Skip to main content
Image1-Crop-scaled.jpg
Sport

E-sport se gewildheid neem toe by Maties

Kobus
24 Augustus 2022

Deur Cody Hansen 

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Maties E-sport-klub is in 2017 gestig. 

Die klub het tans 19 aktiewe spelers en ding mee in FIFA, Rocket League en Clash Royale; wat die titels is wat by die USSA E-sport-kampioenskapsbyeenkoms gespeel word. 

“Ons speel in verskeie aanlyn toernooie via ACGL, sowel as in persoon of LAN toernooie,” sê Yaseen Gangat, Sportbestuurder van E-sport by Maties. 

 

Image1-1024x768.jpeg

 

USSA om die draai 

Maties sal van 30 September tot 3 Oktober aan USSA se E-sport-byeenkoms by die Universiteit van Kaapstad deelneem. Maties het die eerste USSA byeenkoms ooit in 2019 gewen. 

Gangat is hoopvol dat Maties ’n sterk vertoning kan lewer. 

“Ons het tans die sterkste Rocket League-span wat ’n Suid-Afrikaanse universiteit verteenwoordig en verwag ’n goue medalje in dié afdeling. FIFA kan enige kant toe gaan. Ons het ervare spelers wat almal in staat is om sege te behaal en Clash Royale is steeds ’n ontwikkelende spel binne die Universiteit Stellenbosch-struktuur. Ons sal wel ons bes doen.” 

 

Image2-1024x768.jpeg

 

Ontwikkeling van E-sport aan die US 

Die US het tans nie ’n permanente E-sport-lokaal nie, so die klub kan slegs aanlyn kompeteer via die ACGL-webwerf en persoonlike toernooie, sê Gangat. Die gebrek aan toerusting en ’n permanente lokaal was in die verlede ’n struikelblok vir die klub. 

Daar is egter planne in plek om ’n nuwe E-sport-spilpunt op die US-kampus te bou, wat volgens Gangat ’n reuse-verskil aan die klub se kompeterende vermoë gaan maak.  

“Beplanning vir die nuwe E-sport-spilpunt is in die finale stadium. Die ligging sal binnekort aangekondig word. Die wêreldklas-fasiliteit sal speletjies, streaming en nog vele meer wêreldklas kenmerke hê.” 

Gangat hoop dat die nuwe lokaal van die land se beste E-sport-talent na Stellenbosch sal lok. 

“Ons is baie opgewonde oor die werwing van Ethan Dysel vir volgende jaar. Hy het ’n paar weke gelede aan die Rocket League-wêreldbyeenkoms in Dallas, Texas, deelgeneem. Studente soos hy sal die E-sport-program se aansien verhoog.” 

 

Image3-1024x768.jpeg

 

Stel jy belang in E-sport? 

Die Maties E-sport-klub beplan om ’n driedaagse E-sport-toernooi van 15 tot 17 September in Die Neelsie aan te bied. Die toernooi sal oop wees vir alle US-studente. 

Vir meer inligting kan belangstellende spelers ’n e-pos aan [email protected] stuur. Studente kan ook by die klub inskryf deur ’n aanlyn lidmaatskapvorm op die Maties Sport-webwerf in te vul. 

“Ons klub is altyd op soek na meer deelname en sal in die nabye toekoms meer titels bekendstel, wat ’n inklusiewe omgewing skep.” 

Merkers

Nuus

Verwante stories