Skip to main content
Hester Klopper ontvang eregraad van Oxford Brookes Universiteit

Hester Klopper ontvang eregraad van Oxford Brookes Universiteit

Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
02 September 2016

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering aan die Universiteit Stellenbosch, is Vrydag (2 September 2016) met ʼn eregraad van die Oxford Brookes Universiteit in Oxford, Engeland vereer. Sy was een van twee vooraanstaande internasionaal-erkende akademici op die gebied van gesondheidsorg wat dié eerbewys te beurt geval het.

Klopper het die graad Doktor in Verpleegkunde, honoris causa, ontvang vir haar voortgesette bydrae tot globale gesondheid, beleid, verpleegkunde en gesondheidsorg.

In ʼn verklaring wat deur Oxford Brookes Universiteit uitgereik is, word Klopper geloof as ʼn internasionale akademiese leier in gesondheidsorg wat hoog aangeslaan word vir haar navorsing en vele publikasies oor, onder meer, positiewe pratykomgewings, veiligheid van pasiënte en die verbetering van kwaliteit, globale gesondheid, en die rol wat verpleegsters speel in die beïnvloeding van beleid en die versterking van gesondheidstelsels.

Sy was ook ʼn studieleier vir meer as 25 doktorale- en 45 magisterstudente.

"Dit is ʼn eer om twee voorste internasionale akademici in gesondheidsorg by vanjaar se gradeplegtigheidseremonie te verwelkom. Hulle sal ʼn inspirasie wees vir al ons verpleegsters wat grade ontvang," het die hoof van Oxford Brookes se Departement Verpleegkunde, dr Liz Westcott, gesê.

Klopper is ʼn voormalige Hoof Uitvoerende Beampte van FUNDISA (Forum for University Nursing Deans of SA) en was vanaf 2013-2015 die President van Sigma Theta Tau Internasionaal (STTI). Sy is ook ʼn buitengewone professor in die INSINQ navorsingseenheid verbonde aan die Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland waar sy voorheen die Dekaan van die Fakulteit Gemeenskaps- en Gesondheidswetenskappe was.

Klopper is die enigste Suid-Afrikaner wat ingehuldig is in die American Academy of Nursing (FAAN) en is ook op 23 Julie vanjaar ingehuldig in die International Hall of Fame for Research Excellence van STTI vir haar internasionale bydrae in navorsing.

  • Lees Oxford Brookes Universiteit se mediavrystelling hier.
  • Lees prof Hester Klopper se toespraak hier.