Skip to main content
A photo of Prof Deresh Ramjugernath at SU's Welcoming Ceremony in 2026
Image by: Stefan Els
Gebeure Impak Institusionele nuus

‘Jy hoort hier’ hoor nuwe generasie Maties by vrolike Verwelkoming

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
29 Januarie 2026
  • Meer as 6 000 nuwelingstudente is gedurende 'n energiebelaaide geleentheid by die Danie Craven-stadion amptelik by die Universiteit Stellenbosch verwelkom.
  • Die geleentheid was die eerste verwelkoming wat deur die US se Rektor en Visekanselier, Prof Deresh Ramjugernath, gelei is.
  • SR-leier Simiso Langa het ook 'n kragtige toespraak gelewer waarin sy studente aangemoedig het om dapper te leef en verantwoordelikheid te aanvaar.

Stellenbosch was Woensdagmiddag 'n feitlik perfekte verhoog vir een van die hoogtepunte op die Universiteit se akademiese kalender. Die berge het in die laatsomerlig gegloei, 'n sagte briesie het deur die hitte gesny en die Danie Craven-stadion het van afwagting gepols toe meer as 6 000 eerstejaars en nuwe nagraadse studente bymekaargekom het vir die Universiteit Stellenbosch (US) se amptelike Verwelkomingsgeleentheid.

Nog lank voor die formele program begin het, was Coetzenburg reeds met klank en kleur gevul. Die seremoniemeester, Ayanda Mlatsha, Klusteronderrigkoördineerder by die Sentrum vir Studentelewe en Leer – bygestaan deur die US se lewenslustige gelukbringer, Pokkel, het die verskillende studenteklusters op die maat van 'n DJ Brendt Wayne de Wet aangevuur, met golwe van stemme wat telkens “Maaaaties!” uitgeroep het van die pawiljoen af.

Lede van die Rektoraat, fakulteitsdekane, senior bestuur, studenteleiers en verteenwoordigers van ander Universiteitstrukture het by die studente se ouers en gesinne aangesluit vir die geleentheid. Die eregas was Stellenbosch se Uitvoerende Burgemeester, raadslid Jeremy Fasser.

'n Eerste Verwelkomingsgeleentheid vir 'n nuwe rektor 

Sentraal tot die viering was 'n simboliese mylpaal vir die instelling: die eerste amptelike verwelkoming gelei deur die US se nuwe rektor en visekanselier, prof Deresh Ramjugernath. 

Ramjugernath het sy toespraak aan die volgepakte stadion begin deur die omgewing te erken. “Ek is seker niemand sal met my verskil dat ons waarskynlik hier een van die mooiste agtergronde het nie,” het hy gesê en na die Jonkershoek-bergreeks agter hom gewys. Onder luide toejuiging het hy genoem dat die US-kampus onlangs as een van die top tien mooiste universiteitskampusse ter wêreld erken is. 

Ramjugernath het ouers, voogde en ondersteuners verwelkom en hulle bedank vir die rol wat hulle gespeel het om studente tot by hierdie oomblik te bring. Hy het ook personeel en studenteleiers vir hulle daaglikse werk erken om SU as 'n toonaangewende instelling op die vasteland en wyer te ondersteun. 

Met betrekking tot die nuwelinge het hy studente daaraan herinner dat die mededinging vir universiteitsplekke besonder straf was ná die matriekklas van 2025 se rekordslaagsyfer. "Dit is 'n erkenning van jou harde werk, jou vasberadenheid en jou deursettingsvermoë dat jy vandag hier teenwoordig is," het hy gesê. "Baie geluk met julle prestasies en welkom as nuwe Maties." 

Ramjugernath het ook na die geleentheid se persoonlik betekenis vir hom verwys: "Dit is my eerste amptelike verwelkoming as Rektor van die Universiteit Stellenbosch," het hy opgemerk. "Ek is opgewonde, ek is trots, en ek is diep dankbaar vir die geleentheid om hierdie wonderlike instelling te lei." 

‘Jy hoort hier’

Een van die kern-boodskappe van Ramjugernath se toespraak was die idee van tuishoort. "Ek wil hê julle moet dit duidelik van die heel eerste dag af hoor," het hy aan die studente gesê. "Jy hoort hier. Almal van julle." 

Of studente nou uit groot stede of klein dorpies afkomstig is, eerste-generasie universiteitsinskrywings is, of uit gesinne met lang akademiese tradisies kom, is die US, het hy gesê, 'n plek waar almal welkom is. Die Universiteit is nie net 'n plek om 'n kwalifikasie by te verwerf nie, maar 'n plek wat studente help om mense te word wat betekenisvolle bydraes tot die wêreld kan lewer. 

Met verwysing na die US se institusionele waardes – uitnemendheid, deernis, aanspreeklikheid, respek en gelykheid – het Ramjugernath die studente aangemoedig om hierdie beginsels ook buite hulle studie uit te dra. Die wêreld waar hulle gaan betree, het hy gesê, het gegradueerdes nodig wat probleme kan oplos, vertroue kan bou en eties kan lei. 

Hy het ook 'n blik op die harde werklikheid gebied. Die universiteitslewe kon oorweldigend wees, het hy erken, en onafhanklikheid kom met verantwoordelikheid. "Om hulp te vra is nie 'n teken van swakheid nie," het hy gesê. "Dit is 'n teken van krag." Hy het studente aan die vele ondersteuningstrukture herinner wat beskikbaar is, van dosente en mentors tot studentleiers en professionele praktisyns. 

Ramjugernath het nuwelinge uitgenooi om ten volle deel te neem aan die akademiese, mede-kurrikulêre en buitemuurse lewe, en hulle aangemoedig om te help om 'n kampuskultuur van sorg en insluiting te skep. "Hierdie Universiteit word wat ons kies om dit te maak deur die manier waarop ons mekaar behandel, die manier waarop ons leer, die manier waarop ons lei en die manier waarop ons struikelblokke oorkom."

‘Jy is deel van die 5%’

Die tweede toespraak, gelewer deur Simiso Langa, Voorsitter van die tussentydse Uitvoerende Komitee van die Studenteraad (SR), het ook warm applous en toejuiging by die skare ontlok. 

Langa het die nuwelingstudente welkom geheet by dít wat sy as 'n gemeenskap van geleenthede, groei en behoort beskryf het, terwyl sy hulle aan die betekenis van hulle prestasie herinner het. Slegs 15% van Suid-Afrikaanse matrikulante maak dit tot by universiteit, het sy opgemerk, en van die tienduisende aansoeke wat die US elke jaar ontvang, eindig net sowat 5% in finale aanbiedinge. "Jy is deel van daardie 5%," het sy gesê. "Jy is 'n lewende bewys dat onwaarskynlike dinge gebeur."

Sy het die oorgawe en opwinding beskryf van eerstejaars, maar Langa was ook eerlik oor die uitdagings gepraat wat studente teëkom – eensaamheid, finansiële onsekerheid, kos- en akkommodasieprobleme, en die druk om jou ware self weg te steek. Om deel te wees van die 5%, het sy gesê, bring verantwoordelikheid mee: om nie net akademies nie, maar ook in karakter, empatie en moed te groei.

Met verwysing na die mite van Ikarus, het Langa studente aangemoedig om nie te laag te vlieg deur veilig te speel nie. "Dit is beter om 'n lewe vol sweefpogings te lei as om spyt te wees dat jy nooit van die grond af opgestyg het nie," het sy gesê en die studente aangemoedig om dapper te wees, vrae te vra en hulle plek vol te staan. 

"Hierdie reis gaan nie net daaroor om graad te vang nie," het sy afgesluit. "Dit gaan daaroor om te ontdek wie jy is, lewenslange verbintenisse te bou en 'n nalatenskap agter te laat wat diegene wat ná jou kom, sal inspireer." 

'n Droomoptog om te onthou 

Die studente het na afloop van die formele verrigtinge en nadat die amptelike 2026-foto op die rugbyveld geneem is, aan die simboliese Droomoptog al langs Victoriastraat deelgeneem. Vergesel deur die Stellenbosch VGKSA Brigade-orkes, het hulle by 'n banier verbygestap wat as simboliese teken van die begin van hulle akademiese reis gedien het. In ooreenstemming met tradisie het die nuwelinge handgeskrewe kaartjies aan die bome langs die roete vasgespeld waarop hulle hul hoop en aspirasies neergepen het.  

Die Rektor het hulle vroeër daaraan herinner dat hierdie optog 'n diepgaande oomblik op hulle akademiese reis is, en dat hulle dit moet onthou wanneer uitdagings opduik. "Kom altyd terug na jou droom. Onthou daardie oomblik toe jy in Victoriastraat afgestap en daardie droom aan 'n boom vasgesteek het. Laat dit jou herinner aan waarom jy begin het en waarom jy die doel, die passie, die dryfkrag vir uitnemendheid en die deursettingsvermoë het om die reis aan die Universiteit Stellenbosch te voltooi."

Verwante stories