Skip to main content
Dr Olive Shisana photographed at the Coetzenburg Centre where she received her honorary doctorate.
Image by: Henk Oets

Dr Olive Shisana by die gradeplegtigheidseremonie.

Toekennings en mylpale Institusionele nuus

Kampvegter vir gelykheid in gesondheid ontvang US-eregraad

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
27 Maart 2026
  • Dr Olive Shisana het die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, ontvang.
  • Vereer vir haar toewyding aan geregtigheid, bewysgebaseerde beleidmaking, en openbare gesondheid- en navorsingstelsels.
  • Sy het die US se verbintenis tot navorsing, leer en sosiale impak beklemtoon.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (26 Maart 2026) 'n eredoktorsgraad aan die Suid-Afrikaanse baanbreker op die gebied van sosiale wetenskap en epidemiologie, dr Olive Shisana, by die instelling se Maart-gradeplegtigheid toegeken. Shisana het die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, by 'n seremonie vir die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ontvang.

Sy is vereer vir haar toewyding aan geregtigheid, bewysgebaseerde beleidmaking en die transformasie van Suid-Afrika se openbare gesondheid- en navorsingstelsels, en vir haar leierskap in die bevordering van wetenskap vir maatskaplike welstand.

Shisana hetin haar aanvaardingstoespraak gesê sy is bevoorreg en trots om die eredoktorsgraad van die US te ontvang. “Ek aanvaar hierdie eer namens almal wat help om Suid-Afrika se gesondheidstelsel te transformeer.”

Sy het die universiteit se verbintenis tot navorsing, leer en sosiale impak beklemtoon. “Hierdie eksplisiete verbintenis tot uitnemendheid, inklusiwiteit en samewerking dryf pogings om die gesondheidstelsel te versterk en gelykheid in gesondheid in Suid-Afrika en elders te bevorder.”

Shisana het ook vertel hoe sy met kollegas by die US saamgewerk het om die baanbrekende aanlyn MIV/VIGS-bestuursprogram by die universiteit te vestig. Meer as 5 000 studente uit 40 lande, insluitend 600 met meestersgrade, is deur die program opgelei.

“Baie van hierdie gegradueerdes dien nou in senior posisies in die regering, internasionale organisasies en die burgerlike samelewing, sowel as die gesondheidstelsels regoor Afrika. Ons het iets gevorm wat een van die invloedrykste akademiese opleidingsinisiatiewe in MIV en openbare gesondheid op die Afrika-kontinent sou word.”

Sy het 'n beroep op die US gedoen om opleidingskurrikulums en institusionele vennootskappe te prioritiseer wat toekomstige gesondheidswerkers toerus om universele gesondheidsdekkingsdienste regoor Suid-Afrika en op die vasteland te verskaf terwyl ons nader aan die Verenigde Nasies se program oor universele gesondheidsdekking beweeg.

Meer oor Shisana

Dr Olive Shisana het as ʼn pionier op die gebied van sosiale wetenskap en epidemiologie gehelp om die land se openbare gesondheidsektor te vorm.

Sy het gedurende president Nelson Mandela se administrasie as Direkteur-Generaal in die Departement van Gesondheid gedien, waar sy ’n sentrale rol in die heropbou van openbare gesondheid ná apartheid gespeel het. Sy was ook die Hoof- Uitvoerende Beampte van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). Onder haar leierskap het Suid-Afrika sy eerste nasionale bevolkingsgebaseerde MIV-opnames gedoen wat uiters belangrike data vir beleid en voorspraak verskaf het. Sedertdien is die opname vyf keer tussen 2005 en 2022 herhaal en bied Shisana steeds tegniese ondersteuning aan die RGN met die longitudinale ontleding van die data.

Sy het gedurende die Covid-19-pandemie as internasionale medevoorsitter van die Access to Covid-19 Tools Accelarator (ACT-A)-fasiliteringsraad (2020–2022) gedien wat uit nagenoeg 33 lande regoor hoë-, middel- en lae-inkomstekontekste bestaan het. Sy het gehelp om die internasionale gemeenskap se reaksie op die pandemie met duidelikheid, moed en integriteit te lei.

Sy is ook met die Orde van die Baobab – 'n presidensiële eer wat aan Suid-Afrikaanse burgers toegeken word vir uitstaande diens op die gebied van MIV/vigs-wetenskap en gemeenskapsdiens – bekroon. 

Shisana, wat ’n doktorsgraad in epidemiologie aan die Johns Hopkins (nou Bloomberg) Skool vir Openbare Gesondheid verwerf het, het ook by die Wêreldgesondheidsorganisasie gewerk waar sy vir programme oor MIV/vigs, reproduktiewe gesondheid, vroue- en kindergesondheid verantwoordelik was.

Verwante stories