Skip to main content
AANLYN ONTWIKKELINGSPROGRAM MET UNIVERSITEIT VAN LUND SUKSESVOL VAN STAPEL GESTUUR

AANLYN ONTWIKKELINGSPROGRAM MET UNIVERSITEIT VAN LUND SUKSESVOL VAN STAPEL GESTUUR

SU International
07 Desember 2020

Sedert die bekendstelling van sy Internasionaliseringstrategie in September 2019 werk die Universiteit Stellenbosch (US) aktief daaraan om te sorg dat personeel op alle vlakke en in alle omgewings van die Universiteit 'n gemeenskaplike begrip vorm van, en deelneem aan, internasionalisering. 'n Ontwikkelingsprogram vir professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel wat onlangs die eerste keer op die proef gestel is, is een manier om steunpersoneel 'n geleentheid vir sinvolle skakeling met een of meer van die US se bilaterale vennootinstellings in die buiteland te bied. 

“Die bedoeling is dat dit as 'n persoonlike én professionele ontwikkelingsprogram sal dien om internasionalisering in die steundiensteomgewing te versterk," verduidelik Lidia du Plessis, koördineerder van Personeelmobiliteit en Vennootskapsprojekte by US Internasionaal. “In samewerking met Menslike Hulpbronne moedig dit ook konsekwente werksprestasie aan. Die visie is om op die huidige program voort te bou om PASD-omgewings en -personeel in goed toegeruste internasionaliseringsentrums en -praktisyns te omskep."

Die eerste aanlyn weergawe van die program het op Donderdag 12 November 2020 plaasgevind. Die geleentheid, wat deur US Internasionaal en die Universiteit van Lund (UL) in Swede aangebied is, moes weens COVID-19-inperkings in 'n aanlyn program omgeskakel word. Ondanks die verandering in aanbiedingsmetode het dit egter alle verwagtinge oortref, en bykans 50 personeellede het die steundiensteomgewings van die US en UL verteenwoordig.

Die program het sowat 'n jaar geduur om te realiseer, en het begin met 'n US-personeelmobiliteitsbesoek aan die UL in 2019. “Toe die US voorstel dat hulle in Oktober 2019 'n groep steundienstepersoneel stuur om by hulle eweknieë by die UL te kom leer, het ons nie dadelik die volle potensiaal daarvan besef nie," sê Pär Svensson, beleidsadviseur en Afrika-streekskoördineerder by die UL. “Maar omdat die US 'n prioriteitsvennoot in die UL se Afrikastrategie is en ons twee instellings mettertyd uitstekende werksverhoudinge opgebou het, het ons besluit om die idee te ondersteun. Dít was uiteindelik die regte besluit, en ná die US-personeelafvaardiging se week by die UL was die voordele duidelik te sien. Heelwat nuwe idees is aanvaar, denke is verander en nuwe kontakte is bewerkstellig wat sowel die US-personeellede as hulle gasheeromgewings by die UL baat."

 Kort ná die US-groep se besoek het die twee instellings begin gesels oor 'n moontlike teenbesoek vir UL-personeel. En toe die pandemie die moontlikheid van 'n fisiese besoek uitskakel, het die klem na die aanbieding van 'n webinaar verskuif.

 Die webinaar het drie gelyklopende sessies ingesluit. Een was 'n opvolggesprek oor die US-besoek in 2019. 'n Ander sessie het die rol van internasionaliseringspraktisyns bespreek, en is deur Anisa Khan, die US se bestuurder van Internasionale Vennootskappe, gefasiliteer. Die derde sessie was 'n interaktiewe aanbieding oor interkulturele vaardigheid, wat personeellede aan die konsep van interkulturele vaardigheid en die komponente van interkulturele kommunikasie bekend gestel het. Hierdie sessie is aangebied deur Alecia Erasmus, koördineerder van Vennootskapsontwikkeling en Erasmus+-programme by die US. Richard Stenelo, direkteur van Internasionalisering by die UL, het ook meer vertel oor die UL se COVID-19-reaksie.

 Albei instellings is opgewonde oor die impak van die program, en die moontlikhede wat dit skep. “Die webinaar is nie net die US se eerste aanlyn PASD-program nie, maar ook 'n nuttige innovasie vir die UL. Die internasionalisering van die hoër onderwys bestaan nie meer net uit studentemobiliteit nie, maar het in iets veel groter ontwikkel, wat onder meer verskillende tipes samewerking tussen vennote insluit. Hierdie webinaar is 'n nodige stap na 'n meer volhoubare soort internasionalisering," sê Svensson.

 Vir Robert Kotze, senior direkteur van US Internasionaal, lê die belang van die program daarin dat dit steundienstepersoneel so ver kry om hulleself as internasionaliseringspraktisyns te beskou. “Hoewel personeel in internasionaliseringskantore die hoofspelers is om hulle kampusse te internasionaliseer, vereis omvattende institusionele internasionalisering dat alle steunpersoneel ook húlle deel as internasionaliseringspraktisyns doen," sê hy. “Vir dié doel moet steunpersoneel verstaan wat die internasionalisering van die hoër onderwys beteken en die kerninhoud van hulle instelling se internasionaliseringstrategie ken. Die doel van hierdie webinaar was om aan steunpersoneel te wys dat hulle 'n transformerende bydrae in hierdie verband kan lewer.

 “Programme soos dié een sal uiteindelik alle US-personeellede, ongeag die omgewing waarin hulle werk, in staat stel om aktief 'n internasionale, interkulturele en globale element by die Universiteitsgemeenskap te integreer," sluit Kotze af.