Skip to main content
Prof Nina Schumann in a blue dress in Stellenbosch
Image by: Supplied

Die drievoudige uitdaging van borskanker, Parkinson se siekte en fokale distonie het Prof Nina Schumann miskien gedwing om aan te pas, maar dit het ook ’n dieper verhouding met musiek moontlik gemaak.

Menings en artikels

Prof Nina Schumann vind nuwe note in ’n wêreld herverbeel deur Parkinson se siekte

Anél Lewis
Senior journalist
19 Desember 2025
  • Net dae nadat die Universiteit Stellenbosch (US) Wêreldbewegingsversteuringsdag met ’n kitsskare vir bewustheid oor Parkinson se siekte by die Neelsie Studentesentrum gevier het, het een van die Universiteit se mees gevierde musikante ’n diep persoonlike blik op haar lewe met ’n bewegingsversteuring aangebied.
  • Concerto kombineer huidige beeldmateriaal met uittreksels uit die argiewe van die virtuoos in haar fleur om te wys hoe Schumann hernude sin vind te midde van verwoestende verlies.
  • Ten spyte van die aanpassings, geniet Schumann steeds ’n vol skedule van klasgee en uitvoerings.

Toe die begaafde pianis prof Nina Schumann vir haar eerste mammogram gegaan het, het sy ’n roetine-ondersoek verwag. In plaas daarvan is sy daar weg met ’n lewensveranderende diagnose wat die eerste in ’n trio van toestande sou wees wat haar identiteit as musikant en dosent sou hervorm.

“Daar was geen tekens nie,” onthou sy. “Ek het eenvoudig vir my eerste mammogram gegaan en daai dag uitgevind ek het borskanker.” Die kankerdiagnose in 2012 was die eerste van die toestande wat stadig, en dikwels stilweg, haar loopbaan en identiteit hervorm het.

Toe kom die fokale distonie, ’n neurologiese versteuring wat begin het met ’n skaars merkbare sametrekking in die vingers aan haar linkerhand. “Uit al drie toestande was die vroegste tekens waarskynlik dié van Parkinson se siekte,” dink sy terug. “Maar die fokale distonie het duidelik geword nadat dit in 2013 gediagnoseer is.”

Lank voordat sy of enigiemand anders Parkinson se siekte vermoed het, was daar subtiele leidrade: ’n dowwe afwesigheid van haar reuksin, en ’n regterarm wat nie meer natuurlik geswaai het wanneer sy geloop het nie. “Teen die tyd dat Parkinson se siekte gediagnoseer word, het jy dit blykbaar al vir 20 jaar gehad,” sê sy. Schumann, wat ook hoof van die Klavierafdeling by die Departement Musiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) is, is in 2018 met die toestand gediagnoseer, op die ouderdom van 48 en net ses jaar ná haar dubbele mastektomie.

Uitdagings genavigeer

Vir ’n kunstenaar wie se loopbaan op tegniek, beheer en tallose ure agter die klavier gebou is, was die gekombineerde impak diepgaande. “Ek kan nie soveel as tevore oefen nie,” sê sy. “Fisiek is dit onmoontlik omdat ek nie dieselfde soepelheid het nie.” Parkinson se siekte, meer ontwrigtend as distonie, bepaal nou die struktuur van Schumann se hele dag. Sy werk op ’n streng vieruur-medikasiesiklus, met elke dosis wat sowat ’n halfuur neem om te werk.

Schumann sê hoewel sy akuut bewus is van die veranderinge, merk baie mense steeds nie op dat sy fokale distonie het nie. Maar vir haar is die werklikheid onontkombaar. Sy sê die verandering was veral merkbaar toe sy haarself op die skerm in die dokumentêr Concerto gesien het wat by die onlangse Stellenbosch Woordfees vertoon is. Dit was ’n “ontnugtering” om die bewegings te sien wat deel van haar daaglikse lewe geword het, erken sy. “Ek het gereeld gewonder: Moet ek dit uit die dokumentêr laat sny? Want dis amper ’n verleentheid. Maar dis natuurlik die hele punt. Ek moet dit inhou. Dit beeld die werklikheid uit.”

Hernude doel

Concerto, geregisseer deur Jurg Slabbert, volg Schumann gedurende haar laaste week van voorbereiding vir ’n uitvoering van Sergei Rachmaninoff se Klavierkonsert no. 2. Dit kombineer huidige beeldmateriaal met uittreksels uit die argiewe van die virtuoos in haar fleur om te wys hoe Schumann hernude sin vind te midde van verwoestende verlies. In sy regisseurverklaring verduidelik Slabbert: “Ek het my ten doel gestel om die essensie van kunstenaarskap, veerkragtigheid en die volhardende gees van ’n musikant in die lig van diepgaande verlies te ondersoek.”

Rachmaninoff se Klavierkonsert no. 2 het die begin van haar loopbaan ingelui, op ’n tydstip wat haar vaardigheid en kunstenaarskap onaangeraak was deur enige beperkings. “Nou, drie dekades later, benader Nina dit met die wysheid en aangrypendheid wat spruit uit jare se ondervinding en die harde werklikheid van haar toestand,” sê Slabbert.

Om na die ou beeldmateriaal te kyk, was bittersoet, erken sy. “Dit was regtig wonderlik, want ek het opgemerk hoe ekonomies my bewegings was, waarvan ek nooit bewus was nie. Dit is hartseer om die voor en ná te sien. Maar dit is wat dit is.”

’n Talent herverbeel

Om te kan aanhou speel, moes Schumann haar verhouding met die klavier herverbeel en haar tegniek aanpas. “Die hoofsaak is natuurlik dat my pols nie beweeg nie. So, dit beteken as my pols nie beweeg nie, is die enigste ding wat ek kan beweeg my bolyf. Gevolglik moet ek die hoek waarteen ek voor die klavier sit, voortdurend aanpas. Ek moet elke dag probeer om oplossings te vind, so daardie fokus neem die meeste van my tyd in beslag, meestal wanneer ek oefen.” Hierdie veranderinge het nie haar kunstenaarskap verminder nie. In stede daarvan het dit nuwe rigting gekry. Wat siekte tegnies van haar weggeneem het, het dit in emosionele diepte teruggegee.

Vir Schumann het “musikale gevoel” op sigself van die agtergrond na die voorgrond beweeg. “Dit is die uitdrukking van spanning en die oplossing wat jy van die musiek voel en dit kom van binne af,” verduidelik sy. “Jy weet, ek dink ek het in die verlede baie gefokus op tegniese kundigheid en hoe vinnig ek tot ’n sekere mate kon speel; nou fokus ek baie op klankproduksie en die aanbieding van die materiaal op ’n musikale manier.”

Ondersteuning gevind

Schumann sê haar sterkste ondersteuning kom van haar studente. “Dit word nie noodwendig uitgesprek nie, maar ek weet hulle is daar vir my. Daar is bewondering van hul kant. Ek voel hulle vergesel my elke dag op hierdie reis.” Om uitgesproke te wees oor haar toestande het haar ook toegelaat om deel te wees van ’n wêreldwye gemeenskap van mense met soortgelyke uitdagings, met baie wat via e-pos na haar uitreik vir leiding en kundigheid nadat hulle haar op toer gesien het. “Aan die een kant wil ek ander mense help, maar dit is nie heeltemal altruïsties nie. Dit help my ook om vrede te maak met my situasie. Dis ’n tweerigtingstraat.”

Sy beklemtoon die belangrikheid daarvan dat lyers iemand kry om mee oor hul toestand te praat. “Ons het soveel gesprek en openheid as moontlik oor hierdie toestande nodig, sodat mense verstaan dat terwyl dinge met jou liggaam gebeur, jy steeds ’n volwaardige persoon is.”

’n Toekoms vol belofte

Ten spyte van die aanpassings, geniet Schumann steeds ’n vol skedule van klasgee en uitvoerings. “Wanneer ek konserte gee, besef ek dat ek regtig nog kan speel. Dis nog nie vir my nodig om die boek daaroor toe te maak nie. En die belangrikste en mees positiewe ding vir my brein is om aan te hou speel so lank as wat ek kan.”

Met haar studente wat haar besig hou en jaarlikse geleenthede soos die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees op die kalender, bly haar musikale lewe vol. Sy sien veral daarna uit om Rachmaninoff se Klavierkonsert no. 2 volgende jaar in Oktober in die VSA uit te voer. “Ek het van maand tot maand geen idee of ek dit sal kan doen of nie, maar ek gaan dit ’n kans gee, en ons sal sien wat gebeur.”

Die drievoudige uitdaging van borskanker, Parkinson se siekte en fokale distonie het Schumann miskien gedwing om aan te pas, maar dit het ook ’n dieper verhouding met musiek moontlik gemaak. “Ek voel veel soveel dankbaarder wanneer ek speel omdat ek dit nie meer as vanselfsprekend aanvaar nie.”

In plaas daarvan om na tegniese perfeksie te strewe, kan Schumann die emosionele kant van haar kunstenaarskap ondersoek. “Ek fokus veel meer op die uitdrukking en kommunikasie van die musikaliteit wat ek het, eerder as die tegniek, en dis nogal ’n wonderlike plek om in te wees.”

Merkers

Musiek

Verwante stories