Skip to main content
Dr Joy Petersen’s doctoral research uncovers how first-generation students developed agency and intellectual virtues amid the disruptions of Covid-19.
Image by: Stefan Els
Persverklaring Opvoedkunde

Pandemie lei tot transformerende akademiese reis vir dr Joy Petersen

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
08 Desember 2025
  • Joy Petersen se doktorale navorsing lê bloot hoe eerstegenerasie-studente agentskap en intellektuele deugde te midde van die ontwrigtings van Covid-19 ontwikkel het.
  • Haar studie werp lig op die transformerende krag van humaniserende pedagogieë en etiese sorg in residensiële onderwys.
  • Die pandemie het 'n diepgaande plek van wording geword – vir Petersen en vir die studente wie se stories haar werk anker.

Toe dr Joy Petersen dit begin oorweeg het om 'n doktorale studie te doen, het sy gedink haar navorsing sou op mentorskap fokus. As Koördineerder van Eerstejaarstudente-ervaring en Koshuishoof by die Sentrum vir Studentelewe en Leer, het sy jare lank die Universiteit Stellenbosch (US) se mentorprogram gekoördineer. Dit het dus na die voor-die-hand-liggende pad gelyk. Maar die omwenteling van die Covid-19-pandemie het stilweg haar navorsingstrajek herskryf. 

Terwyl sy gedurende die grendeltyd saam met 'n klein groepie studente gewoon het wat op kampus agtergebly het, het sy haarself bevind in iets wat sy "'n openbaringsontmoeting in 'n liminale ruimte" noem. Dit was hierdie ervaring – intiem, disoriënterend en stilweg transformerend – wat haar studieleier, prof Aslam Fataar, aangespoor het om 'n bedrieglik eenvoudige vraag te vra: "Vertel my wat jy dink gedurende die pandemie gebeur het."

Sy het op sy versoek kort prosa geskryf om die diepgaande kopskuif wat sy ervaar het, vas te vang. Daardie geskrewe besinning was die saadjie van Petersen se PhD. “Pandemic Tales”, 'n artikel wat sy in 2020 op LitNet gepubliseer het, het wyd aandag getrek en 'n pad na dieper ondersoek geopen. Sy het onder Fataar se toesig begin om die opvoedkundige reise van die eerste-generasiestudente saam met wie sy gewoon het, na te speur. Haar longitudinale studie het gevolg wie hierdie studente was voordat hulle by die Universiteit aangekom het, hoe hulle hul vroeë ervarings by die US hanteer het, en hoe die inperking hulle ontluikende identiteite gevorm het. 

'n Pedagogiek van sorg en wording

'n Integrasie van humaniserende en sorggesentreerde pedagogieë wat daarop gemik is om epistemiese deugde te kweek – ingesteldhede en eienskappe soos intellektuele nederigheid, weetgierigheid, 'n openheid om om te gaan en 'n wil om te leer – vorm die kern van Petersen se proefskrif. Haar navorsing volg studente oor verskeie jare, en vang hulle geskiedenisse voor die pandemie, hulle gedeelde ervarings gedurende die grendeltyd en hulle refleksies drie jaar later vas. Wat na vore kom, is 'n getekstureerde beskrywing van epistemiese wording – die geleidelike vorming van agentskap en intellektuele karakter.

Petersen praat met bewondering oor die studente se groei. “Hulle het met drome en aspirasies hier aangekom – en hulle het geweier om toe te laat dat die pandemie hulle planne ontspoor.” Hulle pandemie-ervaring, wat as 'n Residensiële Onderwys- en Ondersteuningsprogram gevorm is, het 'n katalisator vir die studente se transformasie geword. Hulle het doelbewus by die studentelewe en in die klas betrokke geraak, leierskapsgeleenthede gesoek en die gewoonte om  diep na te dink ontwikkel. “Hulle het nadenkend geword,” merk sy op. “Hulle het hulleself die moeilike vrae gevra – oor hulle oortuigings, hulle kulture, hulle lewensdoelwitte – en hulle het dit produktief en doelgerig gedoen.”

Transformasie, verhoudings en die werk van behoort

Ná nege jaar by die US het Petersen se begrip van transformasie volwassenheid bereik. 

“Transformasie is stadig, en as dit met opregtheid gedoen word, kan die resultate billik en blywend wees,” sê sy. “Dit hang van elkeen van ons af wat die werk doen om onsself en ons denke te verander – om ons toekoms positief te vorm.”

Petersen gee haar familie eer vir hulle hulp deur die hoogtepunte en laagtepunte van haar navorsingsreis. “Ek is baie dankbaar vir my man, Michael, wat my leë koppie voortdurend volgemaak het en vir my soms-moeë siel gesorg het. Deur aan my die geskenk van ruimte, tyd en afgesonderdheid te bied, het hy gehelp om hierdie projek te verwesenlik. My kinders, Wade en Lotti, en my kleinkind, Flora, was my konstante bron van inspirasie en die stille hartklop van my motivering.”

Sy bring ook hulde aan haar studieleier vir die “ongelooflike leerervaring”. “Dankie dat jy in my geglo het en hierdie tesis die lig laat sien het!”

Met die oog op die toekoms vestig Petersen nou haar aandag op hoe universiteite intellektuele deugde in 'n era van versnelde tegnologiese verandering kan kweek. “Ons kan nie net jong mense oor kennis leer nie,” benadruk sy. “Ons moet hulle leer hoe om kennis – en kunsmatige intelligensie – intelligent, onderskeidend en verstandig te gebruik. Kennis is nou oral; dit is nie meer 'n skaars kommoditeit nie.”

Haar boodskap aan studente wat 'n onvoorspelbare wêreld betree, is in haar navorsing geanker.
“My werk toon die transformerende rol van sorg en humaniserende pedagogieë in die koestering van intellektuele deugde soos integriteit, intellektuele nederigheid, vasberadenheid en moed.” Sy hoop gegradueerdes sal hierdie deugde met groter doelgerigtheid beoefen terwyl hulle die komplekse professionele landskap navigeer.

Om stilte en doelgerigtheid te vind

Petersen het regdeur haar doktorale reis 'n filosofie omarm wat haar stabiliseer én lei: Leer is nie net 'n akademiese strewe nie, maar 'n “staat van wees”; en betekenis openbaar homself dikwels in oomblikke van stille stilheid.

Sy vind hierdie soort stilheid in vroeë oggendwandelings deur die Coetzenburg-berge of langs die rivier – kalm rituele wat “die balsem vir my siel verskaf”. 

Mense merk dikwels op dat sy haar naam uitleef. Sy glimlag terwyl sy onthou hoe sy haar lewensfilosofie aan 'n student beskryf het: “Chasing joy, finding joy, and (now) living joy."

Dit is 'n ingesteldheid wat in haar werk met studente, haar navorsing en die verhoudings wat sy steeds koester, verweef is – 'n bewys van die wording wat haar gevorm het, net soos sy ander gehelp vorm het.

Verwante stories