Tyd om in te loer by Maties Sport Alumnus: Christopher Schreuder (Maties Rugby)
- Wanneer talent en werksetiek ontmoet
Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. En as jy ’n werksetiek soos dié van oud-Matie Christopher Schreuder het, is jy geneig om baanbrekerswerk te doen.
Christopher, voormalige leerling van Grey Kollege in Bloemfontein, het in 2018 na Stellenbosch gekom met ’n Westelike Provinsie rugby-kontrak as deel van die WP Rugby Instituut. Hy is sommer dadelik as ’n eerstejaarstudent aan die Stellenbosch Universiteit vir sy BCom Aktuariële Wetenskap-graad ingeskryf. Hy was ook deel van die heel eerste SA Rugby Akademie ook gebaseer by die Stellenbosch Akademie vir Sport.
Voor huidige Matie Riley Norton, was Christopher die laaste speler om Suid-Afrika Skole Rugby én SA Skole Krieket te speel.
Terwyl Christopher ’n student was, het hy nie net rugby vir Maties gespeel nie, maar ook vir die Westelike Provinsie. Hy was deel van die generasie studente-atlete wat gewys het waartoe individue in staat is wanneer hulle bereid is om hard te werk en opofferings te maak. Wanneer sy spanmaats by die WPRI ’n middagslapie geneem het ná ’n taai veldsessie, het Christopher agter sy lessenaar ingeskuif en sy boeke oopgemaak.
Hy was deel van die Maties o.20-span wat in 2019 die Varsitybeker-toernooi se Young Guns-kompetisie gewen het. Dié sege was een van Christopher se hoogtepunte as Maties-rugbyspeler. Die Varsitybeker-toernooi is in 2020 kortgeknip en in 2021 was Christopher deel van Maties se groep wat die toernooi in die “bubble” gespeel het. In dié tyd het Christopher – soos verskeie van sy spanmaats – toetse geskryf onder die toesig van die spanbestuurder in die dae tussen wedstryde.
In 2023 het hy sy graad verwerf. Sy deelname aan die 2023 Varsitybeker-toernooi is beëindig weens ’n ernstige kniebesering. Voor dié teleurstelling het hy in sy tyd by Maties ook sy senior debuut vir die WP gemaak.
“Ek dink daar is min studente-ervarings daar buite wat kom by student wees in Stellenbosch. Die mense maak Matieland so spesiale plek om te swot en jy maak vriende en konneksies wat jy regdeur jou lewe by jou dra,” vertel Christopher.
Stellenbosch was nie die einde van sy lewe as studente-atleet nie.
“Ek is as St. Andrews Universiteit se rugbyspeler van die jaar aangewys in die tyd wat ek my meestersgraad by dié universiteit in Skotland verwerf het.”
Christopher se beroepsloopbaan het as lid van die Kwantitatiewe Gegradueerde Program by FirstRand in Sandton begin. Tans is hy ’n uitvoerende assistent by RMB (Rand Merchant Bank) in die beleggingsbank-afdeling.
“As ek aan die toekoms dink en wat my doelwitte is, is dit moeilik om nou iets spesifiek uit te lig, maar vir nou sal ek graag die korporatiewe leër wil klim en groei in my beroepsloopbaan. Ek wil graag iets spesiaal in dié hoofstuk van my lewe wil bereik.”
Stellenbosch sal altyd ’n plek in sy hart hê en daarom huiwer hy nie om ander aan te moedig om hier te kom studeer.
“Ek dink die mense wat jy ontmoet en pelle wat jy maak, is onmeetbaar. Die koshuislewe is ook spesiaal en van my gunsteling herinneringe kom juis uit my koshuis ervaringe. Die studentelewe op Stellenbosch gee jou ook ’n goeie balans tussen akademies en sosiaal wees.”