‘Skut gat and dala’ – baanbrekersnavorsing vir meestersgraad vang geleefde werklikheid van Wynland-vroue vas
- Chérise Adams herformuleer feministiese teorie deur die geleefde kennis van Kleurling* werkersklasvroue in die Wynlande
- Haar tesis – wat deels in Afrikaaps geskryf is – fokus op die sorg, veerkragtigheid en alledaagse oorlewingstrategieë wat in hoofstroomfeminisme oor die hoof gesien word.
- Haar werk vereer vroue wie se intellektuele arbeid lank verkeerdelik as omstandigheid eerder as teorie geïnterpreteer is.
“Kleurling* identiteit het ʼn bietjie ruimte nodig om asem te haal.” Hierdie reël uit Chérise Adams se meestersgraadtesis bly die leser by en kry eers betekenis wanneer mens die uniekheid en diepte van haar navorsing vir ʼn MA in Visuele Studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) begryp.
Adams het in Cloetesville grootgeword, ʼn plek wat haar “grootgemaak het” en “deur alles loop wat sy skep”. In haar woonbuurt het sy gesien hoe vroue kos sonder skroom deel, kinderversorging poel en veiligheid beding in strate wat min daarvan bied. “Wat ek by die huis gesien het, was feminismes wat nie as sulks beskryf is nie,” sê sy. “Dit was komplekse kennisstelsels, maar is selde as teorie erken.”
Haar navorsing het ten doel gehad om hierdie vorme van feministiese praktyk met die erns te bejeën wat dit verdien. Adams het onderhoude met vyf vroue van Stellenbosch en omliggende gebiede gedoen en só alledaagse dade van oorlewing, sorg en weerstand deur wat sy “ghetto-feminisme” noem, ondersoek. Dié dade word geïnspireer deur sogenaamde “hood feminism”, ʼn beweging wat op die behoeftes en kennis van gemarginaliseerde vroue ingestel is.
Die tesis wat daaruit gespruit het, ondersoek visuele voorstellings en narratiewe van Suid-Afrikaanse ghetto-feministe en herformuleer feministiese denke van nuuts af. Dit is verwortel in die Wynlande en in die lewenswêrelde van Kleurling werkerklasvroue, en dring daarop aan dat hulle intellektuele arbeid as sodanig erken word.
Vir Adams het die projek met ʼn persoonlike teenstrydigheid begin. “Daar was ʼn gaping tussen die feministiese raamwerke wat ek gelees het en die wêrelde waarin ek grootgeword het,” vertel sy. Daardie gaping het gelei tot ʼn vraag wat haar navorsing sou anker: Wat tel as feministiese werk in die Wynlande en waarom word die arbeid van werkersklasvroue so selde as intellektueel hanteer?
Haar onkonvensionele tesis – wat gepubliseer is as ʼn webwerf wat sy ironies genoeg ʼn “argief” noem – beliggaam hierdie toewyding. Dis gedeeltelik in Afrikaaps geskryf, met hoofstuktitels soos “Ja, neh! Bly wys”, “Deuri tjat, ma ONS wys duime”, en “Jirre, is altyd tjaila tyd”, en verwerp die idee dat akademiese legitimiteit net in Standaardengels of in vorme wat ver van geleefde ervaring verwyder voel, te vinde is.
Nuwe denke oor feministiese teorie
ʼn Besliste keerpunt in Adams se denke het lank voor universiteit gekom. As kind het sy die naam Ellen Pakkies oor die radio gehoor – ʼn vrou van Lavender Hill wat haar dwelmverslaafde seun in 2007 vermoor het. Die openbare mening hieroor was verdeeld. So ook haar gemeenskap. Adams onthou hoe haar ma Pakkies met oortuiging verdedig het. “Sy het empatie betoon met ʼn vrou wie se lewenservarings sy nie gedeel het nie en sedertdien probeer ek dieselfde doen,” vertel sy.
Die oomblik het haar bygebly omdat dit tekenend was van die kompleksiteit van sorg in gemeenskappe, wat dikwels slegs deur lyding uitgebeeld word. Dit het ook haar vroeë oortuiging uitgedaag dat “daar geen feminisme in die ghetto is nie”. Feministiese praktyk word daagliks in Cloetesville en reg oor die Kaapse Vlakte toegepas. “My gemeenskap praat dalk nie oor die loongaping tussen geslagte of die skryf van manifeste nie," sê sy. “Maar hulle deel hulpbronne; hulle probeer voedselonsekerheid bestry, al is dit net vir een aandete; hulle maak seker dat bure hulle huis veilig verlaat as hulle werk toe gaan.”
Hierdie diep gewortelde gemeenskapsetiek het diep weerklink toe sy die werk van die Amerikaanse skrywer en aktivis Mikki Kendall ontdek het. Kendall se aandrang dat feminisme verantwoordbaar aan die materiële realiteite van gemarginaliseerde vroue moet wees, het soos erkenning gevoel. “Haar kritiek op hoofstroomfeminisme se neiging om ervarings te veralgemeen sonder om strukturele ongelykheid aan te pak, het dít geëggo waarvan ek tydens my kinderjare getuie was,” sê Adams. Kendall se formulering van “oorlewingsfeminisme” het ʼn naam gegee aan wat Adams geleef het: dat vroue deur praktyk teoretiseer en dat die kennis wat in werkersklasgemeenskappe geproduseer word diep intellektueel is, selfs wanneer dit nie ʼn naam het nie.
Die vyf vroue met wie Adams onderhoude gevoer het, het vorme van veerkragtigheid getoon wat selde in oorheersende feministiese narratiewe erken word. Sy het stories van swaarkry verwag, nie die noukeurige intensionaliteit onderliggend aan hulle daaglikse besluite nie. “Hulle veerkragtigheid was nie toevallig nie,” merk sy op. “Dit was doelbewus, afgemete en deurdink.”
Die meeste het nie as feministe geïdentifiseer nie. Tóg het hulle praktyke – kollektiewe sorg, grensstelling, verantwoordbaarheid, weiering om te verdwyn – sterk met feministiese denke ooreengestem. Hulle werk ontwrig hoofstroomaannames oor agentskap en weerstand.
Hierdie stories het Adams se eie ervaring weerspieël. “Weerstand in Cloetesville was nooit luid of skouspelagtig nie,” sê sy. “Dit was sag, stil, geïmproviseer, maar nie minder diepgaande nie.” Grootword het haar geleer dat gemeenskap iets is wat daagliks beoefen word en dat oorlewing van kollektiewe vindingrykheid afhang.
Taal as tuiste en metode
Om gedeeltelik in Afrikaaps te skryf was polities én persoonlik. “Hierdie dialekte gee uitdrukking aan dele van myself waarvoor akademiese Engels nie ruimte kon skep nie,” verduidelik Adams. Afrikaaps het tekstuur, humor en emosionele nuanse ongeskonde laat bly.
Sy illustreer die verskil. In akademiese Engels sou sy dalk sê: “Jou toewyding aan hierdie proses is duidelik en ek is vol vertroue dat volgehoue fokus sterk resultate sal oplewer.” In Afrikaaps word dit: “Naai waggou, ek wiet da is ʼn klomp nwatas in jou omtes, but nou moet djy staan op jou nomme totti einde – dala, niks distractionsi.”
Adams hoop haar werk sal die manier waarop akademici kennis van werkersklasgemeenskappe hanteer, verander. Sy wil hê spreektaal-, geleefde en gemeenskapsgebaseerde feminismes moet as intellektueel gestreng erken word. Netso wil sy hê die vroue in haar studie moet sien dat hulle stories met waardigheid weerspieël word. “Dat hulle alledaagse vorme van sorg, weerstand en oorlewing saak maak.”
In een hoofstuk onderwerp sy haarself aan dieselfde kollig as die vroue wat sy bestudeer het om “solidariteit te betoon”. Sy skryf sy het haar hele lewe lank in ghetto-kontekste gewoon: “Ek het toegang tot dieselfde ruimtes gehad en is met dieselfde gevoelens gekonfronteer dat ek chaotiese besluite moes neem en nie gehoor of verstaan gevoel het toe my oorlewing daarvan afgehang het nie.”
As sy nie navorsing doen nie, gee Adams haar oor aan romans vir jong/nuwe volwassenes, astrologie en selfs geneeskundige joernale. “Ek lees geneeskundige joernale vir die pret,” lag sy. Sy is mal oor grufilms, is tans obsessief oor Breaking Bad en kyk “ten minste drie episodes per dag”. Haar ideale toekoms sluit reis, skryf, vrywilligerswerk en om ʼn PhD te verwerf in.
Sy beskryf haarself as “queer, kinderloos en ongetroud” en haar humor skyn in haar erkennings deur. Sy bedank haar “Mammie en Dadda” dat hulle “berge versit met die min wat julle het” en herinner hulle daaraan dat hulle “die mees bedorwe laerinkomste-brokkie in die Wynlande grootgemaak het”.
Sy praat met groot lof van prof Willemien Froneman, buitengewone medeprofessor by AVReQ (die Sentrum vir die Studie van die Gevolge van Geweld en die Soeke na Herstel van die US), as die “studieleier van my drome” wat haar as student én Kleurling vrou ondersteun het wat die akademie navigeer.
Maar haar laaste woord van dank gaan aan die vyf vroue wie se kennis die kern van haar tesis vorm: “Aan Winay, Mo, Wilma, Sam en Judie: Niks hiervan is moontlik sonder julle nie. Dankie vir jul gemeenskap! En aan al die ghetto-feministe daar buite: Skut gat en dala.”
- “Die woord ‘Kleurling’ word in hierdie tesis gewetensvol gebruik, met volle bewustheid van die omstrede sosio-politieke en historiese assosiasies daarvan." – Chérise Adams in haar tesis, “An Artistic Exploration of 'Ghetto Feminism': How Multiple Voices Contribute to the Dala that must be Archived”.
• Kry hier toegang tot Adams se tesis: https://sites.google.com/view/anartisticexplorationofghettof/home