, Larna Prins, se beroep as ’n apteker. Sy het in 1988 die graad BSc aptekerswese by die US verwerf.

Christine se liefde vir die onderwys is waarskynlik afkomstig van haar ouma, mev. Kobie Prins, wie ook ‘n onderwyser was. Hul oupa, mnr. Christo Prins, was Suid-Afrika se ambassadeur in Spanje en Japan. Hy het ook sy LLB graad by die US verwerf.

Beide Francis en Christine het aktief aan die kampuslewe deelgeneem. Francis was in Surruria vir vier jaar en was in 2016 lid van die huiskomitee. Christine het in Sonop gebly en was in 2015 ’n huiskomitee-lid.

Die tweeling sê hoewel hulle verskillende kursusse gevolg en in verskillende koshuise gebly het, het hulle gereeld bymekaar uitgekom op op te vang, te oefen of te kuier.

Hul toekomsplanne is ook reeds in plek. Francis oorweeg tans ’n loopbaan as farmaseutiese verkoopsverteenwordiger in die Wes-Kaap, en Christine sal in 2017 haar onderwysloopbaan by die Laerskool Worcester-Noord begin.

Op die foto: Francis (links) en Christine Prince. Foto's: Anton Jordaan