Skip to main content
A set of triplets, Kirsten, Liam and Ivan Pietersen graduated from SU with flying colours in three distinct fields.
Image by: Stefan Els

'n Drieling, Liam, Kirsten en Ivan Pietersen, het met vlieënde vaandels in drie afsonderlike velde aan die US gegradueer.

Persverklaring Toekennings en mylpale

Driedubbele graadvang sukses vir Pietersen-drieling

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
09 Desember 2025
  • Vandeesweek se gradeplegtighede maak dit drie in ’n ry vir ’n Stellenbosse drieling met al drie wat nou met vlieënde vaandels aan die SU gegradueer het.
  • Kirsten, Liam en Ivan Pietersen het elkeen akademies in drie uiteenlopende vakgebiede uitgeblink.
  • Hulle ma, Christine – wat alombekend is op kampus deur haar werk by Neelsie Eiendomme – besin oor die grootmaak van ’n drieling wat "altyd opgedaag het".

Die Universiteit Stellenbosch (US) vier 'n noemenswaardige oomblik gedurende gradeweek wanneer twee lede van 'n drieling in die ander lid van die drieling se voetspore volg om die verhoog oorsteek om hulle graad te ontvang. Elkeen van die drie het hulle graad in uiteenlopende vakgebiede wat niks met mekaar verband hou nie, voltooi. Die enigste raakpunt is dat al drie uitmuntend presteer het. 

Kirsten Pietersen, wat haar graad in voedselwetenskap behaal het, is bo-aan haar klas en het onlangs die eerste plek in haar Nuwe Produkontwikkelingsprojek gedeel. Haar broer Liam het sy graad in Internasionale Besigheid met lof voltooi en beplan om aanstaande jaar sy honneursgraad te doen. Die derde lid van die drieling, Ivan, het verlede jaar cum laude met 'n BSc in Menslike Lewenswetenskappe gegradueer en is tans met die MBChB-program by Tygerberg besig.

Hulle prestasies, hoewel individueel, deel 'n gemeenskaplike grondslag wat hulle ma, Christine, aan vroeë gewoontes en duidelike verwagtinge toeskryf. Om 'n drieling groot te maak het beteken om 'n knap begroting en besige skedules met 'n ysterhand te bestuur. Deur die jare het sy konsekwent gebly in een boodskap: Hulle poging was 'n belegging in hulleself. "Toe hulle jonger was, het ek altyd vir hulle gesê, 'Julle moet opdaag'. Hulle het selde klasse misgeloop," sê Christine met 'n trotse glimlag. 

Die drieling se ouers het vir hulle gedurende hulle kinderjare 'n stimulerende omgewing gebied en hulle gereeld op reise deur Suid-Afrika en selfs Europa geneem. 

Beurse vir akademiese prestasie het die finansiële druk verlig, maar dissipline het hulle verder gedra. Die drieling sê om op Stellenbosch groot te word met 'n ma wat by Neelsie Eiendomme op kampus werk, het beteken dat om Maties te word soos 'n natuurlike uitbreiding van hulle tuisomgewing gevoel het. Hulle beskou hulle ma as hulle grootste inspirasie. Sy het "ongelooflik hard" gewerk om hulle as die afgelope sewe jaar enkelouer te ondersteun. Haar voorbeeld vorm steeds die grondslag vir hoe hulle hul individuele doelwitte benader.

‘Ingeboude maats’

Mense neem dikwels aan dat 'n drieling dieselfde belangstellings en temperament deel, maar ondanks die feit dat hulle slegs minute uitmekaar gebore is, is die Pietersens vinnig om daarop te wys dat hulle persoonlikhede en akademiese doelwitte al van vroeg af verskil het.

Kirsten beskryf hulle gehegtheid as 'n soort ingeboude ondersteuningstelsel. "Daar was nooit 'n vervelige oomblik terwyl ons drie elke grootwordstadium saam deurgemaak het nie," sê sy. "Dit beteken om nooit alleen deur enigiets te gaan nie en altyd twee vriende te hê om op te steun."

Vir Liam was dit gewoon én buitengewoon om saam groot te word. Om twee "ingeboude maats" te hê was normaal, maar dit was nie altyd maklik om alles te deel nie. "Toe ek kleiner was, het ek gewonder hoe dit sou wees om 'n enkelkind te wees," sê hy. "Maar soos ek ouer geword het, het ek besef dit sou nogal vervelig gewees het." 

Ivan praat van versnelde groei. "Jy kom drie keer so vinnig in die moeilikheid, jy leer drie keer vinniger, maar die belangrikste, jy groei drie keer vinniger," sê hy. "Ek kan my nie 'n lewe sonder hierdie maats voorstel nie, en ek dink hulle het 'n deurslaggewende rol gespeel in die vorming van wie ek is." 

Hulle trotsste akademiese mylpale beklemtoon hulle individualiteit. Kirsten sê sy het haar doelwitte in 'n veeleisende kursus ondanks finansiële druk bereik het en beklemtoon die sukses van haar finalejaarprojek. Liam vertel van sy derdejaar-uitruiltydperk in Duitsland, waar hy by 'n nuwe akademiese en kulturele omgewing aangepas het, sy Duits verbeter en blywende vriendskappe gesmee het. Vir Ivan was die keerpunt om punte te behaal wat goed genoeg was om vir geneeskunde te kwalifiseer – 'n doelwit wat hy al jare lank voor oë gehad het. "Om al die harde werk te sien vrugte afwerp was verreweg my trotsste akademiese prestasie," sê hy.

Christine praat sagkens oor hulle verskille. "Behalwe vir speelse mededingings toe hulle jonger was, het die drieling nooit met mekaar meegeding nie." Sy onthou hoe Kirsten huis toe gekom het, oortuig sy sou dop – net om met 'n onderskeiding terug te keer. 

Vriendskap en familie

Aanstaande jaar gaan aansienlike verandering vir die Pietersens inhou: Liam gaan sy honneursgraad doen en terug trek huis toe; Kirsten is op pad na die Verenigde State om vir drie maande by 'n ski-oord te gaan werk; Ivan gaan hom verder verdiep in sy reis deur die geneeskunde. 

Hulle gelukkigste herinneringe as Maties weerspieël die drieling se unieke, individuele ervarings. Kirsten koester die vriendskappe wat sy in Nerina-koshuis gesmee het. "Ek het in my kinderjare altyd daarvan gedroom om 'n suster te hê. Iemand om die lewe, stories en selfs klere mee te deel. Nerina het my presies dít gegee en ek het die kosbaarste herinneringe van die ongelooflike vriende wat ek gedurende my vier jaar daar gemaak het," sê sy.

Liam dink aan die eenvoudige oomblikke van "gesamentlike pret": Juig by die Varsitybeker as deel van 'n groot vriendegroep, etes by die Neelsie, laatnag-biblioteeksessies en om tyd saam met sy neefs op kampus deur te bring. Ivan se gunstelingherinneringe gaan oor sy vriende in Simonsberg-manskoshuis en nou in Meerhoff-koshuis op die Tygerberg-kampus. "Hierdie is vriende wat my uitdaag, ondersteun en my studiereis betekenisvol maak," sê hy.

In antwoord op die vraag oor watse raad hulle aan eerstejaarstudente sou gee, keer die drieling terug na die lesse van hulle ma: bou ondersteuningstelsels, bly gedissiplineerd, wees jouself genadig en onthou jou reis is jou eie. 

Christine is dankbaar vir die geleenthede wat haar kinders by die Universiteit gehad het. "Dis so 'n voorreg om op kampus te werk terwyl my kinders hier studeer. Dit was lekker om almal oor naweke by die huis te hê."

Die drieling se prestasies is 'n groot bron van vreugde. "Miskien is ek net gelukkig, maar ek het nog nooit regtig probleme met my kinders gehad nie. Dit was nooit om 'n aandklokreël in te stel wanneer hulle saam met vriende uitgegaan nie. My kinders weet ek is altyd daar vir hulle, maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit is nie."

Verwante stories