Die Biblioteek- en Inligtingsdiens op die Stellenbosch-kampus.
Universiteite bou Afrika se volgende generasie werkgewers — een entrepreneur op ʼn slag
- Afrika-universiteitedag word op 12 November gevier.
- Universiteite moet studente help om môre se werkgewers te word.
- Universiteite moet sentrums van innovasie wees.
Afrika-universiteitedag word jaarliks op 12 November gevier. In ʼn meningsartikel vir University World News skryf Anita Nel, Hoofdirekteur: Innovasie en Kommersialisering, dat dit universiteite se verantwoordelikheid — en hul grootste geleentheid — is om studente te help om die werkgewers van die volgende generasie te word.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder of klik hier vir die stuk soos geplaas. In nog 'n meningsartikel vir genoemde herdenkingsdag, wat op 13 November in die Mail & Guardian geplaas is, beklemtoon prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier, die rol van universiteite as enjins van maatskaplike vernuwing. Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier.
Anita Nel
Toe ek my loopbaan begin het, het die werk wat ek vandag doen, nie eens bestaan nie. Daardie realiteit op sigself behoort ons te herinner aan hoe vinnig die wêreld verander – en hoe belangrik dit is dat ons universiteite studente nie net vir bestaande rolle moet voorberei nie, maar ook vir dié wat nog verbeel moet word.
Die skranderste jong denkers stap die deure van die Universiteit Stellenbosch (US) en universiteite reg oor Afrika binne. Ons het gemiddeld drie tot vier jaar om wonderlike vaardighede aan hulle te onderrig. Ons omskep hulle in byna volmaakte werknemers – dié wat maatskappye graag wil hê. Maar my boodskap aan hulle is altyd: Hoekom wil jy ʼn werknemer wees as jy ʼn werkgewer kan word?
Ek sê vir US-studente hulle leer hier om probleme deur eerste-beginsels-denke op te los. Ek moedig hulle aan om waar te neem en op te let: die mense saam met wie hulle vandag studeer, sal eendag diegene wees wat maatskappye lei, beleid ontwerp en verandering oor die hele Afrika aandryf. Ek moedig hulle ook aan om hul bande met hierdie mense te behou – om saam te leer, saam te droom en saam te bou, want ons kontinent se jeug is sy kragtigste hulpbron. Die helfte van Afrika se bevolking is jonger as 20 en die werklike deurbraak sal kom wanneer universiteite en die bedryf saamwerk om potensiaal in vooruitgang te omskep.
Dis ons verantwoordelikheid – en ons grootste geleentheid – om hulle te help om die werkgewers van die volgende generasie te word. Dis iets waaroor ons moet nadink terwyl ons Afrika-universiteitedag op 12 November vier.
Om die Afrika-universiteit opnuut te verbeel
Universiteite kan nie meer in ivoortorings bly wat deur kerke en prinse geborg word en waar navorsing bloot ter wille van navorsing gedoen word nie. Om Afrika se unieke probleme aan te pak moet universiteite hulleself opnuut verbeel en soos besigheidsinnoveerders en entrepreneurs begin dink. Dit moet plekke wees waar kennis toegepas en nie net gepubliseer word nie.
Die Afrika-universiteit van die toekoms sal ʼn sentrum van innovasie wees wat idees van die klaskamer na die markplein bring. Studente sal hierdie ruimte met meer as bloot hul grade verlaat; hulle sal oor ʼn entrepreneursingesteldheid beskik, asook oor selfvertroue en die vermoë om te bou, te toets en tot stand te bring.
Universiteite, broeikaste en nywerhede
Om die gaping tussen navorsing en impak in die regte wêreld te oorbrug, het ons die US LaunchLab (die US se tegnologie- en entrepreneurskapbroeikas) tot stand gebring. Dis ʼn lewende voorbeeld van hoe vennootskappe van navorsing na die regte wêreld kan beweeg. Hier omskep ons teorie in florerende beginnerondernemings.
Sedert ons die LaunchLab meer as ʼn dekade gelede gestig het, het dit tot een van Suid-Afrika se voorste universiteitsgebaseerde entrepreneursekosisteme gegroei. Meer as 4 000 studente is deur die programme geïnspireer en ondersteun, terwyl ons meer as 400 besighede op hul pad van konsep tot onderneming gelei en afgerig het. In 2024 het hierdie ondernemings saam ʼn geraamde inkomste van R1 miljard se inkomste gegenereer en oor die afgelope jare het hulle beleggingsbefondsing van meer as R857 miljoen gelok.
Ons 44 afwentelmaatskappye het tans sowat 500 mense in diens, met ʼn gesamentlike omset van meer as R500 miljoen — en die meeste is nog in die beginnersfase. Dít is hoekom — wanneer universiteite en die bedryf saamwerk — ons nie skielik om middernag met twee muise en ʼn pampoen opeindig nie, maar met ʼn sprokiesagtige “gelukkige einde” saam met ʼn aantreklike prins.
Skep werkmakers
Ek glo Afrika se toekoms hang af van die skepping van werkmakers, eerder as werksoekers. Dis ons rol as universiteite om studente te help om hulself as toekomstige werkgewers en agente van verandering te beskou. Dis so eenvoudig soos dit.
Ons navorsers, entrepreneurs en studente verstaan plaaslike probleme – van gesondheidsorg tot volhoubaarheid – die beste en moet die leiding in die ontwikkeling van konteksgepaste innovasie neem.
As ons die aangesig van Afrika wil verander, moet ons op ʼn ander manier na ons studente, ons universiteite en ons vennootskappe kyk. Universiteite moet dapper genoeg wees om te innoveer. Die bedryf moet bereid wees om te belê en saam te werk. En broeikaste moet as brûe tussen die twee dien.
Nuwe denkwyses
Ons kan nie meer van korporatiewe maatskappye verwag om Afrika se werkkrisis alleen op te los nie. Ons hoef ons ook nie na die res van die wêreld te wend met vrae oor hoe ons ons probleme kan oplos nie. Niemand verstaan Afrika se probleme beter as Afrikane self nie. Myns insiens begin globale respek met plaaslike selfvertroue.
Dít was duidelik tydens die Covid 19-pandemie, toe Suid-Afrikaanse wetenskaplikes twee groot variante vroeg geïdentifiseer het. Ons het die vaardighede en kennis gehad, maar nie die vervaardigingskapasiteit vir entstowwe nie. Die les is eenvoudig: Ons het die talent, maar ons moet ons vermoëns saamvoeg. Universiteite en die bedryf kan – en moet – daardie gaping oorbrug.
By die US kweek ons ʼn kultuur van inisiatief in praktyk deur tegnothons, boot camps, mentorskapprogramme en entrepreneursuitdagings. Ons sien dit elke dag: Wanneer die bedryf en universiteite hierdie ervarings saam ontwerp, skep ons ʼn vrugbare ruimte waar nuwe ondernemings – en nuwe denkwyses – floreer.
Skep die toekoms deur netwerke
By die US weet ons dat elke jong mens wat ons bemagtig om ʼn onderneming te begin of ʼn werk te skep, ʼn impak oor families en gemeenskappe heen het. Ons glo dat eksponensiële groei ontsluit word wanneer ons netwerke, broeikaste en innovasiehubs skep wat studente, navorsers, entrepreneurs, bedryfsleiers en die gemeenskap verbind.
In ʼn poging om ʼn ekosisteem om ons universiteit te bou, het ons gevind dat die “membraan” redelik dik is — wat toegang vir buitestanders bemoeilik. Daarom het ons die Stellenbosch Netwerk aktief en doelbewus geskep – dis ʼn dinamiese liggaam wat al 400 lede het. Die netwerk bring township-entrepreneurs, uitvoerende hoofde, akademici, plaaslike owerhede en nieregeringsorganisasies byeen om idees te deel, mentorskap te bied en saam oplossings te vind. Dis ʼn ekosisteem van samewerking.
Laat innovasie tel
Ons moet anders na ons studente, ons universiteite en ons vennootskappe kyk. Universiteite moet dapper genoeg wees om te innoveer. Die bedryf moet bereid wees om te belê en saam te werk. En broeikaste moet as brûe tussen die twee dien.
Transformasie in Afrika sal spruit uit die idees wat ons by die huis bevorder: met elke student wat kies om eerder in diens te neem as om in diens geneem te word. Want met een werknemer of een entrepreneur op ʼn slag kan ons Afrika se aangesig werklik verander.
*Anita Nel is die Hoofdirekteur: Innovasie en Kommersialisering aan die Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika. Hierdie artikel is gebaseer op die toespraak wat sy onlangs by die 4de jaarlikse Nasionale Dialoog oor die Toekoms van Werk in Pretoria gelewer het.