Skip to main content
Geduld aangestel as nuwe hoof van Noodgeneeskunde

Geduld aangestel as nuwe hoof van Noodgeneeskunde

Birgit Ottermann
30 April 2019

Dr Heike Geduld is ʼn baanbreker in die noodgeneeskunde. Sy was deel van die heel eerste klas van noodgeneeskundiges wat 12 jaar gelede in Afrika gegradueer het en het sedertdien groot vooruitgang gemaak as leier, opvoeder en kampvegter vir hierdie belangrike mediese veld. 

Geduld hoop om in haar nuwe rol as medeprofessor en hoof van die Afdeling Noodgeneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch die voetspoor van noodgeneeskunde in Afrika te vergroot deur meer jong dokters aan te moedig om in hierdie veld te spesialiseer. 

“My hoofbelangstelling is die onderrig van noodgeneeskunde en die integrasie daarvan in die kurrikulum, veral wanneer dit kom by die benadering tot nood- en vaardigheidsopleiding. Daar sal dus oor die volgende vyf jaar sterk klem gelê word op ons opleidingsmetodes in beide die voor- en nagraadse programme. Ek wil ook graag goeie verhoudings bou met al die ander mediese spesialisrigtings. Noodgeneeskunde is een van slegs ʼn handjievol spesialisrigtings wat baie ander oorvleuel en dus baie moontlikhede bied vir gesamentlike navorsing, die gemeenskaplike ontwikkeling van kliniese protokols en ʼn geïntegreerde benadering tot die hele gesondheidsorgstelsel." 

Geduld beskik oor ʼn rykdom van kennis en ervaring. Nadat sy as noodgeneeskundige gekwalifiseer het by Emergency Medicine Cape Town (EMCT), ʼn gesamentlike spesialis-opleidingsprogram van die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad, en die eerste in Afrika, is sy aangestel as hoof van Opvoeding en Opleiding by EMCT. 

“Ek het sedert 2012 die onderrig en opleiding van noodgeneeskundiges aan albei universiteite gelei. Aangesien noodgeneeskunde-opleiding egter nou meer gevestig raak in Suid-Afrika, is daar besluit om die oorspronklike gesamentlike opleidingsprogram in twee te deel, sodat elke universiteit sy eie hoof van noodgeneeskunde kan hê en noodgeneeskunde as spesialisrigting in sy eie mediese fakulteit kan bevorder. Gevolglik is ek aangestel as medeprofessor en hoof van Noodgeneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch." 

Noodgeneeskunde is ʼn relatief nuwe spesialisrigting in Suid-Afrika wat fokus op die kennis en vaardighede wat vereis word vir die vinnige diagnose en behandeling van ʼn pasiënt wat in nood verkeer weens ʼn akute siektetoestand of besering. 

“Noodgeneeskundiges moet baie vinnig kan besluite neem oor die mees geskikte behandeling om ʼn pasiënt se lewe te red,“ verduidelik Geduld. “Mense is geneig om te dink dat enige geneeskundige sal weet wat om in ʼn noodgeval te doen, maar dis nie altyd waar nie. In die verlede het gesondheidsorgopleiding meer gefokus op siektes en diagnose, maar nie ʼn gestruktureerde denkwyse vir noodgevalle ingesluit nie. Ons werk tans baie hard om hierdie kennis leemte aan te spreek met basiese kortkursusse en deur noodgeneeskunde in te sluit by voor- en nagraadse opleiding. Die hoogtepunt van hierdie opleiding is die spesialisering van dokters in noodgeneeskunde." 

Geduld is ʼn selferkende werkslaaf wat mal is oor wat sy doen. Benewens haar rol as opvoeder en opleier dien sy ook as president van die Kollege van Noodgeneeskunde van Suid-Afrika, direkteur van die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika, en, tot November verlede jaar, as president van die Afrika-federasie vir Noodgeneeskunde.