
Studente veroordeel Nazi-propaganda op kampus
Verskeie studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (11 Mei 2017) die verspreiding van "Nazi"-propaganda, rassepolarisering en -meerderwaardigheid op kampus skerp veroordeel.
Hulle het tydens ʼn massa-saamtrek op die Rooiplein op die Stellenbosch-kampus sterk te velde getrek teen diegene wat vroeër die week "Nazi-plakkate" op kampus aangebring het. Die geleentheid is deur onder meer die Studenteraad en DASO Maties gereël.
Sprekers wat studenteorganisasies verteenwoordig sowel as lede uit die gehoor het hul mening oor die situasie gelig. Sommige het hulle sterk uitgespreek teen vorme van voorgesette rassisme op kampus, terwyl ander krities was teenoor die US se hantering van die aangeleentheid en gesê het die Universiteit doen nie genoeg om sulke voorvalle te verhoed nie. Nog sprekers het gevra vir eenheid onder die verskillende rassegroepe op kampus.
Ook teenwoordig by die geleentheid was mnr Jaco Greeff Brink van die Eenheid vir Gelykwaardigheid en die studentedekaan, me Tonia Overmeyer, wat in solidariteit met die studente gesê het die US is ʼn plek van inklusiwiteit waar rassisme nie geduld moet word nie.
Een van die studente wat geïmpliseer word in die verspreiding van die plakkate was ook deel van die gehoor. Hy het aangedring op ʼn spreekbeurt, maar die organiseerders het hom dit geweier.
- Foto: Studente by die massa-saamtrek op die Rooiplein.
- Fotograaf: Aydn Parrot