Skip to main content
Group of students
Image by: Stellenbosch University
Persverklaring

Aansoeke word ingewag vir 2027 US-befondsingsgeleenthede vir voorgraadse studente

Universiteit Stellenbosch
03 Julie 2026
  • Aansoeke om Universiteit Stellenbosch-befondsingsgeleenthede vir die 2027- akademiese jaar is nou oop vir voorgraadse studente.

Stellenbosch, 1 Julie 2026 – Aansoeke om Universiteit Stellenbosch-befondsingsgeleenthede vir die 2027- akademiese jaar is nou oop vir voorgraadse studente. Die Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings (SVBL) nooi bestaande en voornemende voorgraadse studente wat vir finansiële ondersteuning kwalifiseer om nou aansoek te doen.

Aansoekdatums

  • Bestaande voorgraadse studente: 1 Julie – 30 September 2026
  • Voornemende voorgraadse studente: 1 Oktober – 30 November 2026

Befondsingsgeleenthede word volgens beskikbare fondse, finansiële behoefte, akademiese meriete en, waar van toepassing, skenker-spesifieke kriteria toegeken.

Die SVBL moedig studente aan om so vroeg as moontlik aansoek te doen en te verseker dat al die nodige stawende dokumente voor die betrokke sluitingsdatum ingedien word.

Voordat aansoekers met die aanlyn aansoek begin, moet hulle die Aansoekproses-oortjie op die webwerf vir US Beurse en Lenings besoek. Hierdie gedeelte verskaf stap-vir-stap-riglyne, asook ’n lys stawende dokumente wat vir die invul van ’n aansoek benodig word.

Bestaande studente kry toegang tot die aanlyn aansoekvorm deur hul agtsyfer-US-studentenommer te gebruik, terwyl voornemende studente hul Suid-Afrikaanse ID-nommer gebruik. Die aanlyn aansoekproses is ontwerp om gebruikersvriendelik en doeltreffend te wees. Sodra aansoekers die dokumente byderhand het wat opgelaai moet word, behoort dit ongeveer 15 minute te neem om die vorm aanlyn in te vul.

Jaarliks ontvang die SVBL aansoeke van studente wat akademies bekwaam is en opreg aan hul studie toegewy is, maar finansiële hindernisse ondervind wat hul vermoë om kwalifikasies voort te sit of af te handel, kan beïnvloed.

Toegang tot befondsing bepaal dikwels of studente hul studie kan voortsit of afhandel. In sommige gevalle help finansiële ondersteuning studente om uitstaande klasgeldsaldo’s te vereffen sodat hulle met hul studie kan voortgaan of saam met hul portuurgroep kan gradueer. In ander gevalle bied noodbefondsing korttermynverligting tydens onvoorsiene persoonlike of gesinskrisisse. Ander studente word genomineer vir bepaalde befondsingsgeleenthede wat in die akademiese jaar beskikbaar word, byvoorbeeld skenker-befondsde beurse wat met hul studierigting, akademiese prestasie, leierskappotensiaal of finansiële omstandighede ooreenstem.

Hierdie ondersteuningsgeleenthede kom dikwels op ’n kritieke punt in ’n student se reis. ’n Aanvullende beurs kan ’n finalejaarstudent help om die wenstreep oor te steek. ’n Skenker-befondsde geleentheid kan die las verlig op ’n huishouding wat reeds elke moontlike hulpbron aangewend het om ’n student op universiteit te hou. Noodbefondsing kan studente help om in uitdagende tye op hul akademiese werk te konsentreer. Saam weerspieël hierdie intervensies die US se groter verbintenis tot studentehulp nie alleen om toegang tot hoër onderwys te verkry nie, maar ook om aan te bly, te slaag en studiesukses te behaal.

Benewens institusionele befondsing bestuur en administreer die SVBL ook beurse namens eksterne skenkers. Hierdie beurse kan spesifieke vereistes hê, waaronder finansiële behoefte, akademiese prestasie, leierskapseienskappe, of ander kriteria wat deur skenkers bepaal word.

Studente wat vir hierdie skenker-befondsde geleenthede oorweeg wil word, moet die bykomende aansoekvorm wat tydens die US se befondsingsaansoek-proses vereis word, volledig invul en oplaai. Verskeie US-familiebeurse is ook beskikbaar vir studente wat aan die kwalifikasievereistes voldoen en bewys van afkoms kan lewer.

Die SVBL ontvang graag aansoeke vir die 2027- akademiese jaar en bly daartoe verbind om studente vir die volle duur van hul akademiese reis te ondersteun.

Studente word daaraan herinner dat US-befondsing beperk is en dat die indiening van ’n aansoek nie ’n waarborg bied dat befondsing toegeken sal word nie. Die tydige en korrekte voltooiing van die aansoek verseker egter dat kwalifiserende studente vir beskikbare geleenthede oorweeg kan word.

Wil jy graag meer inligting hê?

Studente kan:

  • Die webwerf vir US Beurse en Lenings besoek
  • Die US Kliëntediens by 021 808 9111 skakel
  • ’n Navraagkaartjie op die US Dienstetoonbank se portaal registreer deur op Studentefinansies te klik en die betrokke navraagtipe te kies.

Doen nou aansoek en neem ’n belangrike stap om ondersteuning vir jou 2027- akademiese reis te verseker.

Verwante stories