Akademici besin oor die transformerende nalatenskap van prof Lis Lange
- Vooraanstaande akademici, kollegas en studente het by die US byeengekom om prof Lis Lange se wydlopende impak onder die loep te neem.
- Die simposium het Lange se nalatenskap in kurrikulumhervorming, bestuur en intellektuele aktivisme krities getakseer.
- ʼn Gedenkbundel gegrond op die referate wat by die simposium gelewer is, sal aanstaande jaar uitgegee word.
Kollegas, vriende en studente van wyle prof Lis Lange het onlangs in die Biblioteekouditorium van die Universiteit Stellenbosch (US) byeengekom vir ʼn gedenksimposium om haar blywende impak op hoër onderwys in Suid-Afrika onder die loep te neem. Die geleentheid, “Prof Lis Lange se bydrae tot hoër onderwys in Suid-Afrika: ʼn Kritiese beoordeling”, het as ʼn huldeblyk én ʼn gestrenge evaluering van ʼn akademikus gedien wat die sektor oor verskeie instellings heen gevorm het.
Die inisiatief vir die aanbieding van dié geleentheid, wat gesamentlik deur die US en die Nelson Mandela-universiteit (NMU) geborg is, het van prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US, en prof André Keet, Viserektor: Betrokkenheid en Transformasie aan die NMU, gekom.
Prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier van die US, het in sy openingsrede gesê die doel van die simposium is nie net om Lange se lewe te vier nie, maar ook om haar idees, leierskap en bydrae tot die hoëronderwyssektor in Suid-Afrika te bepaal en te ondersoek.
Lange se loopbaan het senior rolle in wetenskapsrade, by verskeie universiteite soos die US, die Universiteit van die Vrystaat (UV), die Universiteit van Kaapstad (UK) en die NMU, asook in die Raad vir Hoër Onderwys omvat. Sy het beleid én praktyk beïnvloed en haar werk het ver buite individuele instellings weerklank gevind. “Lis het geglo universiteite moet krities oor hulleself dink,” het Ramjugernath gesê. “Sy het geglo ondersoek, nadenke en – belangrik – konstruktiewe kritiek is noodsaaklik vir institusionele groei. Sy het ʼn diep en onwrikbare oortuiging gehad dat universiteite bestaan om die samelewing te dien – nie simbolies nie, maar omvattend.”
Prof Sibongile Muthwa, Visekanselier van die NMU, het Lange se nalatenskap in ʼn opgeneemde boodskap beskryf as dié van ʼn invloedryke figuur in die sektor met “transgressiewe en dapper” insigte oor kwessies wat wissel van die politiek en praktyk van die kurrikulum tot ongelykmatighede in beleid en bestuur. “In die lig van die globale en nasionale uitdagings waarmee ons instellings te kampe het, sal Lis se kritiese denke en ontleding, haar onomwonde kritiek en haar insigte diep gemis word,” het Muthwa opgemerk.
Die simposium het uiteenlopende stemme byeengebring om Lange se leierskap op gebiede soos kurrikulumtransformasie, onderrig- en leerinnovasie, asook die ontwikkelende rol van gehalteversekering in Suid-Afrikaanse hoër onderwys in oënskou te neem.
Persoonlike besinning
In ʼn aangrypende bydrae het die fokus van intellektuele taksering na ʼn persoonlike besinning verskuif oor die lewens wat Lange aangeraak het. Die getuienis van Mx Lihlumelo Toyana, ʼn skrywer en kultuurwerker, het ʼn intieme blik op haar blywende invloed aan die gehoor gebied.
Toyana, eens ʼn studente-assistent aan die UV, het ʼn portret geskilder van mentorskap wat diep empaties was. “Lis het my nie as ʼn bode of as ʼn randfiguur gesien nie, maar as ʼn jong geleerde met idees wat die moeite werd is om ernstig op te neem; as ʼn jong denker met ʼn verstand en ʼn stem wat die moeite werd is om te betrek,” het sy vertel. Toyana het ʼn leierskap beskryf wat hiërargieë afgebreek het: “Sy het uitgevra oor my inspirasies, sy het geluister, sy het bevestig en sodoende die magsverskille afgebreek wat so dikwels egte verbintenisse doodsmoor.”
Toyana het na Lange se “bevestigende, opregte, transformerende” benadering verwys en vertel hoe sy vir akademiese vryheid, intellektuele eerlikheid en die beskerming van kwesbare stemme voorspraak gemaak het.
Nalatenskap van ʼn ‘akademikus-administrateur’ geëer
Ander sprekers, insluitende prof Nomalanga Mkhize, prof Kirti Menon, prof Saleem Badat, dr Reno Morar en prof Danwood Chirwa, het die omvang van Lange se nalatenskap bevestig. Hulle het vertel van haar vreesloosheid as ʼn akademikus-administrateur, haar kritiese verbeelding en haar aandrang dat transformasie in hoër onderwys meer as bloot nakoming of ritueel moet beteken.
Badat het Lange se werk oor die teoretisering van nasionale gehalteversekeringstelsels en haar visioenêre betrokkenheid by vrae oor geregtigheid en demokrasie gekarteer. Morar het besin oor haar leierskap aan die UK, toe sy dié instelling gedwing het om te worstel met die spanning tussen doeltreffende administrasie en morele doel. Chirwa het ʼn bestuurder beskryf wat streng én deernisvol was, terwyl Keet die fokus teruggebring het na die kruispunt tussen persoonlike oortuiging en institusionele hervorming.
In sy slotopmerkings het Jansen die gewigtigheid van die geleentheid met ʼn beroep vir waaksaamheid en solidariteit in Suid-Afrikaanse hoër onderwys onderstreep. Hy het gemaan teen ʼn “sluipende xenofobie op ons kampusse” en gewaarsku dat universiteite ruimtes moet bly wat oop is vir “die beste idees, die beste mense ... ongeag die toeval van geografie”. Jansen se huldeblyk het geëindig met ʼn herinnering dat Lange aan “daardie seldsame tradisie van akademici-administrateurs” behoort wat persoonlike ambisie opgeoffer het om instellings te bou, nuwe generasies te mentor en die gees van sosiale geregtigheid lewend te hou.
Die simposium is afgesluit met voortgesette betrokkenheid in die vooruitsig. Die versameling referate by die geleentheid sal volgende jaar in ʼn gedenkbundel gepubliseer word, het Jansen gesê. Die boek sal ʼn akademiese bydrae wees “wat verseker dat ons idees aanhou weerklink in die sektor wat Lis gedurende haar leeftyd help vorm het”.
- Kyk hier na die video van die simposium.