Skip to main content
TUD COIIIL-vennote neem projekvordering in oënskou

TUD COIIIL-vennote neem projekvordering in oënskou

Sarah van der Westhuizen; Manager: Global Education Centre
28 April 2021

​Die halfwegkonferensie van die projek TUD COIIIL (“TU Dresden Collaborative Online International, Interdisciplinary and Intercultural Learning") het van 23 tot 25 Maart 2021 plaasgevind. Hoewel die projekvennote – TU Dresden, die Universiteit Stellenbosch (US) en Shiraz-universiteit – graag van aangesig tot aangesig wou ontmoet, het hulle uiteindelik ooreenkomstig COVID-19-protokolle aanlyn byeengekom.

TUD COIIIL, wat in Oktober 2020 van stapel gestuur is, beoog om digitalisering in internasionaliseringsverband toe te pas en 'n gemeenskaplike virtuele platform te bou om onderrig- en vennootskapsinstrumente te versamel, uit te ruil en verder te ontwikkel. Die jaar lange program is in die besonder daarop uit om gemeenskaplike tussenkulturele opleidingskurrikula te ontwikkel wat op hulle eie óf as deel van gewone studieprogramme gebruik kan word. Nóg 'n doel is om leerontledingsinstrumente vir tussenkulturele kurrikula te ontwerp. Die projek word deur die Duitse Akademiese Uitruildiens gefinansier.

 Verteenwoordigers van die drie vennote sowel as twee eksterne evalueerders het ingeskakel om projekvordering te bepaal en te dokumenteer. Hoewel die inisiatief in September 2021 ten einde loop, is die plan om 'n aansoek om verdere finansiering in te dien en sodoende die projekleeftyd te verleng.

 Gesamentlike oggendsessies en wegbreekgroepe het onderwerpe soos tussenkulturaliteit, virtuele samewerkende leerraamwerke, digitale internasionale onderrig en internasionale vennootskappe ondersoek. Nietemin is die geleentheid hoofsaaklik gebruik om die pad vorentoe te beplan en uit te stip, en om te identifiseer watter uitsette teen September 2021 gelewer moet word[H1] . Deelnemers het gedurende die konferensie saamgewerk aan 'n Mirobord (sien afbeelding hierbo) – 'n aanlyn witbord vir visuele samewerking. Projekvennote het elke dag aan 'n bepaalde deel van die bord gewerk en die vordering en besluite van die dag gedokumenteer. 'n COIIIL-tydlyn is ook opgestel. 

 By gebrek aan persoonlike kontak was daar ook 'n paar innoverende oplossings om gemeenskapsbou aan te help en verhoudings tussen die projekvennote te versterk. Een voorbeeld was gather.town Pub, 'n virtuele sosiale ruimte waar deelnemers deur avatars (sien skermgreep hieronder) en intydse video-oproepe met mekaar kon omgaan, wat 'n prettige ervaring was.

Die konferensie sal gevolg word deur aanlyn werkgroepe wat aan spesifieke projekuitsette sal werk. Die vennote hoop om die projek in September van aangesig tot aangesig met 'n konferensie by die US af te sluit.