Skip to main content
Casual pic of Haajir September
Image by: Supplied

Nadat sy deur 'n enkelma op die Kaapse Vlakte grootgemaak is, is Haajir September se reis na haar BEd-graad 'n kragtige herinnering daaraan dat harde werk en onwrikbare liefde die verloop van 'n lewe kan verander.

Persverklaring Toekennings en mylpale

Terugslae is ompaaie, nie doodloopstrate nie, vir US-gegradueerde Haajir September 

Anél Lewis
Senior journalist
08 Desember 2025
  • Die Covid-19-pandemie het Haajir September van 'n onvergeetlike matriekjaar beroof.
  • Haajir, wat haar BEd-graad (grondslagfase) ontvang het, is maar al te bekend met teenspoed.
  • Sy beplan om voort te bou op die grondslag wat sy gelê het, hetsy deur verder te studeer of deur haar professionele loopbaan af te skop.

Die Covid-19-pandemie het Haajir September van 'n onvergeetlike matriekjaar beroof. Inperking het vir haar en soveel ander leerders vele verlore mylpale beteken – daar was geen matriekafskeid nie, geen normale skoolroetine nie. 

Haajir, wat vandag (8 Desember) haar BEd-graad (grondslagfase) ontvang het, is maar al te bekend met teenspoed. Sy is deur haar enkelma, Zubaida, op die Kaapse Vlakte grootgemaak en sy sê die voorbeeld van veerkragtigheid is van kleins af vir haar gestel. "My ma en my familie was nog altyd my grootste inspirasie. Hulle het in my vermoëns geglo – selfs in oomblikke wat ek aan myself getwyfel het." 

Zubaida onthou maar al te goed die dubbele finansiële druk en emosionele gewig van ma én pa wees waaronder sy gedurende Haajir se skooljare gebuk gegaan het. "Ons het danksy eerlikheid, roetine, liefde en baie gebed daardie jare saam deurstaan. Daardie worstelinge het haar die sterk, gedissiplineerde en veerkragtige jong vrou gemaak wat sy vandag is."  

Haajir het regdeur haar hele skoolloopbaan haar oë stewig op haar doel gevestig gehou: om verder te studeer en 'n beter toekoms te bou. As die eerste kind en kleinkind in die familie wat universiteit toe sou gaan, het sy geweet wat daardie prestasie vir die familie sou beteken. 

Uitdagende tye 

Maar die reis was nie sonder uitdagings nie. Haajir moes in 2021 hoor haar eerste aansoek by die US was onsuksesvol. "Dit was 'n pynlike oomblik, maar ek het aan die geloof vasgehou dat indien iets vir my bedoel was, dit op die regte tyd sy pad na my sou vind." 

Eerder as om op te gee, het Haajir 'n oorbruggingsjaar geneem om haar matriekeksamen vir sekere vakke oor te skryf en haar aansoek te versterk. Haar ma onthou hoe die US haar aansoek aanvaar het nadat sy haar verbeterde uitslae ingedien het. "Dit is bewys dat terugslae soms 'n ompad eerder as 'n doodloopstraat is."  

"Die US was altyd my eerste keuse," sê Haajir. "Ek het die akademiese standaard, die gemeenskapsgevoel en die geleenthede wat die instelling bied, bewonder. Ek wou 'n omgewing hê wat my sou uitdaag om akademies en persoonlik te groei."  

Tweede keer gelukkig  

Sy het in 2022 by die Universiteit Stellenbosch begin studeer. Om as 'n Dell Jongleier aangewys te word te word, was 'n keerpunt in haar akademiese reis. Die program ondersteun kwalifiserende eerstejaar-finansiëlehulpstudente op vier gebiede – akademies, finansieel, welstand en loopbaan – om te verseker dat hulle gradueer: "As ek terugkyk, besef ek die Dell Jongleiersprogram het potensiaal in my raakgesien selfs nog voordat ek dit self ten volle besef het. Hulle mentorskap, leiding en hulpbronne het my gehelp om my pad deur my universiteitsjare met selfvertroue en duidelikheid te vind."  

Die universiteitslewe het haar ook gehelp om haar wêreldbeskouing te verbreed, sê Zubaida. "As iemand wat van die Kaapse Vlakte af kom, het Stellenbosch soos 'n heeltemal ander land gevoel. Haajir het altyd gegrap dat dit soos Europa voel. Deur omring te wees deur mense van alle agtergronde het haar gehelp om te groei, onafhanklik te word en te ontdek wie sy werklik is."  

Familietrots 

Haajir se gradeplegtigheid is vir Zubaida 'n uiters emosionele mylpaal. "Ek huil al maande lank," sê Zubaida. "Trane van geluk, dankbaarheid, trots en hartseer dat haar grootouers nie hier is om dit te aanskou nie. My ma het nooit 'n enkele toekenningsgeleentheid van haar misgeloop nie.  

"Ons het altyd in haar potensiaal geglo, maar ons het nooit gewaag om te droom dat sy universiteit toe sou gaan nie. Dat sy 'n eerste-generasie gegradueerde word, is 'n droom wat vir ons hele familie bewaarheid is. Dit is genesend, dit is histories en dit is heilig."  

Oor haar toekomsplanne sê Haajir sy beplan om voort te bou op die grondslag wat sy gelê het, hetsy deur verder te studeer of deur haar professionele loopbaan af te skop. "My doel is om te groei, te leer en 'n betekenisvolle impak te maak in watter ruimte ek ook al betree."  

 

Verwante stories