Skip to main content
Sunelle Hanekom at her graduation on 23 March 2026
Image by: Henk Oets
Toekennings en mylpale Institusionele nuus

Sunelle Hanekom voltooi ‘n kringloop van tikster tot meestersgraad

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
23 Maart 2026
  • Sunelle Hanekom, 'n jare lange personeellid by die Stellenbosch Besigheidskool, het vandeesweek haar MPhil-graad in Wetenskap- en Tegnologiestudie ontvang.
  • Nadat sy haar loopbaan as tikster en PA begin het, het sy later in haar lewe na formele studie teruggekeer en haar meestersgraad met vlieënde vaandels geslaag.
  • Sy het gedurende die laaste maande van haar studie deur diep waters gegaan nadat haar man 'n beroerte gehad het, maar sy het deurgedruk.

Vir meer as drie dekades het Sunelle Hanekom agter die skerms gewerk – prosesse georganiseer, ondersteun en bestuur om te verseker dat ander kon slaag. Nou, op 54, het sy met trots die verhoog by die Universiteit Stellenbosch (SU) se Maart-gradeplegtigheid oorgesteek – nie as 'n personeellid in 'n administratiewe hoedanigheid nie, maar wel as die ontvanger van 'n meestersgraad. 

Vir Hanekom, wat as Navorsingsbestuurder: Navorsingsfondse, Etiek & PhD-bestuur by die Stellenbosch Besigheidskool werk, is dit 'n oomblik wat jare lank aankom – en een wat amper in die laaste fase ontspoor is. Terwyl sy die laaste jaar van haar meestersgraad voltooi het, het haar man, Dewald, 'n beroerte gehad. 

"Dit was 'n groot skok," onthou Hanekom. "Skielik was ons hele wêreld onderstebo." Maar selfs toe die daaglikse lewe deur doktersbesoeke, nuwe roetines en onsekerheid hervorm is, het sy aangehou. 

'n Stille vasberadenheid wat oor tyd gevorm is 

Hanekom is in Oudtshoorn gebore en het daar grootgeword. In 1992 het sy 'n nasionale sekretariële diploma aan die Tegniese Kollege Stellenbosch, nou Boland Kollege, voltooi. Van daar af het sy 'n loopbaan opgebou wat met die verloop van tyd oor administratiewe en navorsingsomgewings heen sou ontwikkel. Sy het as tikster begin, daarna na sekretariële rolle oorgeskakel en het later 'n persoonlike assistent en administrateur geword. 

Haar pad by die US het in 1998 begin, toe sy by die Skool vir Rekeningkunde as 'n senior sekretaresse aangesluit het, 'n rol wat haar 'n "voet in die deur" gegee het, soos sy dit beskryf. Oor die jare het sy poste by die Orale en Tandheelkundige Navorsingsinstituut, die Afdeling Farmakologie en die Departement Geneeskunde beklee voordat sy in 2012 na die Stellenbosch Besigheidskool verskuif het. 

Daar het haar rol verder uitgebrei. Sy het van persoonlike assistent tot navorsingskoördineerder en later tot navorsingsbestuurder gevorder en sodoende het Hanekom diep by etiekprosesse, navorsingsadministrasie en doktorale bestuur betrokke geraak. Een van haar belangrikste bydraes was die inwerkingstelling van die Besigheidskool se etiese klaringsproses tussen 2014 en 2017 – 'n stelsel wat vandag nog gebruik word.

Sy het deur al hierdie jare stilweg ontwikkeling nagestreef. "Elke kursus wat ek voltooi het, was 'n doelbewuste poging om vorentoe te beweeg en in my loopbaan te groei. Ek wou my kennis en begrip voortdurend verbeter en uitbrei." 

Tog het sy onseker gebly oor die idee om 'n formele graad te volg. "Ek het altyd geweet ek wil iets ekstra doen, maar ek het nie presies geweet wat nie," onthou sy. 

 Groeiende selfvertroue

Daar het egter onverwags 'n rigtingwyser oor haar pad gekom. Sy het by 'n konferensie van die ontwikkeling van 'n nuwe Nagraadse Diploma in Navorsingsbestuur en -administrasie gehoor wat deur die Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (SENWET) aan die US aangebied gaan word. 

Sy het uiteindelik in 2020 as 'n Erkenning van Vorige Leer (EVL)-student aansoek gedoen. Om ná dekades in die werksplek weer na formele studie terug te keer, was skrikwekkend. "Ek moes skielik nie net werk en my huishouding nie, maar ook hierdie derde akademiese komponent bestuur," sê sy. "Die eerste jaar was nogal 'n skok vir my gestel." 

Om verantwoordelikhede te balanseer het laat nagte, sorgvuldige tydsbestuur en volgehoue dissipline beteken. Die akademiese eise was onbekende terrein. "Ek het myself die hele tyd bevraagteken. Kan ek dit doen? Het ek die vermoë?"

Maar namate sy die komplekse konsepte begin bemeester het, het haar selfvertroue begin toeneem. Sy het die nagraadse diploma met lof voltooi en sodoende 'n grondslag gelê vir wat volgende sou kom. Met die aanmoediging van ondersteunende kollegas het sy 'n selfs groter stap geneem. "Nadat ek my nagraadse diploma voltooi het, het prof Charlene Gerber gesê: 'Nou gaan jy jou meestersgraad doen.' My reaksie was: 'Daar’s geen manier nie!' Maar kort voor lank het dit nie meer so skrikwekkend gelyk nie."

Hanekom het vir 'n MPhil in die Studie van Wetenskap en Tegnologie, 'n gespesialiseerde program wat op die sosiale dinamika van wetenskap, beleid en navorsingstelsels fokus, ingeskryf. Danksy haar dekades lange professionele ervaring het sy gevind teorie en praktyk begin ooreenstem. Sy het haar meestersgraadnavorsing cum laude voltooi. "My praktiese ervaring is verryk deur teoretiese kundigheid," sê sy.

Volharding deur persoonlike swaarkry 

Die finale fase van haar studie het egter 'n onverwagte en diepgaande uitdaging gebring. Terwyl sy aan die analise en interpretasie van haar navorsing gewerk het, het haar man, Dewald, 'n beroerte gehad. Dié gebeurtenis het haar bene onder haar uitgeslaan. 

"Dit het net voor ons oudste dogter Suné se troue gebeur," onthou Hanekom. "Ons het haar troue met behulp van Zoom uit die hospitaalbed gekyk." In die maande wat gevolg het, het hulle daaglikse lewe soos sy dit geken het, 'n heeltemal nuwe gedaante aangeneem. 

Haar gesin se ondersteuning het van kardinale belang geword. Haar dogter Wilmari en haar kêrel Jeanne-Pierre Mostert het tydelik ingetrek om met huishoudelike take te help. Haar man het, ondanks die uitdagings van sy eie herstel, 'n bron van stille aanmoediging gebly. Dewald het 'n entoesiastiese tuinier geword, sê Hanekom met 'n glimlag. "Wanneer ek nou by die huis kom, roep hy my om sy dag se tuinwerk te kom bewonder," sê sy. "Gelukkig is hy nie 'n knorrige man nie. Hy's baie ontspanne en goedig."

Danksy haar gesin se ondersteuning kon Hanekom gefokus bly. "Ek het myself aan my doel herinner. Ek wou klaarmaak waarmee ek begin het." 

'n Verdiende en gedeelde prestasie 

Hanekom sê sy sal "vir altyd dankbaar" wees vir die mense wat in haar geglo het – van haar pa, Stephen, wat haar aangemoedig het ondanks haar vroeë stryd met selfvertroue, tot mentors en kollegas wat haar terugkeer na die boeke om verder te studeer, ondersteun het. 

"Ek het nog altyd gesukkel om in myself te glo," sê sy. "Maar die mense wat in my geglo het, het die verskil gemaak. Prof Gerber en prof Daniel Malan, my eerste lynbestuurder by die Besigheidskoolskool, het my in myself laat glo. Dit het my selfvertroue 'n hupstoot gegee, asook die moed om verder te studeer. 

"My kollega Esmari Huysamen was wonderlik. Sy het 'n veiligheidsnet gebied en het elke keer wanneer ek oorweldig gevoel het, vir my gesê: 'Jy kan dit doen!'. Ek is ook baie dank aan my huidige lynbestuurder, prof Euan Phimister, verskuldig vir sy ondersteuning." 

Hanekom hoop haar storie sal ander aanmoedig wat dalk huiwer om 'n soortgelyke stap te neem. "Moet nooit toelaat dat ander mense vir jou sê wie jy is en wat jy kan of nie kan doen nie," sê sy. "Vertrou jou vermoëns en gaan daarvoor." 

Ná die gradeplegtigheid het Hanekom 'n feestelike middagete saam met haar man, hulle twee dogters en dié se lewensmaats geniet – 'n eenvoudige maar betekenisvolle byeenkoms om 'n buitengewone prestasie te vier.

Verwante stories