Van Moskou na Stellenbosch – US se eerste Russiese student
Die keuse tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en Ca 'Foscari Universiteit in Venesië, Italië was 'n maklike besluit. So sê Aleksei Bashlykov, 'n student van Rusland, oor sy keuse om in Stellenbosch en nie in Venesië te studeer nie. Aleksei, wat die eerste student van Rusland is om aan die US te studeer, sê hy geniet dit om 'n Matie te wees.
Aleksei, 'n Rekenaarwetenskap-student is vir 'n semester by die US geregistreer en woon klasse in rekenaarprogramering en wetenskapfilosofie by. Hy is tot in Desember by die universiteit, op uitruil van die National Research University Higher School of Economics (HSE) in Rusland. HSE is 'n vooraanstaande ekonomie- en sosiale wetenskappe-universiteit in Oos-Europa en word as een van Rusland se top universiteite beskou. Die universiteit is een van talle vennootuniversiteite in BRICS-lande wat mobiliteitsgeleenthede aan US personeel en studente bied.
Vir Aleksei is Stellenbosch die “verste bestemming'' waar hy ooit was en dis ook die rede hoekom hy besluit het om 'n semester by die US te spandeer.
Die Universiteit Stellenbosch bied meer interessante kursusse aan en ek dink ek sal meer ondervinding in Suid-Afrika as in Italië kry. Ek het al heelwat in Europa gereis, terwyl dit my eerste keer hier in Suid-Afrika is."
Stellenbosch is “n baie klein en gesellige plek", anders as sy tuisstad Moskou, “'n groot stad," sê Aleksei. Die universiteit en die dorp bied 'n unieke ervaring sê hy.
"Eerstens is daar die mense wat hier woon en studeer. Die duisende studente skep 'n baie koel en unieke atmosfeer. Elke dag ontmoet jy nuwe mense, neem deel aan verskeie aktiwiteite en jy raak nooit verveeld nie. Studente lewe is baie intens hier. Tweedens, dis 'n baie internasionale plek, maar mense volg steeds plaaslike tradisies. Een daarvan is om elke dag te braai. Vleis is 'n groot deel van die plaaslike kos en mense eet dit in groot hoeveelhede. Daar is ook die wyn waarvoor Stellenbosch plaaslik en internasionaal bekend is."
Aleksei sê hy hou daarvan dat die US 'n sentrale kampus het, anders as HSE waar universiteitsgeboue rondom die stad versprei is. Daar is ook natuurlik die “groot winkelsentrums, die stadion, fliekteater en talle restaurante, kroeë en kafees" .
"Ek hou daarvan dat alles op een plek geleë is en dat jy te voet of per fiets enigeplek kan kom. Dis ook lekker dat dit 'n studentestad is. Elke tweede persoon wat jy hier ontmoet is van die universiteit en daar is baie studente aktiwiteite. Daar gebeur letterlik elke dag iets interessant."
Aleksei moedig US-studente aan om vir mobiliteitsgeleenthede by HSE aansoek te doen en sê daar is baie om na uit te sien. "Rusland het 'n lang en interessante geskiedenis en daar is baie kulturele aantreklikhede regoor die land. Moskou bied goeie loopbaangeleenthede aan en die universiteite bied is wêreldklas. "
US-studente wat belangstel in uitruil en winter-/ somerskoolgeleenthede in die buiteland, kan Sarah van der Westhuizen by [email protected] of Bantu Louw by [email protected] kontak.