Skip to main content
A Theology of the Septuagint

A Theology of the Septuagint

Prof. Johann Cook
29 August 2018

Die Septuagint (LXX) beteken 'sewentig' en word gebruik as 'n verwysing na die Griekse Bybel, die Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel en 'n aantal van die de novo Griekse geskrifte. Die Septuaginta word oor die algemeen beskou as die Bybel van die vroeë kerk. In die verlede het die fokus op tekste kritiek studies van die LXX geval, aangesien die oorspronklike TEKS van hierdie korpus vasgestel moes word. Die tyd het egter aangebreek vir die hermeneutiese bestudering van die Septuaginta. 'n Besliste desideratum in die navorsing van die Septuagint was pogings tot die formulering van 'n teologie van die Septuagint. Gedurende die afgelope dekade is verskeie pogings van stapel gestuur om so 'n teologie te formuleer. Na 'n jaar-lange voorbereiding is 'n konferensie onlangs in die Departement Antieke Studie van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aangebied. Die kongres het van 17 tot 19 Augustus 2018 geskied. Prof. Martin Rösel van die Universiteit van Rostock in Duitsland en Emeritus mede-Professor Johann Cook van Stellenbosch het die konferensie gesamentlik aangebied. Rösel het 'n Duitse navorsingstoekenning van die Bildungsministerium van die Bundeslandes Mecklenburg ontvang. Hierdie toekenning het deel uitgemaak van 'n program van die Mens en Sosiale Wetenskappe. Cook het finansiële ondersteuning van die Universiteit van Stellenbosch en die SANNS ontvang. Die twee kollegas het 'n aantal internasionale spesialiste oor die tema rakende 'n teologie van die LXX uitgenooi. Prof. Rösel het 'n navorsingsreferaat oor die tema van die konferensie voorberei en die uitgenooide sprekers is die geleentheid gebied om op die stellings daarin vervat, te reageer. In totaal is 16 langer bydraes van 50 minute elk aangebied deur spesialiste en twee korter referate van 25 minute deur nagraadse studente. Uiteenlopende temas is aangespreek. Rösel het die verrigtinge geopen met die tema “Projektvorstellung: Theologie der Septuaginta – Methodische Grundlegung und Fallstudien". Prof. Emanuel Tov van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem se tema was “The Interaction between Theological and Text-critical Approaches". Ander internasionale geleerdes was Professore Wolfgang Kraus, Ulrich Volp, Gert Steyn, Dirk Buchner en Jessie Rogers (die laaste drie is voormalige studente van Cook). Twee permanente lede van die Departement Antieke Studie, Professore Johan Thom en PR Bosman, asook Cook het bydraes gelewer. Die plaaslike Teologiese Fakulteit is verteenwoordig deur Prof. Louis Jonker en Dr Peter Nagel. 'n Doktorale student van Prof. Jonker, Joel Ruark, het 'n kort referaat gelewer gevolg deur 'n kort referaat deur Kyle Young van Kanada. Twee kollegas van die NWU Potchefstroom kampus, Professore Pierre Jordaan en Gideon Kotzé, het ook deelgeneem. Die konferensie was uit en uit 'n internasionale byeenkoms. Prof. Hans Ausloos (Université catholique de Louvain – Belgium) en laastens Prof. Evangelia Dafni (Universiteit van Thessaloniki) het ook referate gelewer.

Die kongres was buitengewoon suksesvol en verskeie uitkomste word verwag. Prof. Rösel beplan 'n monografie gebaseer op sy openingsreferaat. Verder sal Cook en Rösel optree as redakteurs van die verrigtinge van die bydraes wat by die konferensie gelewer is. Die voorgestelde titel is “Towards the Formulation of a Theology of the Septuagint – the Proceedings of the Septuagint congress held at the University of Stellenbosch 17-19 of August 2018". Die werk aan hierdie projek het alreeds in alle erns begin.​