#RegisterALL-veldtog: Alumni, studenteleiers span saam
"Ondersteuning van vrygewige Maties alumni asook die Universiteit Stellenbosch (US) se bestuurspan sedert die bekendstelling van die Studenteraad (SR) se #RegisterALL veldtog, beteken dat ons hindernisse van finansiële uitsluiting een rand op 'n slag kan afbreek. Dit verseker voorts dat Suid-Afrika nie 'n toekomstige dokter, prokureur, ingenieur of 'n opvoeder kwyt sal wees as gevolg van finansiële beperkinge nie." So sê me Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge by die US.
Die SR het die #RegisterALL-veldtog geloods om geldelike ondersteuning te bied aan studente, wat vir studies by die Universiteit aanvaar is, maar nie die aanvanklike studiegelde kan bekostig nie.
Volgens Bruns, is die totale behoefte onder studente in die omgewing van R13.4m vir 2016. Hierdie studente is akademies bekwaam en kwalifiseer vir finansiële bystand ingevolge die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS)-middeletoets, maar daar is geen beskikbare fondse om te verhoed dat hulle opskop nie.
"Ten spyte van die huidige finansiële klimaat ontvang ons daagliks skenkings en die fonds groei. Maties-alumni het tot op hede reeds R140 000 bygedra. Die Universiteit se bestuurspan ondersteun die veldtog en het reeds in hul persoonlike hoedanigheid bydraes gemaak en 'n beroep op ander US-personeel gedoen om ook te skenk of om engel-veldtogte binne hul onderskeie fakulteite te ondersteun." Prof Stan du Plessis, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het hom reeds verbind daartoe om 'n gereelde skenking aan die veldtog te maak.
"Die reaksie en volgehoue ondersteuning van alumni is verblydend. Dit is deur hulle bydraes - groot en klein - dat ons in staat is om in die toekoms van Suid-Afrika te belê," het prof Wim De Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê.
Volgens die SR-verteenwoordiger, Lianda du Plessis, het die proses om die geld aan studente toe te ken reeds begin. "Ons is opgewonde om 'n positiewe bydrae te maak en om 'n student se droom van tersiêre onderwys 'n werklikheid te maak," het sy bygevoeg.
Toekennings sal gemaak word via die Beurse en Lenings Kantoor van die Universiteit in die loop van die veldtog ten einde die spanning wat kan inbreuk maak op studentesukses te verlig.
Jy kan nog steeds 'n verskil maak:Rekeningnommer: 073 00 69 55Tak-nommer: 05 06 10Bank: Standard BankRekening: US deposito-rekeningVerwysing: RegisterALL H494