'n Stille kinderdroom was dryfkrag vir dr Kevin Naude se sukses
- ʼn Eerstegenerasie-gegradueerde besin oor ʼn bykans dekade-lange akademiese reis van SciMathUS na geneeskunde.
- Gedurende die veeleisendste jaar van sy graad is Naude se veerkragtigheid deur verlies, geloof en familie gevorm.
- Mentorskap, gemeenskap en leierskap het hom gehelp om die hoogste sport te bereik, insluitend ʼn Rektorstoekenning.
Vir so lank as wat hy kan onthou, het dr Kevin Naude ʼn onuitgesproke droom gekoester: om dalk eendag ʼn dokter te word. Nou, bykans ʼn dekade nadat hy die eerste keer die Universiteit Stellenbosch (US) se kampus betree het, het hy die eerste mediese dokter in sy familie geword. Maar wat ʼn feestelike finale jaar moes gewees het, het onverwags tragedie meegebring toe twee nabye familielede vroeër vanjaar oorlede is.
Naude het in Idasvallei grootgeword en is deur die geskiedenis van twee Karoodorpe – Oudtshoorn aan sy moederskant en Carnarvon aan sy vaderskant – gevorm. Sy grootouers, wat deur omstandighede gedwing is om skool vroeg te verlaat, het iets meer blywends as geleerdheid gehad om oor te dra. “Hulle het ons respek, dissipline en nederigheid geleer,” vertel hy. Daardie waardes het die grondslag van ʼn reis geword wat uithouvermoë en onwrikbare geloof vereis het. “My familie wou iets beter hê vir my en my sibbe, en hulle hoop het my motivering geword,” voeg hy by.
Die lang pad na geneeskunde
Sy pad was nooit maklik nie. Swak matriekuitslae het aanvanklik die deur na geneeskunde gesluit, maar nie na deursettingsvermoë nie. Naude het ingeskryf vir SciMathUS (ʼn oorbruggingsprogram by die US), ʼn stap wat sy selfvertroue en toekoms sou omvorm. “SciMathUS het my gewys dat my omstandighede nie my potensiaal gedefinieer het nie,” sê hy. “Dit het my die gereedskap en selfvertroue gegee wat ek nodig gehad het om hoër onderwys te betree.”
Daarna het hy ʼn BSc-graad gedoen – en uitgeblink. Hy het in 2019 cum laude gegradueer en daardeur gewys dat hy in die akademiese wêreld hoort wat hy eens gedink het buite bereik was. Dié prestasie het die deur na die MBChB-program aan die US geopen.
As ʼn eerstegenerasie-student was hy deeglik bewus van die opofferings wat sy opvoeding moontlik gemaak het. “Nadat my pa in 2019 afgelê is, het hy en my ouma my klas- en koshuisgeld uit haar pensioen betaal, terwyl my ma vir handboeke en daaglikse noodsaaklikhede gesorg het,” vertel hy. ʼn Beurs van die Departement van Arbeid se Vergoedingsfonds in 2021 het die druk verlig, maar die verantwoordelikheid vir sukses het steeds op sy skouers gerus.
ʼn Jaar van verlies
Niks kon hom egter voorberei vir die emosionele uitdagings wat 2025 sou bring nie. Sy oom aan moederskant is in Maart oorlede. In Julie, op sy verjaardag, het Naude ook sy ouma aan moederskant verloor. Haar leiding het sy lewe gevorm. “Wanneer sulke oomblikke aanbreek, voel die lewe asof dit in ʼn voor en ʼn ná verdeel is. Die hartseer was oorweldigend.”
Om hierdie verlies met rotasies, eksamens en kliniese verantwoordelikhede te balanseer sou selfs die mees gesoute beroepsmens uitdaag. Tóg het Naude volhard, gestut deur gebed, die ondersteuning van familie en vriende, asook die roetines wat hy gedurende sy mediese studie gevestig het. “Hierdie tydperk het my geleer dat deursettingsvermoë nie net oor die bereiking van doelwitte gaan nie, maar ook om deernis te toon en toegewyd te bly, selfs wanneer die lewe moeilik raak.”
Regdeur sy studie het sekere oomblikke in die sale en klinieke klarigheid gebring oor die soort dokter wat hy gehoop het om te word. Sy keuse in 2023 van ʼn kliniese plasing by die Helderberg-hospies het ʼn diepgaande impak gehad. “Ek het begin verstaan dat genesing nie altyd oor gesond maak gaan nie; soms gaan dit oor teenwoordigheid en die behoud van ʼn pasiënt se waardigheid,” sê hy. Dit was rondom hierdie tyd dat sy eie ouma ernstig siek geword het, ʼn samevloeiing van gebeure wat sy begrip van kwesbaarheid en sorg verdiep het.
Leierskap en erkenning
Leierskapsgeleenthede oor die afgelope paar jaar het aan hom ʼn breër doelwit besorg. Hy het sterk op mentorskap en studentebestuur gefokus, gerig deur sy geloof in die opheffing van ander. “Om eweknieë te help het my daaraan herinner dat wanneer ons ander oplig, ons onsself versterk,” sê hy.
Sy invloed op die kampus het nie ongemerk verbygegaan nie. In 2024 het hy een van die US se hoogste eerbewyse ontvang – die Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie, tesame met erekleure vir leierskap van die Tygerberg-studenteraad (TSR). Dié erkenning het vir Naude bevestig dat bydrae veel verder as akademie strek. “Sukses word nie net aan prestasies gemeet nie, maar ook aan die invloed wat ons op ander het,” sê hy.
Terugskouend besef Naude geneeskunde is geleidelik aan hom geopenbaar, gevorm deur ontmoetings met pasiënte by die Tygerberg-hospitaal en omliggende klinieke. “Hierdie ervarings het my nie net oor siektes geleer nie, maar oor veerkragtigheid, menslikheid en kwesbaarheid.”
Die roetine van mediese studie – vroeë oggende, kliniese rotasies, laatnag-studeer – het hom struktuur en dissipline geleer. Senior dokters het hom gementor en die soort klinikus vergestalt wat hy hoop om te word. Ondersteuningsnetwerke het hom deur oomblikke gedra toe hartseer en druk gedreig het om hom te verswelg. “Ek het geleer om klein oorwinnings te vier en nederig, weetgierig en toegewyd te bly. Ek is die Almagtige baie dank verskuldig dat ek gelukkig genoeg is om ʼn dokter te word.”
ʼn Boodskap aan die volgende generasie
Aan jonger studente, veral dié uit hulpbronbeperkte gemeenskappe, bied Naude ʼn boodskap wat deur ervaring gevorm is. “Jou begin bepaal nie jou toekoms nie,” sê hy. “Baie reise is langer of minder direk, maar dit verminder nie hulle waarde nie. Drome kan dalk vertraag word, maar word selde ontneem.” Sy raad is prakties én hoopvol: Soek hulp, vra vrae, vertrou dat jou pad betekenis inhou, selfs wanneer dit stadig voel.
Terwyl hy voorberei vir die beroep waarvan hy eens net kon droom, het Naude klarigheid oor die dokter wat hy wil word. ʼn Lewe van diens en deernis rig sy ambisie om as ʼn internis te spesialiseer. “Ek hardloop my eie wedloop en streef daarna om beter te wees as wat ek gister was,” sê hy.
Sy jare by die US het hom geanker en hy sal altyd dankbaar wees vir die geleenthede wat hy gekry het. “Hierdie ervarings het my veerkragtigheid, nederigheid en waardering vir die kaarte wat aan my uitgedeel is, gevorm. Ek het nie net my akademiese vermoëns ontwikkel nie, maar ook my karakter en sin van doelgerigtheid.”