Skip to main content
Dyan Buis photographed with his Master’s degree at the Coetzenburg Athletics Stadium in Stellenbosch.
Image by: Stefan Els

Voormalige wêreldklas-naelloper en -verspringer Dyan Buis spog nou met ʼn meestersgraad.

Opvoedkunde

Voormalige Paralimpiese gouemedaljewenner ontvang meestersgraad

Alec Basson
09 Desember 2025
  • Dyan Buis verwerf meestersgraad in opvoedingsbeleidstudie.
  • Sy jongste prestasie is ʼn bewys van sy ingesteldheid van aanhouer wen.
  • Hy help bevorder sosiale geregtigheid en billike onderwysgeleenthede.

Dissipline. Veerkragtigheid. Deursettingsvermoë.

Hierdie eienskappe het Dyan Buis, ʼn voormalige Paralimpiese gouemedaljewenner en wêreldkampioenatleet, van die dorpie Riversdal na die kruin van die sportwêreld geneem. Dieselfde eienskappe wat Buis in sport laat uitblink het, het hom deur die navorsing vir sy meestersgraad in opvoedingsbeleidstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedra. Hy het Maandag (8 Desember 2025) by die US se Desember-gradeweek graad gekry.

Buis se jongste prestasie is ʼn bewys van sy ingesteldheid van aanhouer wen, wat hom dwarsdeur sy lewe goed te staan gekom het. Hy is op ʼn baie jong ouderdom met ligte serebrale verlamming gediagnoseer (ʼn toestand wat beweging en spierbeheer beïnvloed en deur breinskade veroorsaak word), en moes altyd bewys dat hy suksesvol kon wees in wat hy ook al aanpak. En hy het nooit sy gestremdheid as ʼn verskoning gebruik nie.

“My motivering was om altyd na die sterre te reik, om altyd my beste te gee. In sport het ek geleer dat ek alles doen om eer te bring aan die Here en Verlosser wat my die talent gegee het. Ek weet goed dat ek niks op my eie bereik het nie.”

Oplossings- en doelgerig

Buis, ʼn onderwyser by die Hoërskool Lückhoff in Stellenbosch en ʼn pastoor by die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika, beskryf homself as baie mededingend, prestasiegedrewe en oplossings- en doelgerig. G’n wonder dat hy ʼn wêreldklas-naelloper en -verspringer geword het wat nou boonop ʼn meestersgraad op sy kerfstok het nie.

“Al is dinge moeilik, het ek geleer om ʼn makliker manier te vind. Ek het geleer om baie selfversekerd te raak in my vermoëns en met wat ek met die hulp van die Here kan bereik. Om met ʼn gestremdheid te leef is om maniere te vind om te oorkom, aan te pas en daagliks na oplossings te soek,” vertel hy.

“Deur met ʼn gestremdheid te leef en hoëprestasiesport te beoefen het ek geleer dat opgee nie ʼn opsie is nie. Ek het geleer om hard te werk en gefokus te wees. As jy ʼn doelwit bereik, stel die lat ʼn bietjie hoër om aan te hou verbeter.

“Uitnemendheid is my doelwit in alles wat ek doen,” voeg Buis by. “Ek het prominente mense deur sport ontmoet en my leuse is altyd: As hulle daardie hoogtepunt kon bereik, hoekom nie ek nie? Ek is doelgerig en jaag wat ek wil hê na.”

Hy wys vinnig daarop dat dit nie maklik was om die eise van heeltydse sport, onderwys, ʼn gesinslewe en sy werk as adjunkhoof te balanseer nie.

“Ek het eerlikwaar gesukkel om al hierdie goed te balanseer. Sport het baie van my tyd en energie opgeneem en ander areas het die oorskiet gekry. Ek was baie keer naby aan uitbranding, maar om op te gee was nooit ʼn opsie nie. Daar was mense wat op my staatgemaak het en my Here en Verlosser, Jesus Christus, het my die krag gegee om elke dag op te staan en aan te gaan.”

Ondersteuning

Maar Buis kon ook op sy familie, die US en sy studieleier, dr Jerome Joorst van die Departement Opvoedingsbeleidstudies, steun. Hy is veral dankbaar vir die US se bystand.

“Die Universiteit Stellenbosch het soveel tot my ontwikkeling en groei, asook my sportontwikkeling, bygedra. Maties Sport se Eenheid vir Hoëprestasie het my ten volle ondersteun. My studentegelde is altyd deur sportbeurse gedek, en die Eenheid vir Gestremdhede het ʼn enorme verskil met broodnodige finansiering gemaak.”

Buis praat ook met groot lof oor die ondersteuning van sy vrou, Erna: “Sy was ʼn onwrikbare bron van ondersteuning deur elke seisoen van my lewe. Gedurende my jare as ʼn hoëprestasie-atleet het sy ons huishouding met ongelooflike toewyding bestuur en toegesien dat ek die rus en voeding gehad het wat nodig was om op my beste te presteer. Regdeur my studies het sy my sagkens – maar aanhoudend – daaraan herinner om my tesis te prioritiseer, altyd op haar eie sorgsame, vroulike manier. Sy het ons gesinslewe met uitnemendheid gebalanseer en dis danksy haar bestendige ondersteuning dat ek in my werk, studies en sport kon gedy.”

Hy het ook ʼn spesiale woord van dank vir sy toesighouer.

“Saam met my gesin het dr Joorst nooit opgehou glo dat ek die wenstreep kon oorsteek nie. Hy was altyd ondersteunend en het leiding gegee wanneer ek dit nodig gehad het. Hy het aanhou glo in die einddoel en ek sal altyd dankbaar wees vir die rol wat hy in my akademiese reis gespeel het.”

Opvoedkundige ervarings

Buis het ʼn lewendige belangstelling in inklusiewe onderwysbeleide en sy navorsing het gefokus op die opvoedkundige ervarings van leerders met gestremdhede in hoofstroomskole in die Kaapse Wynlande. Hy sê dit resoneer met sy eie ervaring as ʼn leerder met ʼn fisiese gestremdheid aan so ʼn skool.

“My uitgebreide ervaring in die openbare skoolstelsel, insluitend my direkte werk met leerders met fisiese gestremdhede, het my deeglik bewus gemaak van hoe baie die interpretasie en inwerkingstelling van inklusiewe onderwysbeleide tussen skole verskil. My persoonlike toewyding aan sosiale geregtigheid en billike onderwysgeleenthede het my besluit beïnvloed om op hierdie onderwerp te fokus,” sê hy.

“My studie toon beduidende gapings tussen beleidsvoornemens en werklike skoolpraktyke, wat lei tot omgewings wat deelname beperk en groter ongelykheid vir leerders met fisiese gestremdhede meebring. Hulle ervaar insluiting in hoofstroomskole as inkonsekwent, dikwels uitsluitend en grootliks beperk tot fisiese plasing eerder as betekenisvolle deelname.”

Volgens Buis dra sy studie by tot ʼn dieper begrip van hoe billike en regverdige onderwys vir leerders met fisiese gestremdhede daar behoort uit te sien.

Op ʼn vraag oor sy boodskap aan mense wat moontlik persoonlike uitdagings met groot ambisies probeer balanseer, antwoord Buis: “Moenie jou drome opgee nie. Dit kan dalk in die oomblik onmoontlik lyk, maar jy kán jou drome met harde werk verwesenlik.”

Hy hoop sy akademiese reis kan as ʼn voorbeeld vir ander atlete met gestremdhede dien van wat hulle buite die sportveld kan bereik.

Omdat sy gesin en loopbaan voorkeur geniet, het Buis nou min tyd vir parasport. “My droom is om die sport later te help professionaliseer en deel te wees van die topleierskapstruktuur van die federasie in Suid-Afrika.”

Hy is voornemens om sy bevindings in akademiese tydskrifte te publiseer, ʼn PhD te doen, ʼn dosentepos te probeer bekom of na senior bestuur op skoolvlak te beweeg.

Verwante stories