Skip to main content
Sibulele Tonisi graduates
Image by: Henk Oets

Vir Sibulele Tonisi het ’n loopbaan in die wetenskap gedurende sy kinderjare in die Kaapstadse township Mfuleni ligjare ver gevoel. 

Persverklaring Toekennings en mylpale

Van Mfuleni tot meester in biochemie – US-gegradueerde kom oormag te bowe

Anél Lewis
Senior journalist
02 April 2026
  • Sibulele Tonisi se nuuskierigheid oor wetenskap en ʼn TV-program het hom van Mfuleni na ʼn meestersgraad in biochemie gelei.
  • Hy het die US vanweë akademiese uitnemendheid gekies.
  • Tonisi het sy graad ondanks finansiële probleme voltooi.

Vir Sibulele Tonisi het ’n loopbaan in die wetenskap gedurende sy kinderjare in die Kaapstadse township Mfuleni ligjare ver gevoel. Tóg het hy onlangs (24 Maart) met ʼn meestersgraad in biochemie aan die Universiteit Stellenbosch (US) gegradueer.

Hy hoop sy reis sal ander jongmense uit soortgelyke gemeenskappe inspireer om te glo in hulle vermoë om sukses te behaal.

Tonisi se nuuskierigheid oor wetenskap het gedurende sy hoërskooljare aan die Hoërskool Mfuleni begin. “Wanneer ek terugkyk, besef ek die grondslag vir my belangstelling in biologiese navorsing is reeds daar gelê,” merk hy op.

Lewenswetenskappe het hom gefassineer en sy belangstelling is verder deur die TV-program Body Bizarre aangevuur. Om te aanskou hoe wetenskaplikes en chirurge saamwerk om komplekse mediese uitdagings op te los, het hom geïnspireer om tot wetenskaplike ontdekkings by te dra.

Hy het menslike lewenswetenskappe aan die US gaan studeer, met biochemie en fisiologie as hoofvakke. Hy het dié Universiteit gekies danksy die US se reputasie vir akademiese uitnemendheid en die bewese vermoë om goed afgeronde, bekwame gegradueerdes op te lewer. 

In sy honneursjaar is hy aan navorsing in die laboratorium van prof Donita Africander bekendgestel met ’n fokus daarop om die molekulêre meganismes van progestogene wat in voorbehoeding gebruik word, te verstaan. 

Sy navorsingsonderwerp het op ’n persoonlike vlak by hom aanklank gevind, omdat van sy familielede voorbehoeding gebruik sonder om altyd van die potensiële newe-effekte bewus te wees. Onder toesig van Africander, en danksy finansiële ondersteuning van die US se Nagraadse Beursprogram en aanvullende finansiering van die Nasionale Instituut vir Gesondheid, het hy in 2024 met sy meestersgraad begin.

Vertragings in beursuitbetalings in sy honneursjaar het egter tot finansiële uitdagings gelei. Ondanks tye sonder enige geld, het Tonisi gefokus en vasbeslote gebly om sy graad binne die tweejaar-tydsraamwerk te voltooi.

Hy skryf die voltooiing van sy MSc toe aan deursettingsvermoë en die aanmoediging en vertroue van diegene rondom hom – veral sy ma, wat hom op haar eie grootgemaak het nadat sy pa oorlede is voordat hy skool toe is.

Ofskoon sy ma die primêre rol in sy opvoeding gespeel het, het beide sy ouers van jongs af die oortuiging by hom ingeprent dat opvoeding die sleutel tot sukses in die lewe is. “Aan my familie, vriende, onderwysers, mentors en toesighouer wat in my geglo het, ek eer jul opofferings, tyd en beleggings in my reis,” sê hy.

Met die oog op die toekoms hoop Tonisi om ’n PhD te verwerf, maar vir eers soek hy werk om ondervinding op te doen.

Verwante stories