
ʼn Soektog na biomerkers wat die erns van Covid-19 siekte kan voorspel
Die Universiteit Stellenbosch (US) is aan die stuur van ʼn nuwe navorsingsprojek wat gesondheidswerkers op die voorste linie kan help om te bepaal watter pasiënte wat vir Covid-19 behandel word ʼn hoë risiko loop om ernstig siek te word.
“Ons beoog om die erns van Covid-19 asook die kliniese uitkomste te voorspel met behulp van algemene én nuwe diagnostiese biomerkers," het prof Peter Suwirakwenda Nyasulu van die Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek in die Departement Globale Gesondheid aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die US gesê. “Ons probeer vasstel of spesifieke biomerkers vir ons kan wys watter pasiënte ʼn hoër risiko vir ernstige siekte en sterfte het. Dié kennis kan help om die kliniese bestuur te verbeter en stel mens in staat om hoë-risiko Covid-19-pasiënte te identifiseer voordat hulle ernstige simptome ontwikkel."
Hierdie samewerkende projek, wat die US, Nairobi Universiteit, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Limpopo en die Universiteit-Kollege Londen insluit, het ʼn twee-jaar lange toekenning van $100 000 ontvang van die Covid-19 Africa Rapid Grant Fund wat die ontwikkeling van kennis oor ʼn reeks navorsingsvrae oor die Covid-19-pandemie ondersteun. Die fonds sluit ondermeer die Kanadese Internasionale Ontwikkeling Navorsingsentrum, die Newton-fonds, UKAid asook die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting en die Departement Wetenskap en Innovasie in.
Data oor Covid-19 van Afrika is skaars en daar word staat gemaak op Westerse data vir voorspellingsmodelle oor die erns van die siekte en sterftes. Die demografiese profiel van pasiënte asook moontlike ko-infeksie soos MIV en TB beteken dat die verloop van die siekte grootliks kan verskil in die Afrika-konteks. Die biochemiese, hematologiese en immunologiese profiel van pasiënte kan aansienlik verskil in ʼn prognostiese model van Covid-19 wat uniek aan Afrika kan wees.
Die studie sal biochemiese, hematologiese en immunologiese biomerkers insluit, asook nuwes wat nie tydens roetine toetse nagegaan word nie maar moontlik verband kan hou met ʼn hoër risiko vir ernstige siekte. Dit sluit in, maar is nie beperk tot, inflammatoriese sitokiene, merkers van vaskulêre endoteliele skade en nuwe miRNA-merkers. Die identifikasie van hierdie biomerkers sal waarskynlik die ontwikkeling vooruithelp van meer verpersoonlike, Covid-19-gerigte terapeutiese benaderings.
“As ons prognostiese biomerkers kan identifiseer wat teenwoordig is by aanvangs, kan ons ʼn risiko-voorspellende telling van die erns van kliniese siekte wat kritiese sorg benodig ontwikkel. Die idee is dat hierdie data gesondheidswerkers op die voorste linie kan inlig oor watter biomerkers om voor uit te kyk wat kan aandui op ʼn hoër kans dat die pasiënte agteruit sal gaan en sterf," het Nyasulu gesê.
“Die studie sal aanvanklik monsters van pasiënte by drie hospitale toets – Tygerberg-hospitaal, Kenyatta Nasionale Hospitaal en Pietersburg-hospitaal in Limpopo," het hy bygevoeg. “Ons benodig 150 monsters van hierdie drie persele. Al die toetse sal op serum gedoen word sodat veelvoudige toetse op dieselfde bloedmonster gedoen kan word."
Nieteenstaande die voordeel aan pasiënte sal die studie ook kapasiteit en vaardighede bou in infeksiesiekte navorsing.
“Ons hoop om Afrika-wetenskap te verstek, vaardighede te ontwikkel en interdissiplinêre samewerking tussen veelvoudige lande en universiteite te versterk. Binne die Fakulteit is die Departement Globale Gesondheid asook die Departemente Patologie en Geneeskunde betrokke, wat verskeie epidemiologiese-, basiese wetenskap- en kliniese kundigheid byeen bring."
“Stellenbosch is aan die stuur van hierdie nuwe projek," het Nyasulu gesê. “Dit aansoekproses was baie kompeterend en die feit dat ons die befondsing ontvang plaas ons globaal op die kaart. Ons word beskou as die vennoot om mee saam te werk om goeie wetenskap te lewer vir akademiese doeleindes, maar ook ten bate van die pasiënt."
“Ons glo dat dit ʼn vernuwende wetenskaplike platform kan wees," het hy mee afgesluit. “Die bevindinge kan daartoe bydrae om doeltreffende kliniese riglyne te ontwikkel vir die bestuur van Covid-19 en kan ook lyding en sterftes verminder in pasiënte wat daardeur geraak word."
Onderskrif: Prof Peter Suwirakwenda Nyasulu. Foto deur Damien Schumann.