Skip to main content
ʼn Dag in die lewe: Justin Alberts

ʼn Dag in die lewe: Justin Alberts

Corporate Communications and Marketing
10 Mei 2023

​Ons het Mei met die viering van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die Universiteit Stellenbosch (US). Justin Alberts speel ʼn kardinale rol by die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (AKKB). In hierdie onderhoud vertel hy meer oor sy werk as ʼn IT-stelselspesialis en sy verrassende stokperdjies. 

Wat behels jou rol by die US? 

As die IT-stelselspesialis van die AKKB behels my rol ʼn diverse reeks verantwoordelikhede, wat insluit IT-stelselbestuur, IT-infrastruktuurbeplanning, verkryging en tegniese steun, maar ook effens minder konvensionele aspekte soos lewendige video-uitsendings, produksie en redigering. 

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag? 

Soos die geval is met baie areas by die US, hang baie van my verantwoordelikhede van die tyd van die jaar af. ʼn Deurgaanse rol is die inwerkingstelling van nuwe tegnologieë wat die funksionering van die Afdeling verbeter. Dit behels om my vinger op die pols te hou van nuwe en opkomende tegnologieë, asook om seker te maak dat aan my kollegas se individuele IT-behoeftes voldoen word. Seisoenale geleenthede soos graduerings en die intreeredereeks, waaarvan ek die lewendige uitsendings (stroming) beplan en uitvoer, hou my ook aan die hardloop. 

Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?

Ek het my loopbaan by die US 24 jaar gelede begin nadat ek my MCSE-opleiding (as ʼn gesertifiseerde Microsoft-stelselingenieur) voltooi het. My eerste pos was as ʼn IT-assistent/-tegnikus by die destyds relatief nuwe Humarga (IT-dienste vir die geesteswetenskappe). Dit was tydens die hoogtepunt van Y2K – wat ʼn tyd om ʼn nuweling te wees!

Vandaar het ek gevorder na Gebruikersondersteuning by die hoof- IT-departement (toe dit nog by die Fakulteit Ingenieurswese gesetel was). Ná ʼn paar jaar in daardie rol het ek na Netwerkstelsels gevorder en uiteindelik na die Microsoft-span (onder die behulpsame leiding van Gert Albertse en Andries Nieuwoudt, onder vele andere). Daar het my verantwoordelikhede ingesluit om die anti-virus- en webbedieners te bestuur.

Dit was gedurende hierdie tyd dat ek die geleentheid gekry het om my tegnologiese horisonne te verbreed via interaksie met multinasionale maatskappye in die private sektor, volop opleidingsgeleenthede en konferensies met ander in die bedryf. Dit het ʼn groot rol gespeel om my nuuskierigheid oor opkomende tegnologieë te prikkel, soos videostroming – wat nogal ʼn radikale konsep in die era voor YouTube was!

Nog ʼn paar jaar later het die geleentheid by die AKKB (destyds nog Kommunikasie & Skakeling) opgeduik om ʼn lid van ʼn digitale kommunikasiespan te word, wat ten doel gehad het om hierdie nuwe vorms van kommunikasie na die groter US-gemeenskap te bring. Ek kon vanselfsprekend nie nee sê nie … en hier is ek, jare later, steeds besig om te doen wat ek geniet. 

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US? 

Stellenbosch is ʼn pragtige en unieke dorp – ʼn Suid-Afrikaanse juweel – met vriendelike, lewenslustige en inspirerende mense in die strate. Ons is baie bevoorreg om hier te kan werk – en mens vergeet dit maklik in jou daaglikse gejaagdheid.

Ek is ook dankbaar vir my wonderlike kollegas. Hardwerkende, bekwame spanlede wat ook toeganklik en joviaal is, maak my deel van die werk makliker en genotvol.

As ek net een hoogtepunt kan uitlig wat my vreugde besorg, sal dit wees die direkte impak wat ek kan hê op die ervaring van studente en hul gesinne tydens wat ek aanneem die hoogtepunt van hul akademiese jare is – gradedag – en om deel van daardie grootse skouspel te wees. Ek put geweldige trots en bevrediging daaruit. Wanneer ek ʼn boodskap van ʼn oupa of ʼn ouma ontvang wat ontsteld was omdat hulle nie hul kleinkind se gradedag kon bywoon nie – en hulle dit dan wel virtueel kan doen en om te sien water vreugde dit vir die gesin bring, maak die harde werk die moeite werd. Elke keer. 

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?

Ek het ʼn verrassend wye belangstellingsveld, maar daar is een ding wat min mense van my weet.

Benewens my passie vir die maak van gefermenteerde kos soos kimchi, om hommeltuie te vlieg, sweiswerk en, natuurlik, tegno-katoeters, is ek ook ʼn kranige versamelaar van antieke veiligheidskeermesse – soos dié wat jou oupa gebruik het.

Om hulle te restoureer is die volgende vaardigheid wat ek wil aanleer, maar intussen versamel ek dit nie net nie, maar gebruik hulle waarvoor hulle bedoel was. Daar is net iets betowerends en nostalgies daaraan om iets te gebruik wat voorheen in gebruik was en ʼn geskiedenis het – en wat nie batterye of ʼn WiFi-verbinding nodig het nie. Boonop skeer hulle baie beter as enigiets wat vandag beskikbaar is. Oud is beslis goud werd!