Skip to main content
A photo of Dr Alfred Schaffer
Image by: Trouw newspaper

Dr Alfred Schaffer, 'n akademikus van die Universiteit Stellenbosch het die Van Ewijk-stigting se Prestasietoekenning gewen. 

Persverklaring Kunste, tale en sosiale wetenskappe Toekennings en mylpale

Prys vir versterking van literêre bande tussen Suid-Afrika en Nederland aan dr Alfred Schaffer toegeken

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
21 Januarie 2026
  • Dr Alfred Schaffer, 'n akademikus van die Universiteit Stellenbosch het die Van Ewijk-stigting se Prestasietoekenning gewen vir die bevordering van kulturele bande tussen Suid-Afrika en Nederland.
  • Die R100 000-toekenning erken sy werk as digter, vertaler en akademikus regoor die Afrikaans- en Nederlandssprekende wêrelde.
  • Schaffer beskryf die prys as 'n oomblik van besinning oor 'n lewe gevorm deur taal, migrasie en literêre uitruiling.

Dr Alfred Schaffer, 'n senior dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US), is met die gesogte Van Ewijk-stigting se Prestasietoekenning vir sy bydrae tot die bevordering van kulturele verhoudings tussen Suid-Afrika en Nederland bekroon. Die prys, ter waarde van R100 000, erken individue wie se werk 'n volgehoue en betekenisvolle invloed op kulturele uitruiling tussen die twee lande gehad het.

Vir Schaffer, wat wyd as een van die mees prominente kontemporêre Nederlandse digters beskou word, verteenwoordig die toekenning 'n geleentheid tot besinning. "Vir my persoonlik voel dit as ʼn moment van refleksie, ʼn moment om terug te kyk, iets wat ek nie gewoonlik doen nie," sê hy. "Ek dink terug aan hoe ek hier beland het, in 1996, aan mense wat ek leer ken het, mense wat my ondersteun het en touwys gemaak het. Ek dink aan mense vir wie ek lief geraak het, mense wat ek verloor het.

Schaffer woon al meer as twee dekades in Suid-Afrika, met 'n tydperk in Amsterdam tussenin. Hy is Nederland gebore met 'n Arubaanse ma en 'n Nederlandse vader en het die Nederlandse taal en letterkunde, asook film- en teaterwetenskappe in Leiden gestudeer voordat hy in die middel 1990's na Kaapstad verhuis het om sy nagraadse studie aan die Universiteit van Kaapstad voort te sit, waar hy later sy doktorsgraad voltooi het. Nadat hy in die uitgewersbedryf in Nederland gewerk het, het hy in 2011 permanent na Suid-Afrika teruggekeer en by die US aangesluit, waar hy Afrikaanse en Nederlandse letterkunde onderrig. Hy is ook 'n gasdosent in Nederlands aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Sy akademiese loopbaan loop parallel met 'n internasionaal bekroonde literêre oeuvre. In 2021 het Schaffer die jongste ontvanger van die PC Hooft-prys geword, wat algemeen as die hoogste eer vir 'n Nederlandse skrywer beskou word en is vir sy hele oeuvre toegeken. Hy het ook verskeie ander belangrike Nederlandse literêre toekennings ontvang en sy poësie is in verskeie tale, insluitende Afrikaans, vertaal. Terselfdertyd het hy die werk van vooraanstaande Afrikaanse digters soos Antjie Krog, Ronelda Kamfer en Marlene van Niekerk in Nederlands vertaal, wat gehelp het om Suid-Afrikaanse poësie aan lesers in Nederland en België bekend te stel.

Schaffer het ook die afgelope klompie jare 'n sleutelrol in die fasilitering van literêre uitruiling deur openbare geleenthede en samewerkings gespeel, deur Nederlandse en Vlaamse skrywers na Suid-Afrika uit te nooi en die vertaling van hulle werk in Afrikaans te ondersteun. Skrywers soos Leonard Nolens, Stefan Hertmans, Tommy Wieringa en Saskia de Coster het aan plaaslike feeste en gesprekke deelgeneem en het sodoende dikwels nuwe gehore bereik. 

Op die vraag wat dit vir hom beteken om die Van Ewijk-stigtingprys te wen, sê Schaffer die eer is nog besig om in te sink. "Tyd het vinnig verbygegaan, maar ek het eintlik nooit 'n groot plan, of drome, of 'n strategie gehad nie. Ek het maar net ingeval by die dinge en ongelooflike geluk gehad. Dit voel dus nie asof ek enigsins 'n groot bydrae tot iets gemaak het nie – mens doen maar net jou dinge en hopelik, as jy gelukkig is, is dit dinge wat jy geniet om te doen. Vir meer kan 'n mens eintlik nie vra nie." 

Die toekenning erken ook Schaffer se betrokkenheid by die wyer Nederlandssprekende wêreld, insluitende die Karibiese Eilande en Suriname. Hy beskryf hierdie breër linguistiese en kulturele landskap as noodsaaklik om Nederland vandag te verstaan, terwyl hy ook op hardnekkige misverstande en ongelykhede wys wat in koloniale geskiedenis gewortel is. 

"Daar is 'n groot kulturele rykdom as dit kom by die eilande Aruba, Curaçao, Bonaire, Sint Maarten, Sint Eustatius en Saba, en die land Suriname," sê hy. Hy merk ook op dat so baie mense van daar nou in Nederland woon.

Terselfdertyd beklemtoon hy die ongelyke werklikhede wat dikwels in diskoers afwesig is. "Baie Nederlanders wat daar woon, ly 'n goeie lewe, terwyl die plaaslike bevolking dikwels sukkel – my eie Arubaanse ma het in enorme armoede grootgeword, en daar is steeds sulke armoede, soveel dekades later," sê hy met verwysing na die voortgesette stryd van talle gemeenskappe in die Karibiese Eilande.

Hy beklemtoon ook die belangrikheid van moedertaalonderrig, veral in tale soos Papiamentoe, en beskryf blywende koloniale bande as "heeltemal anachronisties", selfs al lyk dit asof soortgelyke dinamika elders in die wêreld weer opduik.

Ondanks die prestige van die Van Ewijk-stigtingsprys, is Schaffer versigtig om dit as 'n keerpunt te beskou. "Ek was nog nooit bewustelik besig om deure te soek wat ek volgende kan oopmaak nie," sê hy. "Op die oomblik is ek nie eintlik seker of en hoe die prys in daardie opsig van betekenis gaan wees nie. Hopelik kan ek, op watter wyse ook al, voortgaan met dít wat ek tans doen."

Wat die prysgeld betref, sê hy dit is te vroeg om te sê hoe dit aangewend gaan word. Ek het nog geen planne nie, die nuus is nog baie vars. Ik moet er nog van bijkomen!"

Verwante stories