Breadcrumb
Inleidende Studieleiding Kortkursus
Inleidende Studieleiding Kortkursus
Die Inleidende Studieleiding Kortkursus is ’n kursus wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) geakkrediteer is en jaarliks gratis vir akademiese personeel en nagraadse navorsingsgenote (postdoktorale genote) van die US aangebied word.
Hierdie Kortkursus, wat as ’n verkennende reis gekonseptualiseer is en oor ’n tydperk van vyf weke aangebied word, is gemik op die ontwikkeling van deelnemers se praktyk as ’n studieleier. Die kursus neem deelnemers op reis van die memorandum van ooreenkoms om studieleiding te gee en eindig wanneer die student gradueer. Die kursus is ontwerp met die globale hoëronderwys as konteks .
Die Kursus skop af met 'n ondersoek na die globale hoëronderwyskonteks. Insig in hierdie breër globale verskynsel is belangrik want:
- Ontwikkelings in die groter hoëronderwyskonteks het ’n invloed op die beleidskeuses wat nasionale regerings maak;
- Hierdie beleidskeuses beïnvloed die besluite wat universiteite neem wanneer hulle hul eie doelwitte en strategiese planne ontwikkel;
- Uiteindelik het ontwikkelings op makrovlak ’n direkte uitwerking op studieleiers en hul studente;
- Kontekstuele insig in hoe die hoër onderwys funksioneer, beïnvloed en gee vorm aan studieleiers se werk;
- Bewustheid van die groter konteks help studieleiers met ingeligte keuses oor hul reaksie op studieleidingsversoeke en hul uiteindelike praktyk as ’n studieleier.
Die kursus word in drie afdelings of fases verdeel:
- ‘Wegspring’ dek die aspekte wat deelnemers moet oorweeg wanneer ’n versoek om studieleiding ontvang word, en die belang daarvan om enige studieleidingsreis te begin met die daarstel van soliede verhoudings met ander studieleiers en die studente;
- ‘Onderweg’ fokus op deelnemers se praktyk as ’n studieleier, en hoe hulle op hul studente se behoeftes reageer en hulle ontwikkeling as navorsers begelei;
- ‘Aankoms’ verwys na die einde van die studieleidingsreis en ondersoek praktiese kwessies soos die benoeming van eksaminatore en steun aan studente sodat die eksamenproses as sodanig tot studente se leer bydra.
Teen die einde van die Kortkursus vir Studieleiers behoort deelnemers in staat te wees om:
- Bewustheid te demonstreer van hul verantwoordelikhede en eie behoeftes as ’n studieleier;
- ’n Verskeidenheid praktyke te identifiseer wat die ontwikkeling van graduandi-eienskappe rig;
- By te dra tot studente se ervarings van die eksamenproses as ’n vorm van leer.
- Sinchroniese leer: ’n Aantal video’s (PowerPoint-aanbiedings met stemkommentaar) en kort onderhoude met gevestigde studieleiers aan die US oor hul ervarings met studieleiding. Onderrigmateriaal word ondersteun deur twee aanlyn sessies per week via MS Teams.
- Asinchroniese leer: Alle sessies word opgeneem, en skakels na die opnames word verskaf. Die skakels is beskikbaar sodat deelnemers weer na spesifieke aspekte kan kyk vir selfstudie.
Om die leerproses te fasiliteer word deelnemers genooi om hul idees met mededeelnemers in die aanlyn forums te deel, en ook om via konstruktiewe gesprekvoering op mekaar se idees en kommentaar te reageer.
Die Kortkursus bestaan uit ’n verpligte openingsessie wat persoonlik bygewoon word (4 uur lank, gevolg deur middagete), 8 aanlynsessies, en asinchroniese selfstudieperiodes.
Die persoonlike openingsessie vind plaas op 16 Oktober 2026 van 09:00 tot 14:00 by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) op die Stellenboschkampus. Middagete word voorgesit.
Tydens die kursus vind daar sinchroniese (regstreekse) een uur lange sessies op ’n Maandag en Vrydag plaas (altesaam 8 uur se regstreekse besprekingsessies via MS Teams). ’n MS Outlook-kalenderuitnodiging word vir elke sessie uitgestuur. Die doel van hierdie sessies is om met die kursusmateriaal om te gaan deur vrae en scenario's saam met die fasiliteerders en mededeelnemers te bespreek.
Deelnemers moet die kursusmateriaal, onder meer opnames, video’s en leesmateriaal, op SUNLearn deurwerk. Maak seker dat u die materiaal gedurende die week afhandel en aan die SUNLearn-besprekingsforum deelneem ter voorbereiding vir die aanlyn bespreking.
Deelnemers se leer word geassesseer via ’n refleksiewe opstel wat ingedien moet word. Die assesseringsopdrag is ontwerp as ’n spasie waar deelnemers kan nadink oor die idees wat in die kursus gelug is en insig verkry in hoe hulle die idees in hul praktyk as ’n studieleier kan toepas.
Demonstrasie van deelnemers se vermoë om aan die uitkomste te voldoen in die vorm van bewyslewering dat hulle:
- Ingeligte besluite oor die aanvaarding, al dan nie, van ’n student kan neem;
- Aan besprekings met ander studieleiers en studente oor die aard van die studieleiding kan deelneem;
- Kan bydra tot die ontwikkeling en voortgesette hersiening van ’n memorandum van ooreenkoms wat die studieleiding rig en goeie verhoudings bevorder;
- Kan bydra tot die ontwikkeling van studente se graduandi-eienskappe, soos deur die Kwalifikasiestandaard vir doktorale grade bepaal word;
- Kan bydra tot studente se ontwikkeling as akademiese outeurs;
- Betekenisvol kan bydra tot die benoemingsproses van eksaminatore;
- Ondersteuning kan verleen deur studente met die eksamineringsproses by te staan sodat dit tot hul voortgesette leer kan bydra.
’n Finale beoordeling vind plaas in die vorm van ’n refleksiewe opstel van ongeveer 2 500 tot 3 000 woorde wat na die laaste aanlyn sessie op 16 November 2026 ingedien moet word.
Deelnemers kan kies om te reflekteer oor hoe hul sienings of aannames oor ’n spesifieke onderwerp verander het van voor die aanvang van die kursus tot en met hulle betrokkenheid daarby; of hulle kan die idees en praktyke wat bespreek is ondersoek aan die hand van (i) hul eie ervaring as ’n student, of (ii) hul huidige of toekomstige rol as ’n studieleier.
Vul asseblief hierdie vorm in ter aanduiding van u voorneme om vir die Kortkursus vir Studieleiers registreer. Aangesien die aantal plekke beperk is, is registrasie onderworpe aan beskikbaarheid. Die Kursuskoördineerder sal u nader om u registrasie te bevestig indien daar plek beskikbaar is.
In lyn met NKV-vlak 8, ses krediete, en 60 nosionele ure
- 5 uur in persoon kontaktyd.
- 8 × 1 uur aanlyn kontaksessies.
- Selfstudie deur met die kursusmateriaal om te gaan (kyk na video's, werk deur gevallestudies en dokumente).
- Deelname aan die aanlyn besprekingsforum.
- Reflektiewe opstel.
Die Kortkursus vir Studieleiers word gefasiliteer deur kundiges in die veld van studieleiding:
- Prof. Chrissie Boughey, ’n voormalige viserektor aan Rhodes-universiteit en tans ’n emeritusprofessor aan die Universiteit Stellenbosch; en
- Dr Nompilo Tshuma, ’n senior lektor wat spesialiseer in navorsing oor nagraadse studieleiding en verwante velde by die Departement Kurrikulumstudies en die Sentrum vir Hoër en Volwassene-onderwys in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US.
| 16 Oktober tot 16 November 2026 | ||||
| Oorsig van kursusdatums | ||||
| Maandag | Dinsdag | Woensdag | Donderdag | Vrydag |
16 Okt. 2026 Persoonlik @ STIAS 09:00-14:00 Inskakeling | ||||
20 Okt. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Inskakeling | 21 Okt. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Wegspring | 22 Okt. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Wegspring | 23 Okt. 2026 Aanlyn 13:00-14:00 | |
26 Okt. 2026 Aanlyn 13:00-14:00 | 27 Okt. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Wegspring | 28 Okt. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Onderweg | 29 Okt. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Onderweg | 30 Okt. 2026 Aanlyn 13:00-14:00 |
2 Nov. 2026 Aanlyn 13:00-14:00 | 3 Nov. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Onderweg | 4 Nov. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Onderweg | 5 Nov. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Aankoms | 6 Nov. 2026 Aanlyn 13:00-14:00 |
9 Nov. 2026 Aanlyn 13:00-14:00 | 10 Nov. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Aankoms | 11 Nov. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Aankoms | 12 Nov. 2026 Asinchroniese selfstudie van SUNLearn-materiaal Aankoms | 13 Nov. 2026 Aanlyn 13:00-14:00 |
16 Nov. 2026 Aanlyn 13:00-14:00 Indiening van werksopdrag | ||||