
Ontmoet die US se 2021 Onderriggenoot: Prof Debby Blaine
Noudat sy 'n navorsingsbeurs as onderriggenoot vir die tydperk 2021 tot 2023 van die Universiteit Stellenbosch ontvang het, sê prof Debbie Blaine sy hoop haar navorsingsprojekte sal 'n ruimte vir jongmense skep om te praat sodat hul stemme gehoor kan word en iets beters vir hulle geskep sal word.
“Nadat ek as lid van die taakspan aan die opstel van die Universiteit Stellenbosch Raadsverslag oor dekolonialisering in 2016 gewerk het, was ek oortuig dat dít wat afwesig is in ons klaskamers, die studentestem is. Die Luister-video, Open Stellenbosch, en gesprekke met studente in my klasse sê vir my daar is hoogs-intelligente, sensitiewe, verbeeldingryke en kreatiewe jongmense op ons kampusse wat regtig tot die vorming van 'n beter akademiese gemeenskap kan bydra."
Blaine se navorsingsbeurs as onderriggenoot sal daarop fokus om deur die konteks van die Fakulteit Ingenieurswese tasbare maniere te verken en te identifiseer waarop die US 'n kollektiewe benadering kan implementeer vir die ontwerp van inklusiewe en hervormde kurrikula wat in die behoeftes van die diverse studente- en personeelgemeenskap sal voorsien.
Blaine is 'n medeprofessor in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese. Sy het in 2007 'n bedryfspos in Duitsland as adjunkbestuurder van materiale navorsing en ontwikkeling by Bleistahl Produktions GmbH & Co vir die US verruil. In 2017 is sy tot medeprofessor in Meganiese en Megatroniese Ingenierswese bevorder. Sy was die eerste vrou wat op hierdie vlak aangestel is sedert die departement 75 jaar gelede tot stand gekom het.
Sy was ook die eerste vrou om as nasionale president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Meganiese Ingenieurswese verkies te word. Blaine was 'n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Ingenieursonderrig en het van 2017 tot 2019 as nasionale president gedien. Sy het ook 2018 'n Toekenning vir Voortreflike Onderrig van die US ontvang in die afdeling vir Uitgelese Dosente vir die Fakulteit Ingenieurswese.
Blaine is 'n Matie-alumna met 'n B-graad in Meganiese Ingenieurswese. Sy het haar doktorsgraad in Ingenieurswetenskappe en Meganika aan die Pennsylvania-staatsuniversiteit (Penn State) in die VSA verwerf.
Volgens Blaine het sy nog altyd belanggestel in hoe goed werk en hoe om dit reg te maak. Haar pa is ook 'n meganiese ingenieur en danksy hom, is haar weetgierige brein reeds van kleins af besig gehou. Dit het haar uiteindelik gemotiveer om in sy voetstappe te volg om ook 'n ingenieur te word.
Terwyl sy gedurende en ná haar doktorale studies as 'n navorsingsassistent by Penn State se Sentrum vir Innoverende Sinterprodukte gewerk het, het sy die geleentheid gehad om as gasdosent sommige klasse in ingenieursmeganika en nagraadse klasse in poeiermetallurgie aan te bied. Dit is hier waar haar belangstelling in 'n moontlik akademiese loopbaan geprikkel is.
Sy het egter besluit om eers bedryfsondervinding as 'n ingenieur op te doen, en dit haar na Duitsland gelei. Hoewel sy haar tyd in die bedryf geniet het, het dit haar ook laat besef dat tersiêre onderrig haar ware passie is. Blaine het ook met die verloop van tyd besef sy kan 'n tasbare verskil in die onderrig- en leeromgewing maak.
“Ek is deur my deelname aan verskeie geleenthede en groepe blootgestel aan idees wat by my aanklank gevind het en wat my laat glo het ons onderrig- en leeromgewing kan op 'n ander manier gestruktureer word. Al hierdie geleenthede en ander dinge het my genoop om die moontlikheid van samewerkende kurrikulumontwerp vir ingenieurswese te verken. Dit behels dat studente en dosente 'n integrale deel van die strukturering van die leeromgewing is sodat dit aan die behoeftes van 'n uiteenlopende groep leerders voorsien en dit is waarop ek as onderriggenoot gaan fokus."
Meer oor die US se Navorsingsbeurs as Onderriggenoot
Die Universiteit Stellenbosch het in 2009 navorsingsbeurse vir onderriggenote bekendgestel om 'n geleentheid aan uitgesoekte akademici te bied om hul kundigheid in onderrig te ontwikkel en om die groei van die vakgebied van onderrig en leer by die Universiteit te stimuleer. Die navorsingsbeurse bied aan uitnemende dosente en vakkundiges op die gebied van onderrig en leer die geleentheid om vir 'n tydperk (tussen een en drie jaar) en met verskillende vorme van ondersteuning op aspekte van kurrikulumhernuwing te fokus, om onderrig en leer te verken en om goeie onderrig- en leerpraktyke in departemente en fakulteite uit te brei.
Die navorsingsbeurse word deur die Universiteit se Kapasiteitsontwikkelingstoekennings befonds. Sedert die instelling van die program in 2009 het die US reeds 13 navorsingsbeurse toegeken. Vier akademici het vir 2021 tot 2023 navorsingsbeurse as onderriggenote ontvang. Dit sluit in dr Taryn Bernard (Verlengde Graadprogram (VGP), Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe), prof Debby Blaine (departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese), dr Gretha Steenkamp (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) en prof Susan van Schalkwyk (Direkteur: Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) in.
Vir verdere inligting, stuur 'n e-pos aan dr Karin Cattell-Holden by [email protected].