Dis tyd vir vriende en familie om die merkwaardige prestasies van die graduandi wat kwalifikasies ontvang tydens die US se Maart-gradeplegtigheidseremonie te vier.
Sukses staan voorop met aanvang van US se Maart-gradeweek
- Meer as 3 600 graduandi sal aanstaande week die verhoog oorsteek wanneer die Universiteit Stellenbosch (US) grade, diplomas en sertifikate by sy Maart-gradeweek toeken.
- Dit bring die totale aantal kwalifikasies wat in die 2025-akademiese jaar toegeken is, op 'n rekordgetal van 10 160 te staan.
- Benewens die viering van sy gegradueerdes, sal die Universiteit ook drie eredoktorsgrade aan buitengewone individue toeken wat hulle op hulle gebiede onderskei het en reusebydraes tot die samelewing gelewer het.
Meer as 3 600 graduandi sal aanstaande week die verhoog oorsteek wanneer die Universiteit Stellenbosch (US) grade, diplomas en sertifikate by sy Maart-gradeweek toeken.
Die Maart 2026-gradeplegtighede volg op Desember se indrukwekkende gradeweek, waar meer as 6 000 studente hulle kwalifikasies ontvang het. Dit bring die totale aantal kwalifikasies wat in die 2025-akademiese jaar toegeken is, op 'n rekordgetal van 10 160 te staan.
Dit sluit 5 282 nagraadse kwalifikasies in, waarvan 349 doktorsgrade en 1 650 meestersgrade was.
Die Universiteit Stellenbosch sal vanaf 2027 jaarliks een uitgebreide gradeplegtigheidsreeks in Maart/April aanbied in plaas van die vorige twee gradeplegtigheidsweke in Desember en Maart onderskeidelik. Die Universiteit se laaste Desember-gradeweek het aan die einde van 2025 plaasgevind.
In aanloop tot die 11 plegtighede wat van Maandag 23 Maart tot Donderdag 26 Maart plaasvind, sê die US se Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath: "Elke plegtigheid weerspieël die toewyding van ons studente en die gesamentlike pogings van hulle gesinne en ons dosente en personeel wat hulle op hulle pad ondersteun het."
Hy het die volgende boodskap vir die graduandi: "'n Kwalifikasie van die Universiteit Stellenbosch verteenwoordig baie meer as net 'n graad of sertifikaat. Dit weerspieël die kennis, vaardighede en waardes wat jy gedurende jou tyd hier ontwikkel het. Dit berei jou ook voor om met bedagsaamheid by die komplekse uitdagings en geleenthede van 'n vinnig veranderende wêreld betrokke te raak."
Ramjugernath het ook 'n hartlike verwelkoming aan diegene gerig wat by die US se uitgebreide alumni-netwerk aansluit. "Vooruitgang word nooit alleen bereik nie. Dit word deur samewerking, vennootskap en die gesamentlike pogings van mense gebou wat 'n visie vir 'n beter toekoms deel. As lede van die wêreldwye Matie-gemeenskap sluit julle nou by 'n netwerk aan wat voortgaan om saam te leer, saam te lei en saam môre te vorm."
Eredoktorsgrade
Benewens die viering van sy gegradueerdes, sal die Universiteit ook drie eredoktorsgrade aan buitengewone individue toeken wat hulle op hulle gebiede onderskei het en reusebydraes tot die samelewing gelewer het.
Prof Abdulrazak Gurnah is ’n internasionaal-bekroonde skrywer en letterkundige wat in 2021 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het. Hy sal die graad Doktor in die Letterkunde (DLitt), honoris causa, ontvang.
Dr Olive Shisana, ’n baanbreker- Suid-Afrikaanse sosiale wetenskaplike en epidemioloog, sal die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, ontvang. Sy het gedurende president Nelson Mandela se administrasie as Direkteur-Generaal in die Departement van Gesondheid gedien, waar sy ’n sentrale rol in die heropbou van openbare gesondheid ná apartheid gespeel het.
Dr Tjaart Johannes van der Walt sal die graad Doktor in Ingenieurswese (DIng), honoris causa, ontvang. Hy word as ’n pionier van digitale bankwese op die vasteland van Afrika en ’n denkleier in die etiese toepassing van tegnologie tot maatskaplike voordeel beskou. Suid-Afrika se heel eerste ten volle digitale handelsbank, TymeBank, is in 2019 onder sy medeleierskap in Suid-Afrika met behulp van ’n innoverende verspreidingsmodel bekendgestel wat bankdienste aan miljoene Suid-Afrikaners gebring het wat voorheen nie bankdienste gebruik het nie.
Die Maart-gradeplegtighede word in die Coetzenburg-sentrum gehou.
- Die plegtigheide kan regstreeks per stroomuitsending gevolg word by https://www.youtube.com/@SU-Live-Events
- Klik hier vir meer inligting oor die Maart-gradeplegtighede.