Skip to main content
A photo of the participants at the recent Health and Wellness Workshop
Image by: Ignus Dreyer

SU staff gathered for a two-day strategic workshop hosted by the Institutional Committee of Staff Health and Wellbeing to co-create a more integrated, multi-dimensional, compassionate approach to health and wellbeing.

Kampuslewe Gebeure Institusionele nuus

Gesondheid- en welweeswerksessie karteer ʼn vermenslikende pad vorentoe vir US

Corporate Communications
01 Desember 2025
  • US-personeel het vir ʼn tweedaagse strategiese werksessie byeengekom wat deur die Institusionele Komitee vir Personeelgesondheid en Welwees aangebied is om saam ʼn meer geïntegreerde, multidimensionele, deernisvolle benadering tot gesondheid en welwees te skep.
  • Deelnemers van die Welweesambassadeursprogram en ander omgewings het ernstig beraadslaag, bekommernisse én oplossings geopper en ʼn inspirerende gevallestudie geprys.
  • Die werksessie was ʼn belangrike stap vorentoe in die formulering van ʼn waardegebaseerde welweesstrategie wat op moderne welweeswetenskap, medewerking, eerlikheid en ʼn gedeelde doelwit gegrond is.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn beslissende tree in die rigting van ʼn meer mensgesentreerde institusionele kultuur gegee met ʼn tweedaagse Gesondheid- & Welwees- Strategiese Werksessie wat onlangs by die Protea Hotel in Technopark gehou is. Personeellede van reg oor die instelling het byeengekom om nie passief te luister nie, maar aan leergesprekke deel te neem, te besin en saam te skep.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het in sy verwelkomingsrede die geweldige druk erken waarmee individue en gemeenskappe te kampe het. Hy het benadruk dat die soeke na welwees universeel is en dat diepte, eerlikheid en ʼn kollektiewe bereidwilligheid nodig is om konvensionele benaderings opnuut te oorweeg. “As menslike wesens het ons ʼn eienskap gemeen: kwesbaarheid. Dit gaan nie daaroor om swakheid te toon nie, maar oor die moed om egtheid te omarm.”

Koopman het welwees regstreeks aan die US se visie van ʼn florerende akademiese gemeenskap gekoppel wat op doelgerigtheid, vennootskap en sorg gegrond is. Sy beroep vir ʼn dieper verankerde welweeskultuur het die toon vir die daaropvolgende beraadslagings aangegee wat verder as breë konsepte na praktiese vrae beweeg het oor hoe die US gesonder, meer verbonde werkswyses kan ondersteun wat die personeel se volle egtheid as menslike wesens insluit.

Dr Kathryn Grammer, Senior Direkteur: Kampusgesondheid en organiseerder van die geleentheid, het ʼn oorsig van die Universiteit se welweesreis gegee, asook van die samewerkingspogings wat vorm aan die werksessie gegee het. Sy het gesê ofskoon daar “wonderlike pogings” by die US was, is daar ʼn behoefte aan die integrasie van gesondheids- en welweesinisiatiewe.

“Ons is vandag hier byeen om te bepaal hoe ons die nastrewing van welwees vir die volgende vyf jaar wil benader,” het sy verduidelik. ʼn Nuwe benadering moet ekosistemies, geïntegreerd en ingebed wees. Dit sal nie net groter koördinering nie, maar sintese in die praktyk vereis, het sy benadruk. Internasionale denke oor welweespraktyke en die multidissiplinêre benadering daarvan is uiteengesit om ʼn beter gedeelde begrip van belangrike aandrywers van welwees in die werkplek te skep.

Grammer se gedagtes het die grondslag gevorm van wat talle deelnemers oor die volgende twee dae sou herhaal: personeelgesondheid en -welwees is nie randbekommernisse nie, maar is aan die hart van ʼn florerende, waardegedrewe universiteit wat mense sentraal stel.

Intervensies wat insig – en eerlike nadenke – ontlok

Voorleggings op die tweede dag het die geleefde werklikhede wat personeellede se welwees vorm, skerp in fokus gebring. Die oggendsessie het begin met prof Gina Gorgens van die Departement Bedryfsielkunde wat lig gewerp het op hoe uitbranding, depressie en angs die werkkultuur kan beïnvloed en hoe toksiese omgewings toksiese gedrag kan meebring. Gorgens het aangevoer dat welwees en institusionele prestasie onafskeidbaar is. Sy het na navorsing verwys wat toon hoe tegnostres en angs oor kunsmatige intelligensie in die werkplek tot uitputting kan bydra en sodoende ons algehele digitale welwees kan beïnvloed.

Sy het verwys na die teorie van die Bewaring van Hulpbronne, wat ʼn raamwerk bied om te verstaan hoe hulpbronne, insluitende persoonlike eienskappe soos veerkragtigheid, deursettingsvermoë en selfdoeltreffendheid, welwees vorm. “Diegene met sterk persoonlike hulpbronne is beter toegerus om toegang tot verdere ondersteuning te verkry, wat positiewe siklusse van veerkragtigheid vorm,” het sy opgemerk. “Omgekeerd kan ʼn gebrek aan hulpbronne spirale van stres en onbetrokkenheid afwaarts dryf.”

Dr Alten du Plessis van die Afdeling Institusionele Strategie, Navorsing en Analise het insigte uit die Flourish4Life-inisiatief aangebied. Deur op bewysgebaseerde praktyke te steun wat in die kliniese sielkunde gebruik word, ondersteun die program studente en personeel om veerkragtigheid te bou, emosionele vaardighede te kweek en welweespraktyke in die daaglikse lewe te integreer. “Dis moontlik om te floreer wanneer individue toegang tot gereedskap en ondersteuning het,” het Du Plessis gesê en benadruk dat welwees nie as iets aparts van akademiese en institusionele werk beskou kan word nie.

Gevallestudie van die vierdag-werkweek

Deelnemers het veral belangstelling in die insigte van dr Charl Davids, Direkteur: Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO), getoon wat ʼn openhartige voorlegging oor sy Afdeling se reis na ʼn vierdag-werkweek gedoen het. Hierdie inisiatief het die afgelope twee jaar beduidende positiewe uitkomste vir personeelwelwees, produktiwiteit en hulpbronbestuur opgelewer.

Die loodsprojek, wat in Februarie 2024 van stapel gestuur is, het ontstaan uit dringende uitdagings waarmee die SSVO te kampe het. “Ons het toenemende druk in ons omgewing gesien,” het Davids vertel. “Personeel het uitbranding en gesondheidsprobleme ervaar, wat deur lang studentewaglyste en ʼn hoë werklas vererger is. Met salarisverhogings buite bereik, het ons geweet ons het ʼn ander oplossing nodig.”

Ná uitgebreide oorlegpleging het die SSVO -leierskorps besluit om ʼn vierdag-werkweek in te stel, met ʼn toegewyde “welweesdag” elke week. Dit is gerig deur die beginsel dat produktiwiteit gemeet moet word aan uitkomste, nie bloot ure by ʼn lessenaar nie. “Dit gaan nie daaroor om minder te werk nie. Dit gaan daaroor om slimmer te werk en ons gesondheid eerste te stel,” het Davids benadruk.

Die gevolge was merkbaar: “Siekverlof het aansienlik afgeneem, konsultasiefooie het gedaal en personeellede het beter geestesgesondheid, groter werktevredenheid en ʼn beter balans tussen werk en lewe ervaar,” het Davids opgemerk.

Hy het erken daar sal uitdagings ondervind word om so ʼn model oor verskillende Universiteitsdepartemente heen in werking te stel, veral waar uitsette minder kwantifiseerbaar en omgewings minder ingeslote is. Hy het egter die belangrikheid van leierskap beklemtoon wat personeellede se welwees prioritiseer: “As ons ʼn werklik vermenslikende kultuur wil bevorder, moet ons kreatief en buigsaam wees en oplossings by die werklikhede van elke omgewing aanpas,” het Davids gewaarsku.

Die gevallestudie oor ʼn vierdag-werkweek het getoon dat dapper proeflopies gesonder spanne en groter produktiwiteit kan meebring, het een deelnemer opgemerk. ʼn Ander het dit as ʼn “spelbreker” beskryf wat haar denke oor vertroue, outonomie en die toekoms van werk by die US verander het.

Uitdagings wat nie oornag opgelos kan word nie, is ook gedurende besprekings geopper. Personeellede het hulle kommer oor sistemiese uitdagings, werkladings, vergoeding, ʼn gebrek aan kollektiewe bedingingsgeleenthede, hulpbronne en die emosionele eise wat aan spanne gestel word, uitgespreek. Van hierdie bekommernisse, soos erkenning- en beloningstelsels, sal aandag geniet wanneer beleide soos die Prestasiebevorderingsraamwerk in 2026 in werking gestel word.

Werksessie ʼn ‘keerpunt’

Deelnemers het saamgestem dat die gees van deelname hierdie werksessie laat uitstaan het. Die sessies was hoogs interaktief en die fasiliteerders, drr Lianne Keiller en Lesedi Makhurane, het ruimtes vir oop dialoog en kreatiewe probleemoplossing geskep. Die vertrek het dikwels gegons van die energie van personeellede wat hulle stories openhartig gedeel het, sistemiese uitdagings gekarteer het en ʼn welweesvisie vir die toekoms met behulp van ʼn koppestampsessie bedink het. Daar kon by tee en middagete gehoor word hoe personeellede idees herbesoek en ervarings deel, totdat konsensus bereik is oor vyf kritieke elemente wat die US se welweesstrategie sal ondersteun.

“Die werksessie het eg en hoopvol gevoel omdat bekommernisse nie opsy geskuif is nie, maar openlik bespreek is,” het een deelnemer opgemerk. “Jy kon die opwinding aanvoel. Mense wou opnuut nadink oor hoe ons dinge by die US doen. Die probleme is in die werksessie erken, maar dit het ons ook ʼn blik gegee van wat moontlik is.”

Teen die einde van die tweede dag het temas begin uitkristalliseer: die behoefte aan institusionele konsekwentheid; die belangrikheid van deernisvolle leierskap; die waarde van emosionele intelligensie in die navigasie van die moderne akademiese lewe; en die dringendheid om strukturele druk wat welwees ondermyn, aan te pak. Hierdie insigte sal die US se ontwikkelende welweesstrategie regstreeks beïnvloed, het Grammer in haar slotopmerkings bevestig.

“Ons gaan doelgerig saam beweeg, want julle het reuse-idees en ryk gesprekke oor julle lewenservarings na vore gebring,” het Grammer gesê. Die werksessie is ʼn keerpunt vir die US se welweesstrategie, het sy bygevoeg en opgemerk dat maande se voorbereidingswerk nou “regte momentum” gekry het. Die idees wat by die werksessie na vore gekom het, sal deur ʼn deursigtige bestuursproses vorentoe geneem en in die Institusionele Komitee vir Personeelgesondheid en -welwees inslag vind. Die hernieude samewerking en gedeelde doelwit oor die US heen dui op ʼn belowende grondslag vir die inwerkingstelling van die nuwe welweesraamwerk, het Grammer afgesluit. Verdere oorlegpleging en kommentaar sal in die nuwe jaar geskied sodra die konsepraamwerk opgestel en versprei is.

Ofskoon uitdagings steeds bestaan, het deelnemers die werksessie oorweldigend as ʼn positiewe en noodsaaklike stap vorentoe beskryf. Soos een deelnemer dit gestel het: “Ek glo dit het ʼn welweesbeweging aangewakker – een waarvan ek trots is om deel te wees en gretig is om te help voortsit.”

Verwante stories