Tyd om in te loer by Maties Sport Alumna: Mariske Strauss (Maties Fietsry)
- Maties Sport-alumna en elite-bergfietsryer – Mariske Strauss
- Kampioen op die internasionale verhoog
- Gee terug deur sport
Mariske Strauss het reeds op ’n jong ouderdom begin om haar ongelooflike werksetiek te ontwikkel.
Mariske was een van Suid-Afrika en Afrika se voorste bergfietsryers en het in 2016 haar BSc Sportwetenskap graad aan die Stellenbosch Universiteit verwerf.
Met dié graad leef sy onder andere haar passie vir afrigting uit.
Dié veelmalige Suid-Afrika- en Afrika-kampioen het vir meer as ’n dekade alles gegee vir haar loopbaan op die internasionale verhoog en die Olimpiese droom. Die wêreld van professionele sport is een gevul met uitdagings. Dit is ’n voltydse verbintenis wat persoonlike opoffering en toewyding vereis.
“My studente-ervaring was onvergeetlik. Ek was nie jou gewone eerste jaar nie, want ek het nie dadelik na skool verder studeer nie. Ek het heelwat gereis en ook vir ’n tyd in Amerika studeer. Ek het egter steeds nuwe vriende gemaak en waardevolle lesse geleer,” vertel Mariske.
Volgens Mariske het sy heelwat goeie herinneringe van haar tyd in Matieland. “Ek gaan nie eens probeer om een uit te sonder nie! Elke dag en geleentheid was ’n avontuur.”
“As ek egter iets moet uitsonder...Dit was vir my baie lekker om aan ’n wye verskeidenheid sportkodes deel te neem as deel van my graad. Dit was vet pret! Ek het ook die geleentheid gekry om baie te leer oor sport in die algemeen.”
Vandag is Mariske ’n ambassadeur vir handelsmerke soos Garmin en sy gebruik haar ervaring om ’n afrigter vir ander te wees wat soos sy lief is vir die sport van bergfietsry.
“Dan is ek ook mamma vir ’n bedrywige seuntjie. Tussen alles deur het ek het ’n liefde vir skryf ontdek. Ek skryf tans ’n storieboek vir my seuntjie, Marno. My langtermyn taak is om ’n boek oor my loopbaan te skryf.”
Mariske het geen tekort aan stories om ’n boek vol te skryf nie.
Daar is die byna-byna seges in die Cape Epic-bergfietstoer, internasionale ervarings en aan die anderkant van die weegskaal was toe sy in 2023 met miokarditis gediagnoseer is.
“Dit was veronderstel om my jaar te wees. Ek het ongelooflik hard gewerk om my liggaam gereed te kry om saam met Candice (Lill) aan die Epic deel te neem en uiteindelik ons ontwykende Absa Cape Epic-oorwinning te gaan opeis. Ek het ook ander doelwitte en planne gehad, maar dit was ’n groot een. Dit is egter nie hoe dinge uitgewerk het nie. Ná ’n lang en frustrerende pad, was die grootste en belangrikste bevinding miokarditis. Dit beteken – eenvoudig gestel - inflammasie van die hart. Dit is een van die redes waarom soveel jong atlete op sportvelde ineenstort.”
Mariske moes haar lewe herbesin.
Deur haar welstandskliniek bevorder Mariske ’n aktiewe en gesonde leefwyse en bied sy werkswinkels en afrigtingsessies aan vir mense van alle ouderdomme, met ’n besondere fokus op kinders en vroue. Haar uiteindelike doel is om haar uitgebreide kennis en ervaring aan die volgende generasie oor te dra en só ’n nalatenskap van inspirasie en motivering te laat voortleef.
Terug by haar liefde vir Stellenbosch. “Lewe in dié Bolandse dorp is perfek vir bergfietsryers. Coetzenburg se roetes soos ’n droom. Die Stellenbosse ervaring is besonders. Saam met die ‘hemel vir bergfietsryers’ gevoel, kan ek ook sê die onderrig aan die Stellenbosch Universiteit is wêreldklas.”